Browsed by
Category: Europa

Griekeland bly roep ons terug

Griekeland bly roep ons terug

‘n Verpaste veerboot in Athene

Ons EasyJet-vlug vanaf Londen het net ná sonsopkoms in Athene geland. Ek het deurnag gewerk en reguit van die kantoor af lughawe toe gegaan.  Die opgewondenheid van ‘n welverdiende vakansie het die moegheid laat verdwyn, die oomblik to ons van die vliegtuig afklim.

Met die uitstap na buite het dit gevoel asof iemand die oond se deur wawyd oopgelos het. Ons taxibestuurder het, met Griekse musiek oor die luidsprekers, deur die oggendverkeer gejaag asof hy aan ‘n Formule 1-wedren deelneem.

Ons het die vakansie sorgvuldig beplan met ‘n tent, rugsakke, besprekings en selfs ‘n kleurgekodeerde reisplan. Daar was net een ding waarvoor ons nie voorsiening gemaak het nie: om die veerboot te verpas.

Uitasem het ons by die kaartjiekantoor ingestorm. “Die veerboot het reeds vertrek,” was die man agter die toonbank se woorde. “Wat bedoel jy dit het vertrek?” Hy het na my sorgvuldig voorbereide reisplan gekyk en aanbeveel. “Verander jou plan.”

Drie woorde ons manier van reis verander

Dit was dertig jaar gelede, maar daardie drie woorde het my nooit verlaat nie. Elke keer wanneer die lewe my met ‘n toe deur of ‘n onverwagte ompad konfronteer, dink ek terug aan die Griekse man agter die kaartjietoonbank.

Destyds het ek gedink hy gee bloot reisadvies. Ek het eers later besef dit was ‘n eenvoudige les oor hoe ‘n mens deur die lewe behoort te beweeg.

Hoekom Griekeland ons aanhou terugroep

Sommige plekke beïndruk jou een keer. Griekeland het stilweg deel van ons lewensverhaal geword.

Dit is nie net die asemrowende natuurskoon wat ons telkens teruglok nie; dit is die mense. Keer op keer het ons ‘n stille gasvryheid ervaar wat niks terugverwag nie. Families verwelkom vreemdelinge soos ou vriende. Mense geniet etes stadiger en die lewe voel net eenvoudiger. In daardie rustige oomblikke besef jy hoe skaars opregtheid geword het.

Gesinsherinneringe in Griekeland

Toe ons oudste seun, Jacques, net 13 maande oud was, het ons saam met hom in Griekeland gaan kamp. Elke aand het ons na die plaaslike taverna gestap vir Griekse slaai, vars brood en tzatziki. Sodra die musikante begin speel het, het Jacques waggelend die dansvloer ingevaar. Die ander gaste het geglimlag, hande geklap en sy klein danspassies deel van die aand se vrolikheid gemaak.

By die kampterrein het studente tot laatnag gesels en gelag. Wanneer hulle uiteindelik stil geraak het, het Jacques oorgeneem. Gewapen met ‘n klippie en ‘n leë Coke-blikkie het hy met sonsopkoms sy eie perkussiekonsert begin en die stil oggend met dieselfde entoesiasme begroet waarmee hy die vorige aand gedans het.

Met ons terugkeer na Kaapstad het ons uitgevind dat Jacques ‘n boetie gaan kry. Ons het hom Christo genoem. Hoewel dit ‘n familienaam is, het dit nog meer betekenis gekry omdat dit afkomstig is van die antieke Griekse woord Christos, wat “die Gesalfde” beteken. Oral in Griekeland word jy daaraan herinner dat hierdie landskappe deel van die Nuwe Testament wêreld was.

Jare later, tydens die COVID-pandemie, het ons weer teruggekeer. Dit was toevallig tydens die FIFA Wêreldbeker. Gaste van verskillende lande het saam op die grasperk by ons verblyf vergader om die wedstryde te kyk. Vir ‘n paar uur het vreemdelinge vriende geword.

