Griekeland bly roep ons terug

Griekeland bly roep ons terug

‘n Verpaste veerboot in Athene

Ons EasyJet-vlug vanaf Londen het net ná sonsopkoms in Athene geland. Ek het deurnag gewerk en reguit van die kantoor af lughawe toe gegaan.  Die opgewondenheid van ‘n welverdiende vakansie het die moegheid laat verdwyn, die oomblik to ons van die vliegtuig afklim.

Met die uitstap na buite het dit gevoel asof iemand die oond se deur wawyd oopgelos het. Ons taxibestuurder het, met Griekse musiek oor die luidsprekers, deur die oggendverkeer gejaag asof hy aan ‘n Formule 1-wedren deelneem.

Ons het die vakansie sorgvuldig beplan met ‘n tent, rugsakke, besprekings en selfs ‘n kleurgekodeerde reisplan. Daar was net een ding waarvoor ons nie voorsiening gemaak het nie: om die veerboot te verpas.

Uitasem het ons by die kaartjiekantoor ingestorm. “Die veerboot het reeds vertrek,” was die man agter die toonbank se woorde. “Wat bedoel jy dit het vertrek?” Hy het na my sorgvuldig voorbereide reisplan gekyk en aanbeveel. “Verander jou plan.”

Drie woorde ons manier van reis verander

Dit was dertig jaar gelede, maar daardie drie woorde het my nooit verlaat nie. Elke keer wanneer die lewe my met ‘n toe deur of ‘n onverwagte ompad konfronteer, dink ek terug aan die Griekse man agter die kaartjietoonbank.

Destyds het ek gedink hy gee bloot reisadvies. Ek het eers later besef dit was ‘n eenvoudige les oor hoe ‘n mens deur die lewe behoort te beweeg.

Hoekom Griekeland ons aanhou terugroep

Sommige plekke beïndruk jou een keer. Griekeland het stilweg deel van ons lewensverhaal geword.

Dit is nie net die asemrowende natuurskoon wat ons telkens teruglok nie; dit is die mense. Keer op keer het ons ‘n stille gasvryheid ervaar wat niks terugverwag nie. Families verwelkom vreemdelinge soos ou vriende. Mense geniet etes stadiger en die lewe voel net eenvoudiger. In daardie rustige oomblikke besef jy hoe skaars opregtheid geword het.

Gesinsherinneringe in Griekeland

Toe ons oudste seun, Jacques, net 13 maande oud was, het ons saam met hom in Griekeland gaan kamp. Elke aand het ons na die plaaslike taverna gestap vir Griekse slaai, vars brood en tzatziki. Sodra die musikante begin speel het, het Jacques waggelend die dansvloer ingevaar. Die ander gaste het geglimlag, hande geklap en sy klein danspassies deel van die aand se vrolikheid gemaak.

By die kampterrein het studente tot laatnag gesels en gelag. Wanneer hulle uiteindelik stil geraak het, het Jacques oorgeneem. Gewapen met ‘n klippie en ‘n leë Coke-blikkie het hy met sonsopkoms sy eie perkussiekonsert begin en die stil oggend met dieselfde entoesiasme begroet waarmee hy die vorige aand gedans het.

Met ons terugkeer na Kaapstad het ons uitgevind dat Jacques ‘n boetie gaan kry. Ons het hom Christo genoem. Hoewel dit ‘n familienaam is, het dit nog meer betekenis gekry omdat dit afkomstig is van die antieke Griekse woord Christos, wat “die Gesalfde” beteken. Oral in Griekeland word jy daaraan herinner dat hierdie landskappe deel van die Nuwe Testament wêreld was.

Jare later, tydens die COVID-pandemie, het ons weer teruggekeer. Dit was toevallig tydens die FIFA Wêreldbeker. Gaste van verskillende lande het saam op die grasperk by ons verblyf vergader om die wedstryde te kyk. Vir ‘n paar uur het vreemdelinge vriende geword.

Hoekom ons Kefalonia gekies het

Ons afgelope vakansie het oor meer gegaan as net nog ‘n mooi eiland. Ons het rus nodig gehad, tyd om te dink en geestelik voor te berei vir ‘n nuwe seisoen van afsluiting, nuwe begin en verandering. Kefalonia was presies wat ons nodig gehad het.

