Browsed by
Category: Europa

Ons eerste ski vakansie in Livigno, Italië

Ons eerste ski vakansie in Livigno, Italië

Dit is ons vyfde winter in Switserland en ons kan steeds nie ski nie. Ons het lankal vrede gemaak met die feit dat ons die sneeu op ander maniere as ski kan geniet. Aangesien al Zander se vriende gedurende die wintermaande ski, was dit nodig dat ons hom die geleentheid gee om te leer.

Livigno, klein Tibet van die Alpe

Ons het op Livigno in Italië besluit.  Dit is gerieflik naby aan ons veral met die trein wat motors saam met die insittendes deur die Alpe vervoer. Livigno word ook soms die Tibet van die Alpe genoem, hoofsaaklik as gevolg van sy hoogte bo seespieël en klimaat.  Die streek beleef lang en koue winters wat gekenmerk word deur aansienlike sneeuval. Gedurende hierdie seisoen vries die strome en mere in die vallei, wat bydra tot die skilderagtige winterlandskap.

Die omgewing bied vele geleenthede om die sneeu te geniet. Berge aan weerskante van die dorp spog met verskeie ski hellings maar ook pragtig ingerigte sneeuparke. Tydens ons besoek was dit duidelik dat voorbereidings in Livigno vir snowboard- en freestyle kompetisies vir die Milaan-Cortina 2026 Winter Olimpiese Spele aan die gang was.  Tydens ons besoek het ons nooit nodig gehad om met ons motor te ry nie. Die middel van die dorp is `n motorvrye area en gratis busvervoer is in die ski seisoen vir besoekers beskikbaar.

Die dorp is in die feestyd pragtig versier en en het uitstekende geleenthede vir belastingvrye inkopies gebied. Boonop het die Kersdorpie bekoorlike houtstalletjies met ‘n verskeidenheid handgemaakte geskenke gehad. Ons het naby ‘n bakkery gebly, en ek het dit geniet om elke oggend deur die sneeu te stap vir varsgebakte Italiaanse brood.

Baie Suid Afrikaners

Livigno geniet gewildheid onder Suid-Afrikaners. Ons het talle Afrikaanse gesprekke op straat gehoor. Ek en Charl het geglimlag toe ons hoor hoe ‘n man aan sy vrou in Afrikaans erken, “Ek besef nou dat ek heeltemal te oorgewig en onfiks vir hierdie tipe aktiwiteit is.”

Ek het Livigno as ‘n jong volwassene saam met ‘n groep Suid-Afrikaners vir ‘n ski-vakansie besoek. Vordering was stadig aan my kant. Dit het my vier dae geneem voor ek op die ski’s kon navigeer, draaie uitvoer en stop sonder om te val. Nietemin het die bevrediging om ‘n nuwe vaardigheid te bemeester ‘n blywende indruk gelaat.

Zander leer ski

Zander het die ski-skool in die oggende baie geniet en gou reggekom. Dit help as jy op 15 jaar, die jongste in jou groep is en risiko’s net iets is waaroor ouer mense hulle bekommer.  Ek het my verstom oor hoe vinnig die ski instrukteurs die klein kindertjies leer om te ski.  Hulle is absoluut vreesloos en is sommer gou gereed om van bo af met uitstekende tegniek teen die ski-hellings af te ski.

Na middagete het Zander sy nuutgevonde vaardighede op die ski-hange naby ons huis geoefen. Ek en Charl het verskillende kabelkarre teen die berge op gevat en verskeie roetes verken. Daar is ‘n bevredigende gevoel wanneer jou stewels knars op die vars versorgde sneeu en jy kan afkyk na die dorpie met sy sneeubedekte dakke en bevrore meer.

Elke sport het sy beserings en ons het ongelukkig heelwat ski ongelukke aanskou.  Die nooddienste is baie goed opgelei en het die beseerdes vinnig tot hulp gesnel. My hart het amper gaan staan toe Zander  op dag 3 noem dat hy `n swart roete uitprobeer het.

