Fotografie as leermeester van waarneming

Fotografie as leermeester van waarneming

My lewe deur het ek gedurig iets gehad om te doen. Ek kan egter nou fokus op aktiwiteite wat ek wil eerder as moet doen. Ek het altyd geglo dat inisiatiewe ‘n uitkoms moet hê, ‘n doel moet dien, of iets of iemand anders moet bevoordeel. Vir die heel eerste keer doen ek dinge net omdat ek dit geniet. Ek leer om dit anders te sien!

Emsia

Om foto’s te neem was nog altyd ‘n aktiwiteit wat ek geniet het en dit het ‘n doel. Nou het ek fotografie ontdek. Fotografie is die woord wat ek gebruik wanneer ek foto’s neem net vir die pret. Ek het selfs aan ‘n aanlyn foto-uitdagingskompetisie (GuruShots) deelgeneem en baie geleer toe my foto’s aan spesifieke kriteria moes voldoen. Ek het baie idees en inspirasie by ander fotograwe gekry. Fotografie het ook ‘n leermeester van baie waardevolle lewenslesse geword.

Fokus

In een uitdaging moes ons met die fokus eksperimenteer. As jy op een deel van ‘n prent fokus, raak die ander dele van die prent uit fokus en vervaag. Ná die eerste somerreën het die veldblomme welig om ons gegroei. Dit was moeilik om te besluit waar ek wou fokus, want daar was soveel mooi dele om van te kies. Dit is soms moeilik om te kies, maar ons moet fokus waarop ons wil laat uitstaan en aanvaar die res is deel van die agtergrond.

Fokus in fotografie

Kleur

Baie van die uitdagings gaan oor kleur. Kleure soos oranje, rooi en geel is wonderlik, want daar is baie opsies met helderkleurige items. Die swart en bruin uitdagings was uitdagend, want dit is nie die tipe kleure waarop ek gewoonlik fokus nie. Toe die onderwerp bruin was, het ek na items soos hout, leer, sjokolade en grond gekyk. Die merke en vlekke van hout wat oor die jare ontstaan het, het die kontras in kleur geskep en die item en die foto iets besonders gemaak.

Merke en vlekke van hout

Skaduwees

Ek was verras deur die uitdaging wat op skaduwees gefokus het. Ek probeer gewoonlik om my foto’s te neem gedurende tye van die dag wanneer die lig sag is, daar wolke in die lug is en daar geen skaduwees is nie. Die konsep van skaduwees kan ‘n positiewe of ‘n negatiewe betekenis hê. Skaduwees speel ‘n belangrike rol in foto’s. Dit kan aandag vestig op of iets wegsteek. Dit dra by tot die drama, emosie of misterie van die prent.

Skaduwees in fotografie

Plekke

’n Foto-uitdaging wat my opgewonde gemaak het, was die een oor My Land. Suid-Afrika is so ‘n diverse land met die mooiste natuurskoon en mense. Die moeilikste deel was om net een foto te kies! Dit was heerlik om na die ander fotograwe se inskrywings te kyk. Dit was soos ‘n wêreldtoer, want almal kon net een prent kies wat hul land weergegee het.

Kaapstad

Mense

Die uitdaging oor generasies het my nostalgies gemaak. Prente van ons mense is vir ons kosbaar, want elkeen vertel iets van die persoon, die oomblik of die situasie. ‘n Uitsonderlike foto laat ons liefde, emosie of humor sien en voel. Uitnemendheid lê in die vermoë om daardie oomblikke raak te sien en die vaardigheid te hê om dit vas te vang. Dit leer my om dieper te kyk.

Emosies in fotografie

Ek lees die volgende aanhaling oor fotografie wat dit mooi saamvat:

“To me, photography is an art of observation. It’s about finding something interesting in an ordinary place… I’ve found it has little to do with the things you see and everything to do with the way you see them.”
— Elliott Erwitt

Groete

Emsia

2 thoughts on “Fotografie as leermeester van waarneming

    1. Dankie dat Oom die skrywes lees en terugvoer gee. Ek sien dit as ondersteuning en waardeer dit.

Comments are closed.

Comments are closed.