Genade kom in verskillende vorme

Genade kom in verskillende vorme

Met my aankoms vir ‘n kort besoek aan Suid-Afrika, het my voormalige Wiskunde-onderwyseres, Elsa van Rensburg, my en my ma na haar plaas genooi. Vergesel deur verskeie vroue wat belangrike rolle in my kinderjare gespeel het, het ons Kersliedere gesing en persoonlike staaltjies gedeel wat die genade in ons lewens onderstreep.

Groot genade kom dikwels in die vorm van mense, geleenthede en situasies in uitdagende tye.

Elsa se storie van genade onbeskryflik groot

Elsa se storie van ontsaglike genade het my getref. Haar plaas het op tragiese wyse kort voor ons besoek afgebrand. Sy was nie tuis tydens die brand nie. Talle mense het op verskeie maniere hulp aangebied. Merkwaardig genoeg het net die hektaar grond wat haar plaashuis en plaaswerkers se huise huisves, onaangeraak deur die vlamme gebly. Sy het haar man aan kanker verloor en haar plaashuis dra stories en herinneringe van `n leeftyd saam met hom. Hierdie gedeelde stories het die fokus van my gedagtes oor die genade in my lewe gevorm.

My ma

Omstandighede het my die voorreg gegee om tyd saam met my ma deur te bring. Ouderdom het ‘n eienaardige manier om die verganklikheid van die lewe en die genade wat gevind word in oomblikke saam met ‘n mens se ouers uit te lig. Om al die strukture wat my pa gebou het by die huis waar ons grootgeword het te sien, het hierdie besef vir my beklemtoon. Hy het onverwags 25 jaar gelede twee dae na Kersfees aan `n hartaanval gesterf.

Onder die kameeldoringboom in my ma se tuin het ons teruggedink aan staaltjies uit die verlede. Ek is dankbaar vir my vreugdevolle kinderjare in die Kalahari. Jy kan nie jou ouers of die plek van jou opvoeding kies nie. Daar is dus enorme genade in ‘n gelukkige kinderjare.

My sus en haar kinders

Toe my suster se dogter, Marga, van my Kaapse besoek vroeg in Desember hoor, het sy besluit om haar Matriekbaai-kaartjie te verkoop. Sy het ’n week saam met skoolvriende ingeruil vir tyd saam met familie. Ons almal mis ons jaarlikse saamkuiertradisie in die Kaap. Vir `n week kon ek en Ansa en haar kinders ons verantwoordelihede en bekommernisse opsy skuif en die Kaapse son en see geniet.

Vanaf Blouberg het ons ons verwonder aan die ikoniese uitsig oor Tafelberg. Jacques het Marga en Altus aangemoedig om die koue Atlantiese waters te trotseer. In die V&A Waterfront, het ons die tradisionele en kleurvolle Suid-Afrikaanse kersversierings en danse bewonder.

Ons het ook natuurlik die geleentheid gebruik om Christo se studente kuierplekke en die pragtig versierde koeke van Jacques se besigheid, The Cinnamon Club, te geniet.

Jacques

Jacques het sy studentjare voltooi en was gereed om te begin werk tydens die pandemie.  As entrepreneur het hy besluit om die Cinnamon Club, ‘n bakkery wat fokus op veganistiese en glutenvrye gebak, te begin. Ten spyte van vele ekonomiese en elektrisiteits uitdagings in Suid Afrika, het die besigheid goed gevaar. Jacques is nou gereed om uit te brei na ‘n besigheidsperseel by Woodstock Exchange. Ek is dankbaar dat ek die oomblik wat hy die sleutel tot die perseel ontvang het, met hom kon deel. Hy het soveel genade in sy besigheid ontvang en ek wens hom voortgesette sukses toe.

Christo

Christo was halfpad deur sy 12de graad toe ons Switserland toe verhuis het. Slegs twee maande nadat hy sy universiteitsreis begin het, het die Covid-pandemie die wêreld getref. Sy studentejare was besonder uitdagend. Die bywoning van sy gradeplegtigheid het my met dankbaarheid en emosie vervul. Hierdie prestasie sou nie moontlik gewees het sonder die ondersteuning van baie mense in sy lewe nie. Ek sien baie genade in die individue wat hierdie reis met hom gedeel het. Hy het die liefde, ondersteuning en aanmoediging van sy meisie, Simone, gehad. Boonop het hy ondersteunende ingenieurstudentevriende wat die akademiese eise verlig het met humor en sosiale afleidings.

Ek is dankbaar vir die vennote in ouerskap en dat ek die geleentheid saam met Christo se pa en sy gesin kon vier.

Vennote in Ouerskap

Ons as Jacques en Christo se ouers het jare gelede besluit om ons paaie in verskillende rigtings te laat loop. Tog het ons ooreengekom om steeds vennote in ouerskap te wees. Ons vennootskap het gegroei na vier persone. Soos met enige vennootskap was dit soms moeilik en uitdagend, want ons is vier individue met unieke persoonlikhede, sienings en realititeite. Tog glo ek dat die situasie met vier ouers die seuns se lewens en perspektiewe in baie opsigte verryk het. Ek is opreg dankbaar teenoor Charl vir sy rasionaliteit, maar ook insig en wysheid in die grootmaak van die seuns.

Jacques het tydens die pandemie vir `n lang tyd by Gert en Denise gewoon.  Ek glo dat Denise se wysheid en Gert se kennis en ervaring as entrepreneur en besigheidsman vir Jacques as mens en sy loopbaan rigting en duidelikheid gegee. 

Christo het die volgende erkenning in sy skripsie gegee.  To my parents, Emsia and Gert, and their partners, Denise and Charl, thank you for providing me with the opportunity to be able to write this acknowledgement as I prepare myself for the final submission of my undergraduate degree. Thank you Dad for always keeping me on my toes and thinking critically. Thank you Mom for always being available when I want to phone, and helping me with life’s problems as I become an adult.

`n Nuwe jaar

Ons almal stap `n nuwe jaar met `n skoon bladsy binne. Net soos ander jare gaan hierdie jaar ook uitdagings meebring. Ons weet net nie die aard en die omvang daarvan nie. Ek stap dit egter met gerustheid binne, want ek weet dat die genade wat ek in my lewe ontvang het nog altyd meer as die uitdagings was.

Mag dit `n mooi nuwe jaar vol genade wees.

Groete

Emsia

4 thoughts on “Genade kom in verskillende vorme

  1. Ek het in Oktober op hierdie briewe afgekom op soek na die Afrikaanse woord vir dandelion/pis-en-lit/Löwenzähne/paardenbloemen. Ná ‘n operasie Maandag het ek in hierdie dae meer tyd vir stadiger leef en lees. Ek dink na oor genade (Johannes 1:16). En oor julle dankbare seun wat erkenning gee aan sy ma se altyd daar om oor die lewe te gesels. Geluk met die welverdiende studiesukses!

    1. Hi Rita, jy sal nooit weet hoeveel ek jou boodskap waardeer nie. Ek hoop jy herstel vinnig na jou operasie en ervaar dit ook as waardevolle rustyd en dinktyd. Mag jy baie genade ontvang. So baie dankie vir jou woorde!

  2. Dankie! Gister s’n was groot: dat ek ‘n Bybel (in pdf-vorm) met kommentaar van William Barclay op ‘n mooi spoor ontdek het, en dit gaan wonderlik bydra by vandag se online (BSF) Bible Study Fellowship oor Johannes 11. Ons mag belangstellendes uitnooi vir die Studie-sessie met Zoom! (Die Bybelstudiegroep is van amper alle kontinente.)

    1. Wow, Dit klink ongelooflik. Dit is darem net wonderlike dat `n mens saam met mense van verskillende lande en kontinente kan Bybelstudie doen. Ten spyte van baie verskille is daar baie meer in gemeen.

Comments are closed.

Comments are closed.