‘n Vriendin het gewaarsku, “In reisversekering se fynskrif staan hulle dek nie ongelukke op swart roetes nie.  As jy seerkry neem hulle jou na die naaste hospitaal in St. Moritz in Switserland.  Soos jy self weet is dit een van die oudste en duurste ski-oorde in Switserland. Ons het altyd gespot as jy daar op `n swart roete seerkry moet jy hoop iemand dink daaraan om jou na `n blou of rooi roete te sleep. Anders sal jy jou huis moet verkoop om die mediese kostes te dek!”

Centrale ski skool

Dinsdagaand het die ski-instrukteurs van die Centrale Ski skool, waar Zander ingeskryf was, ‘n vertoning op die ski-hange aangebied. Ek het ook 25 jaar gelede dieselfde skool bygewoon en kan die Oujaarsaandvertoning met die sagte vallende sneeu helder onthou. In die onlangse aanbieding het hulle in die geskiedenis van ski gedelf en verskeie sneeuaktiwiteite gedemonstreer. Daarbenewens het hulle die lande van herkoms van die kursusgangers erken. Ons opgewondenheid het die hoogte ingeskiet toe hulle Suid-Afrika erken het. Entoesiasties het ons saam met mede-Suid-Afrikaners ons tuisland toegejuig.

Baie sneeu

Ons het die grootste deel van ons vakansie pragtige sonskyn beleef. ‘n Paar dae voor Kersfees het dit egter begin sneeu, wat die dorp in ‘n wit kombers toegevou het. Gelukkig was die munisipaliteit goed voorbereid en het stootskrapers ontplooi om die strate skoon te maak en vragmotors om aansienlike sneeumassas te verwyder.

Bewus van die gevare wat smelt en vriesende sneeu in die koue weer inhou, het hulle die paaie ywerig met sout bedek om gladde toestande te voorkom. Ons het begin bekommerd raak oor die pad huis toe. Ons het nie kettings vir ons motor se bande nie en daarom is dit nie vir die sneeu ingerig is nie. Om ons risiko te bestuur het ons besluit om ‘n dag vroeër huiswaarts te keer. Dit was ‘n goeie besluit want die rit terug deur die Alpe was al uitdagend.

Livigno waarborg ‘n uitsonderlike ervaring wat ek van harte aanbeveel. Zander is verheug dat hy ‘n nuwe vaardigheid aangeleer het en sien uit na toekomstige ski-avonture saam met sy vriende.

Groete

Emsia

Herfs weerkaatsings in Tirol

Herfs weerkaatsings in Tirol

Ons het my onlangse verjaarsdag in Tirol, Oostenryk, naby Innsbruck gevier. Ons verblyf was op ‘n melk- en gasteplaas, Edenhauserhof, naby Natters meer. Die pragtige herfsweerkaatsings, sowel as die kristaluitstallings by Swarovski Crystal World, het my groot vreugde verskaf. Dit het ook as  metafore gedien om my te laat nadink.

Familielewe op die melk- en gasteplaas

Die plaashuis het my asem weggeslaan. Dit is ‘n pragtige houthuis versier met helder pienk petunias op die vensterbanke. In die agtergrond was lowergroen weivelde en die melodiese geklingel van koeiklokke.

Met sononder het die koeie rustig na die stal gestap om gemelk te word. Ons het aangesluit om te sien hoe die boer elke koei se melkproduksie langs hul onderskeie name aanteken.

Die kinders het buite gespeel met speelgoed en die katjies en honde. Hulle is reeds die 10de geslag van die gesin wat op die plaas woon. Die ouma was verantwoordelik vir ontbyt. Alle produkte was plaasvars en tuisgemaak. Sy was gasvry en het stadig in Duits met ons gepraat sodat ons haar kon verstaan.

Daar is ‘n kapelletjie op die plaas. Tydens COVID-19 het die jongmense wat die gastehuis bestuur, daarin getrou en ook hul dogtertjie in die kapel laat doop. Hulle samewerking en interaksie as familie het my met ‘n warmte in my hart gelaat.

Naby die plaashuis is kampgeriewe, geleë langs Natters-meer. ’n Sonnige herfsgloed in die lug en die weerkaatsings van die warm kleure op die meer se oppervlak, het ’n rustige atmosfeer geskep. Almal het die natuur se skouspel geniet.

