In die buiteland is ons mekaar se familie

In die buiteland is ons mekaar se familie

Ek is mal oor kuiergaste. Dit skep ‘n lekker energie in ons huis en bied aan my die geleentheid om iemand vir wie ek omgee te bederf. In Suid Afrika was ons jaarlikse familiekuier my hoogtepunt. Deur die jaar het ek uitstappie idees versamel en lank voor die tyd die etes en aktiwiteite beplan.

Ek het ʼn dowe oor gedraai toe Charl rebelleer teen die ekstra matrasse en beddegoed tydens ons verhuising Switserland toe.  Al is ons woonstel klein, wou ek seker maak daar is voldoende slaapplek vir almal wat wil kom kuier.

My kinders se eerste kuier

Gelukkig kon my kinders, ses maande na ons verhuising, in Desember 2019 kom kuier. Die tyd saam was vrolik en gesellig. 

Die eerste sneeu was beslis ʼn onthou-oomblik en ons het kinderlik opgewonde die vlokkies op ons tonge gevang.  Ons het die Switserse tradisie van fondue gedeel, maar ook pannekoek gebak soos wat ons tradisioneel reëndae in Suid Afrika vier.

Na hulle besoek het ek vele uitstappie en maaltyd idees versamel, maar het niemand gehad om dit mee te deel nie. ʼn Mooi landskap, ou gebou of nuwe ervaring is net baie lekkerder as jy saam met ʼn bekende kan waardeer.

Sielsvriende

My vreugde was groot toe Vanessa laat weet sy kom Zürich toe vir ʼn konferensie.  Vele onthou-oomblikke het deur my gedagtes geflits. Ek het gedink aan ons spesiale lag en gesels oomblikke as jong vrouens in die kantoor wat ons 20 jaar gelede gedeel het. 

Sy het my ondersteun en vir ʼn bederf-dag na die Mangwanani spa toe gevat toe die drake in my persoonlike lewe vlamme blaas. Gedurende 2007 het ek in stilte saam met haar gesit en bid terwyl dokters in die middel van beurtkrag in Suid Afrika probeer het om haar man se breingewas te verwyder.

Ek en Vanessa woon in Europa met ons harte en familie steeds in Suid-Afrika. Ons redes vir die situasie is oor die algemeen dieselfde. Korporatiewe poste vir ons generasie in Suid-Afrika is besig om te kwyn. Ons verstaan en het deernis vir mekaar se leefstylaanpassings.

As gevolg van Covid moes sy haar eerste jaar in Amsterdam alleen in ‘n woonstel deurbring. Dit was haar omstandighede toe sy ‘n nuwe afdeling by ‘n groot firma moes stig. Ek het nuwe respek vir haar dapperheid gekry.

’n Europese hittegolf het saam met Vanessa opgedaag. Sonder enige lugversorging in Switserland het almal gely. Na een poging om uit te gaan, het ons besluit om ons woonstel so donker as moontlik te hou en ons vreugdes en uitdagings oor ‘n glas koue witwyn by die huis gedeel.

Welgemoed vriende

Persoonlike en professionele redes het Martin en Marna na Europa gebring. Hul dogter Danielle het haar musiekstudies in België en Nederland voltooi. Die uitvoering vir haar meestersgraad was in die Zuid Afrika-huis in Amsterdam. Dit het bestaan uit Suid-Afrikaanse wyn, kos, musiek en poësie.

Martin moes vir werk Zürich toe kom en ek en Marna het gekuier.  Ons het die promenade om Zürich meer platgestap en Flammeküche geëet terwyl die swane om ons swem.  Ons het die House of Lindt in Schokolandeplatz besoek en dit was die ideale plek vir haar familie tuis se geskenkies. Ons kuier is afgesluit met ʼn besoek aan Switserland se Rosestad, Rapperswil. Ons het die hele lengte van die meer terug op ʼn boot gevaar en gekyk hoe almal in die water speel.

Martin moes vir werk Zürich toe kom en ek en Marna het gekuier.  Ons het die promenade om Zürich meer plat gestap en Flammeküche geëet terwyl die swane om ons swem.  Die House of Lindt in Schokoladeplatz was ‘n heerlike besoek en die ideale plek vir Marna se familie tuis se geskenkies.  Ons kuier is afgesluit met ʼn besoek aan Switserland se Rosestad, Rapperswil.  Ons het die hele lengte van die meer terug op ʼn boot gevaar en gekyk hoe almal in die water speel.

Kort voor hulle Europese besoek, het Martin ʼn onverwagse werksaanbod vanuit Dubai gekry.  Hulle moes gevolglik hulle besoek verkort en begin voorberei op die aanpassing in ʼn nuwe land.  Ons het ons laaste ete saam langs die meer geniet. Tydens ons ete het daar ʼn storm opgekom en op pad kar toe het die sluise van die hemel oopgegaan.  Ons was deurwekend nat.  Die ontvangspersoon by hulle hotel kon sy lag nie onderdruk, toe hy hulle sien nie!

Al hoe meer vriende verhuis oorsee

Al hoe meer van ons vriende verhuis na die buiteland. Almal moet aanpas in ʼn nuwe land, kultuur en omstandighede, terwyl hulle verlang en bid vir familie en vriende tuis.  Die ontdek en verken is opwindend; die verlang en gemis broos en seer. Ons het ooreengekom om mekaar se familie in die buiteland te wees.

Ek sluit af met die woorde uit  ʼn Antjie Krog gedig wat Danielle ook in haar konsert gebruik het: 

En al is jy nie by my nie
Word dit nou by jou ook aand
Met kinders in die koel strate
Met water wat geluidloos spoel oor die kweek
Met voëls wat hulself opvou in die bome
En al is jy nie by my nie, 
Is ek bewys van ons verbintenis 
Soos van blomme wat bloei in die skemer
 Ek hoor jou vanaand soos ʼn ver-af trein. 

- Antjie Krog

Groete

Emsia

One thought on “In die buiteland is ons mekaar se familie

  1. Baie dankie vir jou gasvryheid Emsia. Dit was heerlik om net saam te wees en rustig en vrymoedig te kan ontspan 🤗

Comments are closed.

Comments are closed.