Tekens van ‘n toekoms sonder maskers

Tekens van ‘n toekoms sonder maskers

In Europa het die lente in al haar glorie aangebreek. Terwyl Lente met haar pragtige uitrustings gespog het, het Winter ‘n onverwagte terugkeer gemaak. Oornag het temperature van 20 tot -6 grade gedaal. Lente se veelkleurige vertoning het skade opgedoen. Gelukkig lyk dit of dit net tydelik is, en sy skud haar vere reg vir ‘n uitstekende seisoenale vertoning.

Onverwagse Covid-winter tydens ons nuwe seisoen in Switserland

Op ʼn soortgelyke wyse het Covid onverwags opgedaag ʼn paar maande na die begin van ons nuwe seisoen in Switserland.  Ons het baie planne gehad vir nuwe vriendskappe, ervaringe en vaardighede tydens ons beplande drie jaar in Switserland. Die mens wik, maar God beskik het egter nuwe betekenis vir ons gekry.

My vriendin het my onlangs met ‘n goeie vraag uitgedaag.

‘Wat se verandering het die nuwe seisoen in Switserland vir jou gebring, Emsia?”

Ons het baie leefstyl verandering in Switserland gemaak. Ek is egter opreg dankbaar vir die insig wat die Covid-winter vir my gebring het.

Covid-insig

My hele lewe deur was ek ʼn aksie persoon, altyd besig om iets te beplan of te doen.  ‘n Lewe van aksie was my voertuig om my waardes en doel uit te leef. My naam beteken “om tot diens te wees”.

Na ʼn loopbaan van 27 jaar in Suid Afrika, het ek hier in Switserland my CV opgedateer, uitgestuur en met kontakte begin gesels.  In lyn met my perspektief, het ek ʼn werksgeleentheid nodig gehad om ʼn verskil te maak en tot diens van ander te wees.

Covid, veral in ‘n ander land, het my werksgeleenthede aansienlik beperk. Die omstandighede het my egter gewys dat ek die woord “doen” na die woord “wees” moes verander. In plaas daarvan om dinge vir ander te doen, moes ek leer om daar vir hulle te wees.

Dit moes natuurlik by my eie gesin begin.  Ek moes leer om meer teenwoordig te wees, te luister, waar te neem.  Ek is ʼn natuurlike beplanner en moes die plek en waarde van spontaniteit en intuïsie leer ken. Saam met kreatiwiteit, veroorsaak hulle dat ek ligter leef en die lewe bloot net meer geniet.  Verandering is egter ʼn proses en ek val soms nog terug in my ou bekende weë.

Lente na die Covid winter

Gelukkig kan ek vashou aan die sekerheid dat seisoene verander. Die Covid-seisoen is besig om wêreldwyd te verander. Hier in Switserland is daar nou geen Covid maatreëls meer nie. Ek voel amper skuldig as om op die trein sonder ’n masker te wees. Dit is so wonderlik om weer mense se gesigte te sien en ‘n glimlag te deel.

Vir die eerste keer kan Zander by die skool op uitstappies gaan en teen ander skole sport speel.  Die geleenthede skep opwinding en nuwe ervaringe. Vir die eerste maal in twee jaar kan ouers ook weer die skoolterrein betree en mekaar ontmoet.

Almal is opgewonde oor die jaarlikse Internasionale Fees wat weer sedert 2019 kan plaasvind. Tydens die geleentheid word diversiteit en kultuur gevier.  Daar sal 24 stalletjies wees met kos voorberei deur die ouers van die onderskeie lande. 

Ons is drie Suid Afrikaanse ma’s wat saamwerk om te verseker dat Suid Afrika ook verteenwoordiging het.  ‘n Nuwe ma van Oekraine gaan dieselfde vir haar land doen met die hulp van ander ouers.

Die nuwe normaal

Soos wat ons aanpas by ʼn nuwe normaal en opgewonde is oor die nuwe geleenthede en ervaringe wat dit bring, is ek baie bewus van my lewensbelangrike lesse wat ek tydens die Covid-winter in ʼn nuwe land geleer het.  Ons periode in Switserland is vir nog ʼn paar jaar verleng wat my tyd gee om te fokus op wees eerder as doen.

Geniet die nuwe seisoen, nuwe normaal en Paasnaweek!

Groete

Emsia

2 thoughts on “Tekens van ‘n toekoms sonder maskers

  1. Emsia. Baie diep en ‘n subtiele verandering; klem- of fokus-verskuwing. Voorspoed met d nuwe uitdaging. Vreemd hoe dit saamval met my nuwe rol in die huis : onwerklik – uitdagend – dwingend – veeleisend – vermoeiend. Ek verkies definitief die oue – meer gemaklik & los! Geniet die tyd om joune te beproef. Saam met jul bly vir die amptelike verlenging – maar jammer vir die langer wegbly! (Niks is ook meer wit of swart nie – oops! – dit klink onvanpas!)

    1. Ek stem dat dit moeilik is om op nuwe paaie te loop wat jy nie self gekies het nie. Hierdie paaie bring egter persoonlike groei en nuwe insigte! Sterkte met Oom se pad. Ek het baie deernis met al die uitdagings, onsekerheid en enorme impak!

Comments are closed.

Comments are closed.