Innsbruck

Innsbruck is ‘n pragtige dorp en die hoofstad van die Tirol-gebied. Dit lê in die Innriviervallei, omring deur hoë berge. Innsbruck beteken dus “Brug oor die Inn”.

Innsbruck is ‘n internasionaal bekende wintersportsentrum. Dit het die Olimpiese Winterspele twee keer aangebied. Die moderne Bergisel-skisprong, met sy asemrowende uitsig oor Innsbruck, getuig hiervan.

Dit het in die pragtige ou stad rondloop. Die mees ikoniese landmerk in Innsbruck is die Goue Dak, wat in 1500 voltooi is. Ons het die voorreg gehad om ‘n paartjie te aanskou wat hul troue voor hierdie geskiedkundige gebou gevier het.

Swarovski

Die Swarovski Crystal World in Wattens, ‘n entjie van Innsbruck af, was vir my ‘n hoogtepunt. Dit is ‘n familiebesigheid wat deur die vyfde geslag bestuur word. Dit is bekend vir sy pragtige ornamente en juweliersware. Hulle het egter ook ‘n Optika-afdeling wat spesialiseer in lense en teleskope.

Die Kristalwêreld bestaan uit ‘n Reuse-grot met 18 Kamers vol Wonders en ‘n betowerende tuin. Binne die Chambers of Wonder het wêreldwyd bekroonde kunstenaars, ontwerpers en argitekte uiteenlopende ervarings geskep om die veelsydige fasette van kristal ten toon te stel. Die uitstallings was interaktiewe ervarings.

Ons ervaring het in die Silent Lightroom begin.  Dit is ‘n betowerende winterwonderland met sneeu wat val en temperature so laag as minus tien grade. Die tweede kamer was ‘n kristalkoepel wat uit 595 spieëls bestaan het. Dit skep ‘n diepte-effek wat jou die gevoel gee dat jy binne-in ‘n kristal is.

Die Heroes of Peace-uitstalling het die grootste indruk op my gemaak. Innoverende projeksietegnologie het lewensgrootte hologramme van Nobelpryspryswenners toegelaat om lewendig te word. Hierdie “Helde van Vrede” het by besoekers betrokke geraak, inspirasie aangebied en die wysheid gedeel wat hulle uit hul buitengewone lewens gekry het.

In die Tuin het ek soos ‘n kind gevoel. Ek was betower deur die kristalwolke wat in die glashelder poel daaronder weerkaats het. Toe die son agter die wolke opkom, het die kristalle geglinster soos Kersfeesliggies wat ‘n boom versier.

Ligbreking en refleksie

Te midde van al ons ervarings het ligbreking en refleksie as simbole vir my geresoneer.

Breking is die buiging van lig soos dit van een deursigtige stof na ‘n ander beweeg. Dit speel ‘n belangrike rol in verskeie optiese instrumente, van lense tot vergrootglase, prismas en reënboë. Selfs ons oë maak staat op die buiging van lig. Soos kristalle buig God se lig deur ons. Elkeen van ons buig die lig op ons unieke manier om van die wêreld ‘n beter, mooier en meer kleurvolle plek te maak.

Refleksie, aan die ander kant, behels die weerkaatsing van lig sonder absorpsie. Oppervlaktes dien as spieëls wat die beeld weerspieël. Op dieselfde manier kan ander mense en uitdagende situasies as spieëls dien, wat ons toelaat om onsself duideliker te sien. Refleksie tyd help ons om sin te maak van wat ons waarneem en om te besluit wat ons met hierdie bewustheid wil doen. Ons refleksies help ons om te verstaan wie ons is en wat ons streef om te word.

Binne families vind beide ligbrekings en refleksies plaas. Elke lid breek die lig in hul unieke kleure en skakerings. Familielede se refleksies dien as spieëls wat ons help om ‘n duideliker begrip van onsself te kry. Soms inspireer en motiveer hierdie refleksies ons om onsself verder te ontwikkel.

My onlangse geskenk, “Briewe aan Emsia,” was ‘n spieël wat die perspektiewe van vriende en familie weerspieël en waardevolle insigte gebied het.

