Die Hart vs Verstand konflik van ‘n ma

Die Hart vs Verstand konflik van ‘n ma

Die ma-rol is een wat ek met my hele hart wou hê. Dit het my egter soos ‘n spieël met my swakhede gekonfronteer. Vanaf die oomblik dat afhanklike vingertjies om joune draai, is ‘n ma se hart en verstand in konflik. Die gevoel en die weet stem selde ooreen. Ek vermoed dit is ‘n ewige stryd.

Pasgebore baba in ma se arms

Met elke geboorte voel dit asof ’n hele kamer vol brose emosies ontsluit word. Die gevoel dat jou hart skielik buite jou liggaam sit en dat jy ook jou kinders se ervarings en gevoelens dra, maak jou baie kwesbaar. Hierdie gevoel is die hart van ‘n ma. Van die begin af verstaan jy die beduidende verantwoordelikheid wat met die rol gepaardgaan. God het hulle immers aan jou toevertrou. Jy moet hulle help om voor te berei om hul doel in die wêreld uit te leef. Hierdie begrip is die gedagtes van ‘n ma.

Baba hand in ouer se hand

Aanvanklik voel jy oorweldig deur al die emosie en verantwoordelikheid. Jou kinders het jou nodig, en hulle maak dit duidelik. Jy moet sorgvuldig beplan om aan almal se behoeftes en vereistes te voldoen. Jou grootste wens is vir ‘n tyd van jou eie. Dit verander vinniger as wat jy kan dink. Hulle laat gaan, sorg vir hulself, en skielik het jy te veel tyd op jou eie.

Jou verstand bevestig dit is goed dat hulle onafhanklik word, verantwoordelikheid neem en leer om op hul eie voete te staan. Jou hart wens egter in selfsug dat jy steeds nodig is. As ma verg dit baie wysheid en emosionele volwassenheid om op die regte manier en op die regte tyd te laat gaan.

Silhouette van drie broers

Laat gaan – adolossensie

Daar is drie belangrike mylpale wanneer ‘n ma haar kinders moet laat gaan. Die eerste keer is wanneer hulle adolessente word. Die hormone skop in en hulle het privaatheid nodig. Hulle begin deure toemaak, en deodorant-reuke hang in die huis as jy gelukkig is. Hulle spandeer baie tyd agter geslote deure en verkies hul vriende se geselskap en aktiwiteite bo joune. Ek kan Christo steeds hoor met sy gereelde, “Privaatheid Ma!”

Laat gaan – verlaat die huis

Die tweede keer wat ‘n ma moet laat gaan, is wanneer haar kinders die nes verlaat. Dit is ‘n aansienlike verlies, maar ‘n ma kry meer vrede en rustigheid in die huis. Die konflik tussen hul wil en respek vir die res van die gesin verskerp teen die einde. Hulle moet aan hulself bewys dat hulle in staat is. Gevolglik ontdek en probeer hulle nuwe dinge en doen meer aktiwiteite onafhanklik.

Twee volwasse broers

Soms het hulle steeds jou probleemoplossings vaardighede nodig wanneer ’n krisis handuit ruk. Hulle kontak met jou is op hul voorwaardes. Hulle wil nie noodwendig na jou raad of opinies luister nie, maar jou kinders het altyd ’n ma nodig wat met liefde en begrip luister.

Die tyd gaan verby en eendag besef jy jou kind het in ‘n vriend verander. Hulle het nuwe idees en ingeligte menings en begin wysheid deel. Jy het meer tyd vir jouself en jou passies en belangstellings. As jy gelukkig is, word van hierdie passies en belangstellings gedeel en jy en jou kind ontdek saam en ruil ervarings en inligting uit.

Laat gaan – lewensmaat

Die derde keer dat jy hulle moet laat gaan, is wanneer hulle ‘n lewensmaat kies. Die keuse van ‘n maat is hulle s’n, maar hul keuse van persoon het ‘n beduidende impak op die verhouding tussen jou en jou kind vorentoe. As die situasie positief uitwerk, veroorsaak hul keuse dat jy in verhoudings ryker word.

Ouma en kleinkind

Miskien is jy geseën met kleinkinders. Jou beker van geluk loop oor, maar die hele konflik tussen ‘n ouma se hart en verstand begin weer van voor af. Jy dink met dankbaarheid: “Nou sal hulle uiteindelik verstaan hoe lief ek vir hulle is!”

Groete

Emsia

One thought on “Die Hart vs Verstand konflik van ‘n ma

  1. Emsia
    Ek staan skaam by die besef van die moeder se pad met kinders. As Pa is dit my (grootliks) gespaar. Ek was maar so hier en daar by die groeipyne betrokke – ook maar net waar my praktiese toepassing benodig was.
    Dankie vir jou insig.
    Frikkie

Comments are closed.

Comments are closed.