My wortels in Kathu in die Kalahari

My wortels in Kathu in die Kalahari

Zander moes onlangs ’n opstel oor ’n ervaring uit een van sy ouers se kinderdae skryf. Ek het vir hom van die eerste betekenisvolle verandering in my lewe vertel. Ek was vyf jaar oud toe ons hele dorp moes verhuis.

Groot nuus het aansienlike verandering gebring

Ek is gebore in ‘n klein myndorpie genaamd Sishen. My pa het by die Yskor-ysterertsmyn in die Kalahari gewerk. Die gemeenskap was klein, almal het mekaar geken, en die rooi mynhope was deel van ons agtergrond.

In die vroeë 70’s het almal wat by die myn gewerk het nuus ontvang wat die hele dorp se toekoms sou verander. Die Sishen-huise en gemeenskapsentrum was in ‘n hoë ysterertsryke gebied, en mense moes trek. Yskor sou ‘n nuwe myndorp genaamd Kathu in ‘n pragtige kameeldoringwoud ontwikkel. Kathu beteken “dorp onder die bome”. Die mooi omgewing, tesame met nuwe mynhuise, het dit aantreklik gemaak.

Ons het na Kathu verhuis ‘n jaar voor ek moes skool toe gaan. Die dorp was nog in ‘n vroeë stadium van ontwikkeling. Vir ons kinders was dit die paradys. Daar was hope rooi sand en slote waarin ons kon wegkruip. Na badtyd het ‘n laag sand in die bad agtergebly.

Ek het in 1976, Sub A toe gegaan. Die laerskool was reeds ingewy maar nog in aanbou. Ek onthou hoe ons kaalvoet op die rooi sandpaaie atletiek geoefen het. Die warm sand en die dorings van die kameeldoringbome het bykomende uitdagings geskep.

Yskor het Kathu van voor af ontwikkel

Ons het grootgeword in ‘n ontwikkelende dorp met baie nuwe dinge en plekke. Yskor het baie moeite gedoen om sportfasiliteite te ontwikkel. Daar is ‘n pragtige Olimpiese standaard swembad waar ons baie tyd spandeer het na skool en die lieflike tennisbane tussen die kameeldoringbome waar ons toernooie gehou het tydens ons vakansies.

Kathu spog steeds met een van Suid-Afrika se mooiste gholfbane. ‘n Deel daarvan lê binne die kameeldoringwoud op die rand van die woestyn en word beskou as een van die top 20 gholfbane in die land. Dit het ‘n ruim klubhuis met ‘n pragtige restaurant, waar jy die goud-oranje sonsondergang agter die bome kan aanskou terwyl jy plaaslike kwaliteit vleis geniet.

Die inwyding van elke plek was ‘n groot fees. Ek kan goed onthou toe Kathu sy eerste groot supermark, Checkers, gekry het. Tydens openingsweek het ons sakke vol Pick-a-Mix-sjokolade verslind. ’n Modevertoning het die eerste vroueboetiek geopen. Daar was ook twee ander klerewinkels, maar die meeste ma’s het naaldwerkvaardighede gehad en materiaal by Naald in ‘n Hooimied gekoop vir unieke skeppings.

Kathu vandag

Kathu het baie ontwikkel en verander en voel nie meer soos die dorp waarin ek grootgeword het nie. Nadat ek Kathu verlaat het, het Anglo American Group die Sishen-myn oorgekoop en transformasieprojekte geïmplementeer wat deur die verandering in Suid-Afrika gedryf is. Die oopgroef ysterertsmyn in Kathu is een van die grootstes ter wêreld en ‘n beduidende verskaffer van werk. Baie mense het na Kathu gestroom en die dorp het uit sy nate gebars. Intussen het ’n paar winkelsentrums verskyn met kettingwinkels en bekende franchises.

Ek was beïndruk om die Kathu se sonkragpark uit die lug te sien. Kathu Solar Park het op 30 Januarie 2019 begin om hernubare energie aan Suid-Afrika se nasionale netwerk te lewer deur middel van gekonsentreerde sonkrag tegnologie. Hulle vorm deel van die regering se Hernubare Energie Onafhanklike Kragprodusente-verkrygingsprogram wat werk, sosio-ekonomiese voordele en skoon krag lewer.

Foto krediet: Kathu Solar Park

Ek gaan gereeld terug na my wortels toe

My ouers, Christo en Lenie Carstens het 56 jaar gelede hul lewe saam in Sishen begin en my ma bly steeds in die huis waarin ons grootgeword het.

Ek kuier graag by haar in Kathu en by my swaer en suster, Andre en Ansa van Zyl op hul plaas in die omgewing. Om die rooi Kalahari-sand tussen my tone te voel, en die son agter die kameeldoringbome te sien sak, gee my baie vreugde.

Tydens my besoeke kan ek ou skoolvriende sien en wonderlike herinneringe van gelukkige kinderjare tussen kameeldoringbome, rooi sand en ysterertsmynhope herroep.

Groete

Emsia

Comments are closed.