Hoekom ons Kefalonia gekies het

Ons afgelope vakansie het oor meer gegaan as net nog ‘n mooi eiland. Ons het rus nodig gehad, tyd om te dink en geestelik voor te berei vir ‘n nuwe seisoen van afsluiting, nuwe begin en verandering. Kefalonia was presies wat ons nodig gehad het.

Die Griekse gasvryheid het sigbaar geword in die twee pragtige huisies waar ons gebly het. Ons gashere het ons bederf met bottels plaaslike Robola-wyn, sonryp perskes, druiwe, spanspek en tuisgemaakte baklava. Elke besoek het geëindig met dieselfde vraag: “Is alles reg? Het julle enigiets nodig?” Dit het nooit soos kliëntediens gevoel nie; eerder soos opregte vriendskap.

Ons eerste huisie het aan ‘n Belgiese egpaar behoort wat hul winters op die eiland deurbring. Binne was ‘n kas vol bordspeletjies. Gou het ons aande ontaard in uiters mededingende Scrabble-wedstryde. Die stel was in Frans, daarom het ons besluit dat woorde uit enige taal sou tel.

Met ons aanbeweeg na die tweede huisie, wou ons die kompetisie voortsit. Charl het die grootste speelgoedwinkel in Argostoli gebel en was verheug om te hoor dat hulle Scrabble in voorraad het. Nadat ons oor die berge en dwars oor die eiland gery het, het ons die boks triomfantlik oopgemaak. Elke letter was Grieks. Ons kon net lag. Ek het nuwe waardering vir die Grieke ontwikkel wat meer as een alfabet moet aanleer.

Kefalonia se mooiste plekke

Kefalonia voel asof die natuur besluit het om haar mooi te vertoon. Berge tuimel af na ongelooflik blou see, woude bedek die heuwels en agter byna elke draai wag ‘n versteekte baai.

Myrtos-strand

Toe ons bo-op die krans by Myrtos-strand staan, was ons sprakeloos. Onder ons het die see geskitter in skakerings van turkoois en saffier, omraam deur indrukwekkende wit kranse. Die kronkelpad af strand toe was amper net so onvergeetlik soos ons eerste swem.

Melissani-grot

Die Melissani-grot was ewe betowerend. Sonlig het deur die ineengestorte dak gestroom en die ondergrondse meer in vloeibare saffier verander. Terwyl ons roeibootjie oor die kristalhelder water gegly het, het dit gevoel asof ons in die lug dryf.

Argostoli en die karetseeskilpaaie

In Argostoli het ons oor die historiese De Bosset-brug gestap en afgekyk na bedreigde karetseeskilpaaie wat rustig deur die helder hawewater geswem het.

Fiskardo – ‘n Dorpie waar tyd stil gaan staan het

Een van my gunstelingplekke bly Fiskardo, een van die min dorpies wat die verwoestende aardbewing van 1953 oorleef het. Die kleurvolle Venesiaanse geboue en blomryke waterfront laat dit voel asof tyd daar stadiger verloop.

Antisamos-strand en Captain Corelli’s Mandolin

Naby ons huisie was Antisamos-strand, bekend uit die film Captain Corelli’s Mandolin. Ek het die fliek jare gelede geniet. Dit het soos ‘n klein geskenkie gevoel om die DVD op die rak van ons huisie te ontdek, asof die eiland ons stilweg aan sy eie verhaal herinner.

‘n Bootvaart om die Mitiese Ithaka

Een van die hoogtepunte van ons vakansie was ‘n bootvaart om die naburige eiland Ithaka, die legendariese tuiste van Odusseus. Terwyl ons verby afgesonderde baaie en rotsagtige kuslyne gevaar het, was dit maklik om te verstaan hoe hierdie landskap die Griekse mites geïnspireer het.

Twee keer het die kaptein eenvoudig die boot gestop en almal genooi om in die glashelder see te spring. Later het ons rustig middagete geniet in slaperige vissersdorpies waar niemand haastig was nie. Daardie stadige lewenstempo het gou aansteeklik geword.

Wat Griekeland ons geleer het

Dertig jaar gelede, in ‘n besige kaartjiekantoor in Athene, het ek gedink “Verander jou plan” is die slegste reisadvies wat ek nóg ontvang het. Vandag weet ek beter.

