Verandering ontwikkel ons veerkragtigheid

Verandering ontwikkel ons veerkragtigheid

Verandering is iets wat ons almal gedurende ons lewens sal ervaar. Ons ervaar veranderinge in ons werk, verhoudings, gesondheid, gemeenskap en die wêreld. Soms beplan ons ‘n verandering en is ons bewus daarvan dat ‘n verandering gaan plaasvind. In baie gevalle verskyn die verandering egter onverwags voor ons deure en verras ons.

Ons vermoë om verandering positief te hanteer, word veerkragtigheid genoem. Op die sportveld bepaal jou fiksheid hoe vinnig jy herstel ná intensiewe oefening. Op dieselfde manier sal jou veerkragtigheid bepaal hoe effektief jy geestelik en emosioneel sal herstel ná lewensveranderende gebeure. Gelukkig kan ons ons vermoë om verandering te hanteer oefen en verbeter.

Verandering het fases

Volgens kenners bestaan ​​verandering uit drie fases. Die eerste fase is afhandeling, afskeid en afsluiting met gepaardgaande verlies en verligting. Tweedens is die tussen-fase, soos die sweefstok kunstenaar in die sirkus wat die sweefstok aan die een kant los, maar onseker is of die sweefstok op die regte tyd en plek aan die ander kant sal wees. Die derde fase is die nuwe begin. Dit bring gewoonlik ‘n element van opwinding maar ook die onsekerheid of jy die nuwe uitdaging kan hanteer.

Refleksie op my eie lewensveranderinge

Verlaat die nes

My eerste betekenisvolle verandering was toe ek my ouerhuis ná skool verlaat het. Die afstand en aanpassing by koshuis- en universiteitslewe het my op baie maniere uitgedaag. Aan die einde van my eerste jaar was ek 15 kg swaarder en al my nuwe klere te styf. Elke keer as ek moet aanpas by verandering as ‘n volwassene, verskyn ek as ‘n verwarde student in my drome en weet nie wat aangaan of watter klas ek moet bywoon nie. In my drome het ek baie universiteite wêreldwyd besoek as ‘n verwarde en onseker student.

Werk in Londen

Ons het as jong volwassenes in Londen gaan werk. Hierdie aanpassing was op ʼn volgende vlak en ek was uit my diepte. My grootste probleem was dat ek nie behoorlik Engels kon praat nie. Boonop was die stadslewe en die grys weer vir my as Kalahari-kind aansienlike aanpassings. Londen het my egter gehelp om myself beter te leer ken en my deursettingsvermoë en veerkragtigheid te verbeter.Ek vertel meer oor my ervaring in Engeland in my brief getiteld Taaltameletjie.

Egskeiding en hertroue

My aanpassing as ‘n geskeide vrou met twee klein seuntjies was uitdagend op ‘n praktiese en sosiale vlak. Ons het mettertyd ‘n nuwe roetine gevind, en ek het nuwe huis- en tuinonderhoudsvaardighede aangeleer. Ons het net begin gemaklik raak in ons nuwe roetine toe Charl deel van ons prentjie begin vorm. Charl se aanpassing was enorm, want hy moes skielik twee seuns help grootmaak al het hy nog nooit in ‘n huis met kinders gewoon nie. Hy het nie die vaagste benul gehad waarvoor hy homself ingelaat het nie.

Verhuising na Switserland

Aanpassing in Switserland is ons mees onlangse groot verandering. Ek het in my brief oor Leefstyl veranderinge in Switserland meer daaroor gedeel. Ek weet wel dat elke verandering en aanpassing wat ek met tyd moes maak, het my help voorberei het vir die aanpassing in ‘n nuwe land.  Wie weet watter veranderinge in die toekoms op my wag?

Veerkragtigheid gedurende verandering

Ek het geleer dat die volgende help met veerkragtigheid terwyl ons deur verandering gaan:

  • Identifiseer die aspekte waaroor jy wel beheer het. Dit is maklik om verstrengel te raak in die baie situasies wat jy nie kan beheer nie. Dit is dus van kritieke belang om geleenthede te soek om jouself te bemagtig om aan verandering te werk.
  • Sien verandering as ‘n geleentheid. Veranderinge laat jou toe om jou prioriteite te heroorweeg. Jy kan besluit hoe om jou tyd te spandeer en wat vir jou belangrik is.
  • Wees jou eie beste vriend en sorg goed vir jouself. Dit is normaal om emosioneel te voel tydens verandering. Dit is nodig om geduldig met jouself te wees en met bewustheid te leef. Jy moet oor jou denkpatrone reflekteer en rasionele denke verseker. Beide roetine en gereelde fisiese oefening het ‘n positiewe impak.
  • Praat met iemand. Wanneer jy al jou baie gedagtes aan iemand probeer verduidelik, help dit met jou perspektief, en voel jy ligter. As jy nie gemaklik is om met vriende of familie te gesels nie, is jy welkom om my te kontak as onafhanklike coach. 

Sterkte as jy besig is om met verandering te stoei.

Groete

Emsia

2 thoughts on “Verandering ontwikkel ons veerkragtigheid

  1. Emsia
    Pragtig geskryf en jou persoonlike ervarings bring geloofwaardigheid.
    Dankie en voorspoed op jou pad van verandering.
    Frikkie “Verander” (‘n Bynaam wat ek in my bediening gekry het, omdat ek as gelowige aanvaar – en predik – dat ons op geestelike vlak, voortdurend moet verander – elke dag, elke oomblik, sonie, stagneer ons geloof)

    1. Ek hou van Oom se bynaam en dink dit is baie gepas! Ek stem 100% met die siening saam

Comments are closed.

Comments are closed.