In die video hieronder gee ek jou visuele refleksie van ons naweek.

Groete

Emsia

Verskillende juwele van die Baltiese See

Verskillende juwele van die Baltiese See

Dit is fassinerend sowel as verrykend om meer oor ander kulture te leer. Daar is soveel aspekte wat ‘n impak op die ontwikkeling van kulture regoor die wêreld gehad het.

Die geleentheid om vir ‘n paar jaar in Europa te woon, maak sekere lande en kulture meer toeganklik vir ons. Ons het besluit om die somervakansie te benut om dele van Noord-Europa rondom die Baltiese See met ‘n skip te verken.

Zander het sy Duits geoefen

Ek het al in `n vorige brief vertel dat ons gesin `n lang pad met MSC stap.  Die Baltiese see-vaart het vanaf Kiel vertrek en die meeste passasiers was Duits.

Die gebruik van die Duitse taal op die skip het ‘n voordeel vir Zander ingehou. Hy het by die tienergroep aangesluit en was dapper genoeg om Duits te probeer praat. Hy het in die proses kosbare vriendskappe met Duitse seuns gevorm. Hulle was baie geduldig met hom en het hom gehelp om sy Duitse woordeskat en uitspraak te verbeter. Hulle het selfs ingestem om weer iewers in die komende jaar in ‘n Duitse stad te ontmoet.

Tydens hierdie Baltiese vaart het ek meer van sekere Noord-Europese lande waarvan ek baie min geweet het, geleer.

Kopenhagen, Denemarke

In Kopenhagen se hawe aangekom, het ek dadelik die rye windmeulens in die see opgemerk. Denemarke is ‘n leier in windkrag innovasie.

Ná ons besoek is my beeld van Kopenhagen die rye gekleurde geboue, wat soos Lego-huise lyk.

Lego het in Denemarke ontstaan toe ‘n skrynwerker speelgoed begin maak het om sy inkomste aan te vul. Charl en Zander bou graag Lego en het die oudste Legoland-winkel met verskeie uitstallings baie geniet.

Ons het grootgeword met die verhale van Hans Christian Anderson, ‘n Deense skrywer van kinderverhale. ’n Standbeeld van die Klein Meermin, wat deel van hierdie stories vorm, was die eerste besienswaardigheid wat ons in Kopenhagen gesien het.

Tallinn, Estland (Estonia)

Toe ons deur twee stadstorings in Tallinn die ou stad binnestap, het dit gevoel of ons die 21ste eeu agterlaat en terug is in die Middeleeue. Blommeverkopers het ‘n verwelkomende en geurige atmosfeer geskep.

Ons het die handgemaakte items geniet wat die eienaars met trots in die toeristewinkels uitgestal het. Die woltruie, hoede en sokkies het my laat besef hoe koud dit hier moet word in die winter. Daar was ook baie produkte wat uit hout gesny is. Ek neem aan dat die skep van handwerk ‘n manier is om deur die lang koue winters te kom.

Ek was mal oor die mooiste juwele gemaak van Baltiese amber, wat hulle uit die see verkry. Dit is ‘n edelsteen wat meer as 45 miljoen jaar gelede ontwikkel het uit boomgom van dennebome.

Die Russiese argitektuur van sommige geboue het ons daaraan herinner dat ons baie na aan Rusland is. Voor die restaurant, waar ons ‘n bier geniet het, was ‘n plakkaat wat hul ontevredenheid met Poetin aandui.

Helsinki, Finland

In teenstelling met Estland, het Helsinki, bekend vir sy argitektuur en ontwerp, ‘n geweldige moderne en minimalistiese gevoel. Zander was mal oor Helsinki.

Ek wou die Sibelius-monument sien ter ere van ‘n wêreldbekende komponis. Hierdie monument bestaan uit 600 orrelpype. Dit was ‘n entjie buite die stad en met ‘n bietjie tyd oor het ons besluit om in ‘n moderne winkelsentrum te gaan stap.

Bouwerk naby die sentrum het meegebring dat die busse nie meer stilgehou het op die plekke wat op die padkaart aangedui is nie en het ons gesukkel om betyds terug by die skip te kom. Gelukkig het my ervare kaartlesers tot ons redding gekom.