Die Griekse gasvryheid het sigbaar geword in die twee pragtige huisies waar ons gebly het. Ons gashere het ons bederf met bottels plaaslike Robola-wyn, sonryp perskes, druiwe, spanspek en tuisgemaakte baklava. Elke besoek het geëindig met dieselfde vraag: “Is alles reg? Het julle enigiets nodig?” Dit het nooit soos kliëntediens gevoel nie; eerder soos opregte vriendskap.

Ons eerste huisie het aan ‘n Belgiese egpaar behoort wat hul winters op die eiland deurbring. Binne was ‘n kas vol bordspeletjies. Gou het ons aande ontaard in uiters mededingende Scrabble-wedstryde. Die stel was in Frans, daarom het ons besluit dat woorde uit enige taal sou tel.

Met ons aanbeweeg na die tweede huisie, wou ons die kompetisie voortsit. Charl het die grootste speelgoedwinkel in Argostoli gebel en was verheug om te hoor dat hulle Scrabble in voorraad het. Nadat ons oor die berge en dwars oor die eiland gery het, het ons die boks triomfantlik oopgemaak. Elke letter was Grieks. Ons kon net lag. Ek het nuwe waardering vir die Grieke ontwikkel wat meer as een alfabet moet aanleer.

Kefalonia se mooiste plekke

Kefalonia voel asof die natuur besluit het om haar mooi te vertoon. Berge tuimel af na ongelooflik blou see, woude bedek die heuwels en agter byna elke draai wag ‘n versteekte baai.

Myrtos-strand

Toe ons bo-op die krans by Myrtos-strand staan, was ons sprakeloos. Onder ons het die see geskitter in skakerings van turkoois en saffier, omraam deur indrukwekkende wit kranse. Die kronkelpad af strand toe was amper net so onvergeetlik soos ons eerste swem.

Melissani-grot

Die Melissani-grot was ewe betowerend. Sonlig het deur die ineengestorte dak gestroom en die ondergrondse meer in vloeibare saffier verander. Terwyl ons roeibootjie oor die kristalhelder water gegly het, het dit gevoel asof ons in die lug dryf.

Argostoli en die karetseeskilpaaie

In Argostoli het ons oor die historiese De Bosset-brug gestap en afgekyk na bedreigde karetseeskilpaaie wat rustig deur die helder hawewater geswem het.

Fiskardo – ‘n Dorpie waar tyd stil gaan staan het

Een van my gunstelingplekke bly Fiskardo, een van die min dorpies wat die verwoestende aardbewing van 1953 oorleef het. Die kleurvolle Venesiaanse geboue en blomryke waterfront laat dit voel asof tyd daar stadiger verloop.

Antisamos-strand en Captain Corelli’s Mandolin

Naby ons huisie was Antisamos-strand, bekend uit die film Captain Corelli’s Mandolin. Ek het die fliek jare gelede geniet. Dit het soos ‘n klein geskenkie gevoel om die DVD op die rak van ons huisie te ontdek, asof die eiland ons stilweg aan sy eie verhaal herinner.

‘n Bootvaart om die Mitiese Ithaka

Een van die hoogtepunte van ons vakansie was ‘n bootvaart om die naburige eiland Ithaka, die legendariese tuiste van Odusseus. Terwyl ons verby afgesonderde baaie en rotsagtige kuslyne gevaar het, was dit maklik om te verstaan hoe hierdie landskap die Griekse mites geïnspireer het.

Twee keer het die kaptein eenvoudig die boot gestop en almal genooi om in die glashelder see te spring. Later het ons rustig middagete geniet in slaperige vissersdorpies waar niemand haastig was nie. Daardie stadige lewenstempo het gou aansteeklik geword.

Wat Griekeland ons geleer het

Dertig jaar gelede, in ‘n besige kaartjiekantoor in Athene, het ek gedink “Verander jou plan” is die slegste reisadvies wat ek nóg ontvang het. Vandag weet ek beter.

Van ons grootste avonture, kosbaarste herinneringe en diepste vriendskappe het ontstaan toe ons planne nie uitgewerk het soos ons verwag het nie. Griekeland het ons geleer om stadiger te leef, ruimhartige mense raak te sien en te vertrou dat die onverwagte ompaaie dikwels die mooiste deel van die reis word.

Miskien is dit waarom Griekeland ons telkens terugroep. Dit is nie net die turkoois see, die bergdorpies of die eindelose somersaande nie. Dit is die herinnering dat, terwyl ons ons eie planne maak, die lewe dikwels ‘n mooier verhaal skryf as wat ons ooit self sou kon uitdink.

En wanneer die plan verander, probeer ons saam verander.

Groete

Emsia

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui