Uitsonderlike diens tydens Covid-19 pandemie

Uitsonderlike diens tydens Covid-19 pandemie

Die wêreld rondom ons het baie monochroom begin lyk weens Covid-19. ’n Helderkleurige storie is egter soos sonskyn vir die gemoed. Die goue verhaal het hom afgespeel in ‘n hospitaal in ‘n klein dorpie hier in Switserland.

Klein dorpie in Switserland

Privaat hospitaal in ‘n Switserse dorpie

Die dorp is groot genoeg vir ‘n staatshospitaal en twee privaat hospitale. Slegs geskeduleerde operasies vind in een van die privaat hospitale plaas. Die pasiënte bly net ‘n paar nagte totdat hulle sterk genoeg is om na die prosedure huis toe te gaan. Die hoofdoel van die hospitaal en personeel is om pasiënte na ʼn operasie geestelik en fisies te versorg vir ‘n spoedige herstel.

Met die aanbreek van Covid-19 het die regering aangekondig dat alle nie-noodsaaklike geskeduleerde operasies eers moet stop om op Covid-19 pasiënte te fokus. Die hospitaal in die verhaal het nie ‘n hoësorgeenheid nie, en die direkteur het besef dat sonder geskeduleerde operasies die hospitaal tydens Covid-19 sou moes sluit.

Hospitaal situasie

Hy was nog besig om sy gedagtes, planne en kommunikasie met personeel te orden toe hy ‘n belangrike oproep van die staatshospitaal ontvang het. Daar is verskeie mense met Covid-19 wat op hul mediese dokumentasie aangedui het dat mediese ingryping nie op hulle toegepas moet word soos hulle sterwensuur nader nie. Koppeling aan ‘n ventilator is ‘n voorbeeld van mediese ingryping.

Sterwensbegeleiding

Die regering het die hospitaal nodig gehad as ’n stil plek met sorg waar mense hul laaste dae kon deurbring. Byna al die pasiënte was bejaard. Hierdie versoek was ‘n groot skok omdat sterwensbegeleiding  nie deel van die hospitaalpersoneel se opleiding uitgemaak het nie. Hul sterkpunt is om pasiënte ná operasies weer op hul voete te kry.

Jong en ou hande

Dié hospitaal het 50 ernstig siek Covid-19 pasiënte ontvang. Die personeel het hierdie bejaarde pasiënte met liefde en omgee versorg. Al die liefde en omgee het so ‘n groot verskil gemaak dat 47 van hulle kon teruggaan na hul huise hier op aarde.

Ná die eerste Covid-19-piek in Switserland het die getalle afgeneem, en die regering het die groen lig gegee vir geskeduleerde operasies. Personeel het die hospitaal ontsmet en alles in gereedheid gebring om normale bedrywighede van Maandag van die volgende week af te hervat.

Verpleegster wat na ouer pasient omsien

Laaste ure in hospitaal van geboorte

Ná die eerste Covid-19-piek in Switserland het die getalle afgeneem, en die regering het die groen lig gegee vir geskeduleerde operasies. Personeel het die hospitaal ontsmet en alles in gereedheid gebring om normale bedrywighede van Maandag van die volgende week af te hervat.

Die Vrydagmiddag het die hospitaaldirekteur ‘n onverwagse oproep ontvang. ’n 96-jarige inwoner was baie siek aan Covid-19, en hulle het geweet sy tyd op aarde was minder as 48 uur. Hy wou sy laaste ure in dieselfde hospitaal deurbring as wat hy gebore is. Sy vrou, in haar negentigs, het ook Covid-19 gehad en saamgekom. Dit was ’n moeilike besluit, maar die egpaar het Vrydagaand by die hospitaal ingeboek. Saterdag het hy sy laaste asem uitgeblaas. Sy vrou se hartseer het geen einde geken nie, maar sy het voortgegaan om die siekte te beveg en kon en moes alleen huis toe gaan.

’n Week later het die hospitaaldirekteur ’n oproep van die dogter van die bejaarde egpaar ontvang. Haar ma kon nie uitgepraat raak oor die liefdevolle behandeling wat sy en haar man in die hospitaal ontvang het nie. Uit dankbaarheid het die dame ‘n groot bedrag geld geskenk en die direkteur versoek om dit tussen die hospitaalpersoneel te verdeel.

Verpleegster met masker

Die hospitaaldirekteur het ‘n funksie gereël om elke personeellid te bedank vir hul uitsonderlike diens. Hy het ’n spesiale sertifikaat uitgedeel om aan elkeen erkenning te gee vir hul buitengewone sorg tydens die pandemie. In hierdie tye was dit nie hul tegniese kennis wat die verskil gemaak het nie maar die liefde en sorg waarmee hulle opgetree het. Die krag van liefde en omgee was hoër as dié van enige ventilator.

Groete

Emsia

Comments are closed.