Stockholm, Swede

Stockholm het my asem weggeslaan. Ek sal graag terug wil gaan, want ek het nie genoeg tyd gehad om alles op my wenslys te sien nie. Stockholm strek oor 14 eilande en ek was mal oor die stad met al sy water en goed versorgde parke.

Ons het die Paleis, die amptelike woning van die koning wat al 50 jaar aan bewind is, besoek. Ek was verstom om te sien hoe toeganklik hulle die Paleis vir besoekers gemaak het. Dit is deftig en pragtig.

Dit was ook interessant om die skryftaal te kon verstaan, want daar is baie woorde wat na aan Afrikaans is. Om ‘n dag in Stockholm se treinstelsel deur te bring is soos om ‘n kunsuitstalling te besoek. Kunstenaars het honderd stasies met unieke kuns op die platforms, mure of wagareas versier.

As ek meer tyd gehad het, sou ek graag die Nobelprys museum, ABBA-museum en die parke wou besoek het.

Ons besoek aan Noord-Europa en die Baltiese See was ‘n verrykende ervaring. Ek deel foto’s hieronder.

Groete

Emsia

Gardameer se waters van rus

Gardameer se waters van rus

Die wêreld waarin ons leef is besig en vol uitdagings en verandering. Ons liggaam en siel het stilte en rustigheid nodig. Ons het tyd nodig om asem te skep, sin te maak van alles, af te skakel en teenwoordig te wees om die skoonheid om ons te geniet. ’n Verandering in ons omgewing verrig dikwels wondere.

Toe ons voor ons vakansiehuis naby die Gardameer in Noord-Italië stilhou, het dit na net die regte plek gelyk om rus en vrede te vind.

Die verblyf het ‘n groot stoep gehad omring deur pers bougainvilleas. Die sonbesies in die omliggende olyfboorde het vir agtergrondmusiek gesorg. Vroegoggend en aand het die kerkklok die mooiste deuntjie gespeel en die plaaslike donkie en pou aangemoedig om hul musikale bydraes te lewer.

Gardameer

Die Gardameer is die grootste meer in Italië, geleë tussen die Alpe en die Po-vallei. Die hoë berge, skilderagtige dorpies en welige natuur dra by tot ‘n pragtige prentjie. Ek het die goedversorgde tuine, grasperke en vele historiese klipgeboue wat die oewer van die meer versier, bewonder.

Om in die meer te swem was ‘n rustige ervaring. Die water is silwerskoon en baie verfrissend. Gesinne het in die water met ‘n bal gespeel of op ‘n SUP of kajak geroei. Die son het op die water geblink en ons kon die klippies op die bodem sien.

Ons het gereeld rondgery om die omgewing en verskillende dorpies langs die meer te verken.

Toscolano Moderno

Die dorpie naaste aan ons verblyf was Toscolano Moderno. Hierdie dorpie dateer uit die Romeinse tyd en was ‘n belangrike sentrum van papierproduksie. Dit het ‘n hawe vanwaar bote die papier na Venesië geneem het. In die verlede het adellike families hier gewoon. Oorblyfsels van pragtige villa’s omring deur talle suurlemoenboorde en welige tuine vol pers bougainvillaeas getuig hiervan.

Limone

Limone was die mooiste plek vir my en het steeds die atmosfeer van ‘n klein dorpie Die hoofaktiwiteite tot die vorige eeu was visvang en olyf- en suurlemoenverbouing. Ons het Limone op markdag besoek en kon eerstehands die verkope van suurlemoene en ander plaaslike en handgemaakte produkte ervaar.

Limone strek langs die oewer van die Gardameer en het kliphuise wat in die berghange versteek en met plante en blomme versier is. Baie plekke kyk uit oor die meer, en jy kan wonderlike uitsigte oor die Gardameer geniet as jy bereid is om die vele trappe wat na die terrasse lei, te klim.

Salo

Ons laaste besoek was aan Salo, die grootste stad aan die westelike oewer van die Gardameer. Ek lees dat Salo die langste promenade in Italië het en ons het saam met al die ander besoekers daarlangs gaan stap.

