Die genesende krag van stories

Die genesende krag van stories

Ek het nog altyd ‘n diep liefde vir stories gehad. My vroegste herinneringe sluit die slaaptydverhale wat my ma vir my gelees het en die radiostories waarna ek soggens geluister het in. My pa se staaltjies oor hulle koshuismanewales het my laat lag. Dit het my ook gehelp om die jong en waaghalsige tiener wat my verantwoordelike en streng pa eens was, te leer ken. Deesdae vind ek my genot en soms lewenslesse en insig in boeke, flieks en ander mense se stories.

Die belangrike rol van stories in my lewe

Ek het lank gelede die belangrike rol wat stories in my lewe speel, besef. Hoe ek gebeure en situasies onthou, beïnvloed hoe ek daaroor voel asook my gedrag. Verhale oor gedeelde ervarings bevorder dikwels ‘n gevoel van konneksie en kan selfs vreemdelinge in vriende verander. Navorsing toon dat storievertelling verskeie breindele aktiveer en ons geheuevermoëns verbeter.

Om gereelde briewe huis toe te skryf, dwing my om gebeure in my lewe in stories te omskep. Verskeie verhale word gekenmerk deur positiwiteit, vreugde en kalmte, terwyl ander onsekerheid, teleurstelling en verlies bevat. Binne hierdie stories oordink ek die lesse wat ek geleer of insigte wat ek verkry het. Ek het geleer om nie ‘n persoonlike storie met ander te deel totdat ek al die gebeure en uitkomste self verwerk het en ‘n gevoel van vrede daaroor bereik het nie.

Narratiewe Terapie

Ek het vyftien jaar gelede ’n life coaching kursus voltooi. Dit was net voor my oudste twee seuns hulle tienerjare betree het en ek wou myself as ma so goed as moontlik vir hierdie fase voorberei. Hierdie life coaching diploma was een van die beste beleggings in myself. Dit het my gehelp om deur die seer en teleurstellings wat ek saamgedra het, te werk en my in staat gestel om my seuns se tienerjare met groter gereedheid en begrip te benader.

Ek het verlede jaar op die Narratiewe Pastorale Terapie-kursus wat deur Caritas in Mosselbaai aangebied word, afgekom. Ek het geweet dat dit iets sou wees waarby ek kan baat, aangesien dit stories in terapie gebruik. Teen die einde van die jaar het my Suid-Afrikaanse vriendin Marna, wat ook in Switserland woon, my ingelig dat ons vanaf Switserland aanlyn aan die kursus kan deelneem. Ons het in Februarie met ons dik truie aan die Zoom-sessies in Afrikaans in Mosselbaai deelgeneem,  terwyl die ander deelnemers gesukkel het om koel te bly in die Suid Afrikaanse somerhitte.

In Narratiewe Terapie leer ons om die Persoon en die Probleem te skei. Die Probleem moet nie deel van die persoon se identiteit vorm nie. Die Probleem het ‘n identiteit van sy eie. As ons die Probleem en sy taktiek deur stories beter verstaan, kan ons onsself makliker van die Probleem distansieer.

Dit het my gehelp om die Swart Hond-metafoor vir depressie in `n ander lig te sien. Die metafoor verteenwoordig hoe depressie sy eienaar soos ‘n lojale skaduwee volg. Winston Churchill het die term Swart Hond gewild gemaak. Hy het sommige van sy struikelblokke en oomblikke van onaktiwiteit op sy Swart Hond geblameer.

Onkruid in my tuin

Baie jare gelede het ek bitterheid in my lewe ervaar. Ek het ‘n storie gelees wat ‘n parallel geskep het tussen negatiewe gedagtes en onkruid in ‘n tuin. Die onkruid vermeerder en vervang die blomme en struike as jy nie vinnig daarvan ontslae raak nie. Met my liefde vir blomme en tuinmaak het die storie by my aanklank gevind. Ek kon my helder voorstel hoe bitterheid al my vrede en vreugde verdring.

Gedurende die lente het onkruid ons uitgestrekte grasperk bedek. Vasbeslote om die spasie terug te eis, het ek ‘n naweek aan onkruidverwydering gewy. Aan die einde van die naweek was my lyf moeg en seer, maar al die onkruid saam met my bitterheid, het op ‘n groot hoop gelê. Ek het die onkruidhoop aan die brand gesteek om vir altyd daarvan ontslae te raak. Die krag van die metafoor en die fisiese oefening was vir my uitstekende terapie.

Ons het outeursreg op ons eie stories

Die narratiewe wat ons oor onsself skep, bestaan nie in isolasie nie. Omstandighede en interaksies met ander vorm dit. Wanneer iemand ons swak behandel, hang hul negatiewe invloed dikwels in ons selfpersepsie. Ons kan nie altyd die stories wat ander oor ons het, verander nie, maar ons kan die stories wat ons oor onsself en diegene vir wie ons omgee vertel, beïnvloed.

Ons besit die outeursreg op ons stories. Dit is belangrik dat ons die storielyne wat ons identiteit definieer, herwerk en herskryf.

Stories help ons om mekaar beter te leer ken

Ek dink dit is goed dat ons, wanneer ons gemaklik is daarmee, ons stories met mekaar deel. Dit help ons om mekaar op `n dieper vlak te leer ken.

Wanneer ons ons stories deel, word ons herinner aan die menslikheid in mekaar. Wanneer ons die tyd neem om mekaar se stories te verstaan, word ons meer vergewensgesind en het ons meer deernis en empatie met mekaar.

Groete

Emsia

Comments are closed.