Browsed by
Tag: gesondheidsorg

Aftreeroeping – The Goodness Project

Aftreeroeping – The Goodness Project

Die afskeid was net die begin van iets groot en goed

Dit was met ’n dankbare, maar ook hartseer hart dat ek twee jaar gelede vir Marna vir oulaas in Zürich gegroet het. Ons het mekaar hier in Switserland leer ken. Ons mans het vir dieselfde werkgewer in die gesondheidsorgbedryf gewerk, maar Woensdae was óns dag. Ons het saam op die trein geklim en dorpie vir dorpie, ’n bietjie meer van Switserland en sy asemrowende omgewing ontdek.

Terwyl die landskappe by die treinvenster verbygegly het, het die gesprekke gevloei. Ons het gelag en gedroom, oor ons kinders, uitdagings en bekommernisse gepraat. Soms het ons net geluister. Daar was iets besonders daaraan om iemand te hê wat verstaan het en ook die vreemde, wonderlike en soms moeilike realiteit van ’n lewe in ’n ander land beleef het.

Ek was toe onbewus daarvan dat hierdie vriendin, kort voor lank, saam met haar man op ’n heel ander reis sou vertrek. ’n Reis met die potensiaal om lewens in Suid-Afrika te verander.

’n Nuwe perspektief op mediese sorg

Marna se man, Wimpie, het sy lewe lank in die gesondheidsorgbedryf gewerk. Oor jare het hy ’n skatkis van kennis, ervaring en kontakte opgebou, veral in Suid-Afrika.

Switserland het egter ’n nuwe perspektief op gesondheidsorg gebring. Hier is mediese versekering verpligtend vir almal wat in die land woon of werk. Dit beteken dat mense toegang het tot ’n hoë standaard van mediese sorg. Dit is iets wat nie oral in die wêreld vanselfsprekend is nie.

ʼn Vraag het in Wimpie se hart begin groei: “Here, hoe kan ek dit wat ek weet, gebruik om ’n verskil te maak vir mense in Suid-Afrika wat nie toegang het tot privaat sorg nie?” Daardie vraag het uiteindelik ʼn roeping geword.

The Goodness Project

Toe Wimpie se korporatiewe hoofstuk tot ’n einde kom, het hy en Marna geweet: Dit is tyd. Tyd om terug te gaan.  Tyd om te bou. Tyd om goedheid te laat gebeur. So is The Goodness Project gebore. Dit is ’n organisasie wat openbare en private gesondheidsorg met mekaar verbind om chirurgiese kapasiteit te ontsluit, wagtye te verkort en staatspasiënte toegang tot lewensveranderende sorg te gee. Onlangs het die organisasie deel geword van ’n publiek-private vennootskap wat heup- en knie-artroplastie vir staatspasiënte moontlik maak.

Sorg gaan egter oor meer as net die fisiese liggaam. Elke pasiënt se siel en gees tel ook. Daarom bied hulle, saam met die operasie, ’n opsionele Goodness Care & Support Program aan wat emosionele én geestelike ondersteuning insluit. Marna en Wimpie was aangenaam verras deur die oorweldigende gretigheid waarmee pasiënte daaraan wou deelneem.

Vir baie mense is ’n gewrigsvervanging die verskil tussen afhanklikheid en waardigheid, tussen oorleef en leef. Dit gaan oor ’n ma wat weer vir haar gesin kan sorg. ’n Pa wat weer kan werk. Iemand wat weer sonder voortdurende pyn kan beweeg en weer hoop kan kry.

Die eerste twee operasies

Hulle visie het in Augustus vlees en bloed geword: twee mense, twee heupvervangingsoperasies, twee lewens wat vir altyd verander is. Chirurge van Tygerberg-hospitaal en Mediclinic Louis Leipoldt het die operasies uitgevoer. Dit is ’n samewerking wat wys wat moontlik is wanneer mense met kundigheid én hart saamwerk.

Marna het my gevra om deel te wees van ’n gebedsgroep vir die pasiënte. Ons het elkeen van ’n ander plek af gebid, maar met dieselfde twee mense in gedagte. Hulle stories het ons diep geraak: die pyn, die verlies aan inkomste, die druk om vir ’n gesin te sorg terwyl jou eie liggaam jou in die steek laat.

Toe die nuus kom dat die operasies goed verloop het, het dit gevoel asof ’n hele groep mense saam asem uitgeblaas het. Die bal is aan die rol, en daar vind nou weekliks heup- en knievervangings plaas wat nie net individue nie, maar hele families se lewens verander. Selfs vir my, wat net van ver af inligting ontvang en saambid, het dit ’n groot impak gehad. Ek kon eerstehands sien hoe God deur mense werk.

“It can only be God”

Een van die eerste pasiënte het na sy operasie ’n stemboodskap gestuur om sy dankbaarheid uit te spreek:

“I want to thank the doctors from Tygerberg Hospital and the Goodness Project team. I nearly lost my faith in God. When you guys came to me and told me that I was chosen by the team, I drew myself back to God, because it can only be Him. It can only be God. I want to thank you guys, for everything. Thank you.”

Hierdie operasie kan vir hom die begin van ’n nuwe lewe wees — fisies, emosioneel én geestelik.

’n Roeping vir die Aftreehoofstuk

Wimpie en Marna se nuwe opdrag is groot. Die pad was nie maklik nie. Daar was nuwe vaardighede om te leer, administrasie om te bemeester en oomblikke waar hulle ver buite hul gemaksone moes beweeg.  Tog is hulle diep daarvan bewus dat hulle bloot instrumente in hulle Skepper se hande is en dat volgehoue gehoorsaamheid van hulle verwag word om hierdie roeping uit te voer.

Wanneer ek na hulle reis kyk, sien ek twee mense wie se hele lewens hulle vir hierdie seisoen voorberei het. Wimpie bring sy kennis, sy netwerk, sy ervaring. Marna bring haar kreatiwiteit, haar kommunikasievaardighede, haar hart vir mense. Saam bring hulle ’n onwrikbare geloof in God se groter plan.

Met volharding en gehoorsaamheid het die regte mense, met die regte harte en kennis, oor hulle pad gekom. Die impak strek reeds ver verby gesondheid alleen. Dit wys wat moontlik is wanneer die openbare en private sektor hande vat en mense bereid is om hulle kennis en ervaring in te span om ’n verskil te maak.

Dit herinner ons daaraan dat aftrede nie die einde van betekenisvolle werk is nie. Soms is dit die begin van die werk waarvoor jy jare lank voorberei is.

Die roeping in jou hand

Ons hoef nie altyd iets nuuts te gaan soek om ’n verskil te maak nie. Soms lê ons volgende roeping reeds in ons hande — in die ervaring wat ons oor jare opgebou het, die mense wat ons ontmoet het en die gawes wat ons ontvang het.

Die vraag is eenvoudig: “Here, hoe kan U dit wat ek het, gebruik om iemand anders se lewe beter te maak?”  Daardie vraag kan die begin wees van iets veel groter as wat jy ooit kon droom.

Groete

Emsia