Daar is talle kafees en restaurante en ons het ‘n rukkie gaan sit en kyk hoe die wêreld verbygaan.

Die smal paaie in Italië

Die smal paaie in Italië het ons soos voorheen gekonfronteer. Met ’n klipmuur weerskante van die pad dorp toe, het ons net vooraf gehoop op geen aankomende verkeer nie. Soms was ons gelukkig, maar ander kere moes Charl vir lang afstande in trurat ry om plek te maak vir aankomende werksmense wat haas om betyds by die werk te kom. Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat daar ‘n groot verskil tussen Italiaanse en Switserse bestuurders is!

Ons het Gardameer se rustigheid geniet. Vir my is die Gardameer die Europse vorm van `n Hartenbos vakansie waarvan ek kosbare herinneringe as kind het.

Een van hierdie paadjies wat naby ons verblyf verby loop, vorm deel van ‘n Camino-roete. Die baie stappers het vir Zander en my aangemoedig om ‘n deel van die pad tussen twee kerke aan te durf. Die uitsigte oor die meer en baie koeltebome op die roete het ‘n aangename ervaring geskep.

Donderstorm

Een nag het `n donderstorm ‘n skouspel in die lug bo die meer veroorsaak. Dit was stormagtig, ons het glas hoor breek en die wind het die potplante op die stoep omgewaai. Die sonbeddens en sambrele het in die swembad ingewaai. ’n Pa het tevergeefs probeer om sy kinders se speelgoed wat buite gelaat is, te soek. Hy het met ‘n glimlag opgemerk dat hulle die volgende dag ‘n skattejag sou hou.

Die volgende oggend het ‘n kalmte neergedaal en die son het helder op die meer geskyn as ‘n teken dat die storm verby is. Ek deel ons vakansiefoto’s hieronder

Ek is dankbaar dat ons die rustigheid van die Gardameer kon ervaar. As kinders het ons gesin met somervakansies Hartenbos toe gegaan om vrede en ‘n verandering in omgewing te ervaar. Vir my is die Gardameer die Europese vorm van ‘n Hartenbos-vakansie.

groete

Emsia

Toevoegings tot my Londen herinneringe

Toevoegings tot my Londen herinneringe

Ek het gemengde gevoelens gehad oor Charl se voorstel om Londen gedurende die Kersvakansie te besoek. Daar is soveel plekke wat ek graag vir Zander wil wys. Dit sou egter beteken dat ek die Londen-herinnering boksie wat ek die afgelope 25 jaar baie diep weggebêre het, moes oopmaak. Dit was tyd.

Londen was vir my ʼn groei-tydperk (1995 – 1997)

My twee jaar in Londen in my vroeë twintigs was ‘n tydperk van groei. Hierdie Afrikaanssprekende Kalahari-meisie moes leer om behoorlik Engels te praat en aan te pas by ‘n globale stad met grys en koue weer. Soms het ek onder die SA vlag op Trafalgar square gestaan en bid vir krag vir die dag terwyl die trane oor my wange loop. Ek het vertroosting gevind in die Kiosk-eienaar oorkant die kantoor se “Good morning my, Love.”

Dit is duidelik hoe my Londen-ervaring ‘n voorbereiding vir my lewenspad was. In Londen het ek eers regtig myself en my Skepper leer ken. Ek het geleer dat ons baie meer innerlike krag en deursettingsvermoë het as wat ons dink. Die ervaring het die vlam aangesteek vir my reis, belangstelling in ander kulture en skryf passies. Ek het die noodsaaklikheid geleer om betrokke te raak en oop te wees vir nuwe dinge ten einde in ‘n nuwe omgewing te integreer. Die ervaring het my die geleentheid gebied om in ‘n Londense teater op te tree as deel van ‘n liefdadigheid Pantomime produksie.

Terugkeer na Suid-Afrika (1997)

Ons tydperk in Londen het in September 1997 afgesluit, kort ná Lady Diana se tragiese dood. Vol hoop en drome het ons op die vliegtuig terug na Suid-Afrika geklim. Die aanpassing terug in Suid-Afrika was egter baie meer ingewikkeld as wat ons verwag het. Ons, en baie dinge in Suid-Afrika, het in hierdie twee jaar aansienlik verander. Ons het twee pragtige seuntjies gekry, maar ons huwelik het aansienlike krake begin toon en in 2005 geëindig.

God het my geseën met ‘n nuwe lewensmaat en ‘n derde seun Zander. Zander geniet dit ook om nuwe plekke en kulture te verken, en die vooruitsig van ‘n besoek aan Londen tydens Kersfees en Nuwejaar vieringe in Skotland het hom opgewonde gemaak.

Londen 2022 Kersvakansie

In Switserland kyk ons Britse televisie en die taal, kultuur en humor is gevolglik bekend. Ons het die hele Crown en ander Britse Netflix-reekse soos Outlander gekyk. Brittanje het ‘n aansienlike groot impak en invloed op Suid-Afrika gehad en voel gevolglik soos ‘n familielid.

Ek en Londen het baie verander in die afgelope 25 jaar, maar daar was ‘n bekendheid in ons weersiens. Die somber en koue weer en bekende historiese landmerke het goeie herinneringe gebring. Al die Kersliggies in Oxfordstraat en Covent Garden het vir opwinding gesorg. Ons het ‘n Engelse Scrabble in Hamley se speelgoedwinkel gekoop, waarmee Zander vir my en Charl ore aangesit het.

Ons het ‘n tipiese Britse komedie-teater produksie in die West End beleef en tradisionele vis en skyfies met baie sout, asyn en tamatiesous geëet. Die Winter Wonderland in Hyde Park was ‘n skouspel. Ons het Buckingham-paleis besoek om die Changing of the Guards te sien. Amptenare het dit egter ongelukkig gekanselleer weens die reën. Ons het ook ‘n dag saam met vriende van Charl deurgebring wat ons twintig jaar laas in Suid-Afrika gesien het.

Charl het egter die dag ná Kersfees griepsimptome gehad. Na ernstige oorweging het ons besluit om huis toe te kom. Ek en Zander was siek met griep voor ons vakansie, en ons het verstaan hoe sleg en broos ‘n mens voel. Ons was teleurgesteld om die ABBA-konsert en die Edinburgh Hogmanay te mis, maar het deernis met Charl gehad.

Ons het Britse tradisies saam huis toe gebring

Toe ons by die huis kom, het Zander voorgestel ons maak die High Afternoon Tea Engelse tradisie deel van ons vakansie roetine. Ek het besluit dis tyd dat hy kook- en bak vaardighede aanleer, veral omdat hy permanent honger is. Gevolglik het ons die res van die vakansie spandeer om tee en skons te eet terwyl ons Scrabble gespeel het.

Ek is dankbaar vir die geleentheid wat my genoop het om my Londen-herinnering boksie weer oop te maak en nuwe herinneringe saam met Charl en Zander te bou.

Groete

Emsia

Provence se kleurvolle landskappe

Provence se kleurvolle landskappe

Almal van ons het uitgesien na die somervakansie. Ons behoeftes en verwagtinge het egter verskil. Ek wou plekke sien en mense en hul tradisies ervaar. Na ‘n besige jaar moes Charl rus en ontspan, en Zander het tiener behoeftes gehad.

Provence, in die suide van Frankryk, was hoog op my “bucket list”. Die area is bekend vir sy sonnige weer, kleurvolle platteland, vars plaasprodukte en Romeinse ruïnes. Charl het ingestem tot Provence op voorwaarde dat ons iewers by die see bly om daarna te swem, slaap en ontspan. Met al die stakings op die lughawens het ons per motor gereis.

Ek deel in hierdie brief meer oor ons Provence ervaring.  Ek sal in my volgende brief meer deel oor die “rustige deel van die vakansie” wat ‘n interessante wending geneem het.

Nougat van Montélimar

Ons eerste besoekpunt was Montélimar, bekend vir sy Nougat. Die lekkerny word hoofsaaklik van eierwitte, laventel heuning, vanilla en baie amandels en pistachio neute gemaak.  Ons het die oudste nougat vervaardiger en museum besoek.  Hulle besit hulle eie byekorwe langs die laventel lande en amandelboorde.  Die Nougat word nog soos in die ou dae hoofsaaklik met die hand gemaak.

Montélimar se plaaslike mark met vele vars en laventel geïnspireerde produkte was ʼn belewenis. 

Die ou stad van Avignon

Toe ons Avignon binne ry, het ons besef ons het ʼn probleem.  Ons was onbewus van die kunstefees gedurende die week van ons besoek.  Temperature was bo 40 grade en ons kon nêrens parkering vind nie. Dit het gevoel soos Oudtshoorn se KKNK fees in Suid Afrika. Ons het na ons hotel aan die buitekant van die dorp gery vir dinktyd, maar kon nog nie inboek nie. 

By die hotel was daar heerlike lugverkoeling,  ʼn swembad, asook foosball- en snoekertafels. Ek wou graag die ou stad sien, maar die manne het soos steeks donkies vasgehaak.  Gelukkig is hulle amper altyd honger en was die gedagte aan lekker kos by die fees, die regte wortel voor hulle neus om saam met my op die stadsbus te klim.

Laventel velde van die Lourmarin streek

Van alles in Provence wou ek die graagste die bloupers laventelvelde van die Lourmarin streek sien. Die ou heuwelstad Gordes met uitsigte oor die valleie, het ons eerste begroet. 

Verder af in die vallei het die 12de eeuse klooster, omring met laventel, my asem weggeslaan.  Na ons besoek aan hulle geskenkwinkel, was ons met ʼn laventelgeur omhul.

Hiervandaan het ons deur verdere lanventelvelde na die dorpie Roussillon gery. Die plek is bekend vir sy rooi kranse gevorm deur ysterryke kleurpigment in die grond. Die rooi, geel en bruin skakerings van die aarde vorm ‘n treffende kontras met die welige groen dennebome en was gebruik om die dorp se geboue te kleur. 

Met ʼn belofte van roomys in Lourmarin was die manne bereid om nog verder te ry.  Die laventel gegeurde roomys was ʼn eerste vir my en verbasend lekker.  Ek het ook Franse appelkoos-en-laventel konfyt, laventel stroop en laventel brosbrood gesien.  Op die plein het die toeriste die tipiese Europese somermiddagete van spanspek in Parma Ham toegedraai, geniet.

Van Gogh se dorpie Arles

Die Nederlandse Vincent van Gogh het gedurende 1888 ʼn jaar lank in Arles gewoon op soek na hitte en son.  Die toerisme kantoor het ʼn staproete wat jy kan volg en dan sekere plekke met Van Gogh se kunswerke vergelyk.

Ons het die straatkafee wat hy geskilder het asook die “mental” hospitaal waar hy in sy laaste dae gewoon het, besoek.  Hulle onderhou die tuin om steeds soos sy skildery te lyk.

Een van sy bekendste skilderye is Starry Night wat hy geverf het langs die Rhône rivier naby aan waar ons gebly het. Soos ek deur die strate gestap het, het ek die woorde van die lied met die titel Vincent in my gedagtes opgeroep:

Starry, starry night
Paint your palette blue and grey
Look out on a summer's day
With eyes that know the darkness in my soul
Now, I understand what you tried to say to me
And how you suffered for your sanity
And how you tried to set them free
They would not listen, they did not know how
Perhaps they'll listen now

Bastille fees in Marseille

Marseille het ons met wonderlike herinneringe gelaat.  In die middedorp is die ou hawe met markte en straatkafees. Vanaf die ou hawe het ons met die bus al langs die kus gery om in die Mediterreense see te swem. Die manne het ʼn week lank uitgehou net om dit te ervaar. Die mooiste strande en turkoois water was die wag werd. 

Ons kon Bastille dag in Marseille ervaar. Na die parades deur die Franse militêre- en ander beskermingsmagte, het mense in die ou hawe piekniek gehou terwyl hulle vir die vuurwerke wag.  Die vuurwerke was vanaf platforms in die see afgeskiet en gesinchroniseer met mooi musiek. Dit het die pragtig ou hawe se klipmure verlig en oomblikke in my geheue verewig. 

Ek deel my foto’s in die video hieronder.

Groete

Emsia