Van ons grootste avonture, kosbaarste herinneringe en diepste vriendskappe het ontstaan toe ons planne nie uitgewerk het soos ons verwag het nie. Griekeland het ons geleer om stadiger te leef, ruimhartige mense raak te sien en te vertrou dat die onverwagte ompaaie dikwels die mooiste deel van die reis word.

Miskien is dit waarom Griekeland ons telkens terugroep. Dit is nie net die turkoois see, die bergdorpies of die eindelose somersaande nie. Dit is die herinnering dat, terwyl ons ons eie planne maak, die lewe dikwels ‘n mooier verhaal skryf as wat ons ooit self sou kon uitdink.

En wanneer die plan verander, probeer ons saam verander.

Groete

Emsia

Die Duitse benadering tot welstand

Die Duitse benadering tot welstand

Ek het in ’n land ryk aan verskeidenheid van natuurervarings, grootgeword. Daar is groot verskille tussen see, berg, bos, woestyn en woud, maar elke streek bring sy eie ritme van genesing en rustigheid – fisies, emosioneel én geestelik.

As kind het ek met my kaalvoete in die rooi Kalahari-sand grootgeword. Daar is ruimte. Daar is stilte. In die afwesigheid van geraas leer mens om te luister — na die wind, die voëls, en na jouself. As die son sak, ontvou een van die helderste sterrehemels op aarde. In die Kalahari het ek geleer welstand beteken wees stil, luister en leef stadig.

Later, het ek as jong werkende, in die skaduwee van Tafelberg begin woon.

My hart het in ritme met die see begin klop en die oseaan het my natuurlike terapeut geword. Met my voete in die koel wit sand het ek gevoel hoe die wêreld se gewig saam met elke golf wegspoel. Die sout lug, swaar van negatiewe ione en die reuk van kelp,  is soos ’n tonikum vir liggaam en gees. Dit reinig, verfris en herinner mens om weer dieper asem te haal.

Die Duitse weg tot welstand

Nuwe ontdekkings het op ons in Europa gewag. In die Duitssprekende lande — Switserland, Duitsland en Oostenryk — het ons ’n ander benadering tot welstand leer ken. Hierdie benadering is diep gewortel in eeue van tradisie en pas perfek by die natuurlike omgewing en klimaat. Hier het ons kennis gemaak met die Kurhotel, oftewel die “genesingshotel”.

’n Kurhotel is veel meer as ’n luukse spa. Dis ’n plek waar mense heen kom om liggaam en gees te herstel, onder die sorg van kundiges en met die natuur as bondgenoot. Hier vloei mediese sorg, natuur en ontspanning saam tot ’n unieke ervaring van balans.

Die hotelle lê in erkende kuuroorde, waar die lug kristalhelder is, die water minerale dra, en die ritme van die lewe stadiger klop. Binne wag dokters, fisioterapeute en welstandspesialiste wat elke gas se behoeftes verstaan. Daar word alles aangebied — van hidroterapie, massering en joga, tot saunas, bewustheidswerksessies en eenvoudige, gesonde kos.

Wat my veral beïndruk het, is dat in Duitsland sommige van hierdie Kur-verblywe deur mediese fondse gedek word. Dit wys hoe die Duitsers welstand as deel van gesondheid beskou — nie as ’n luuksheid nie, maar as ’n noodsaaklikheid vir volhoubare lewenskwaliteit.

Die genesende gees van Bad Wörishofen

Ons het onlangs die lieflike kuuroorddorp Bad Wörishofen besoek. Dit is ’n plek wat tot vandag toe asemhaal in die gees van Sebastian Kneipp. Ek was diep geraak deur sy lewensverhaal en die blywende invloed wat hy op hierdie dorpie gehad het. In die dorp verwys hulle sommer na Kneippstadt.

Ek het eers in Europa met Kneipp se produkte kennis gemaak en gebruik dit graag as geskenke vir familie en vriende wanneer ek Suid-Afrika toe reis. Om meer oor sy denke te leer, het my waardering vir sy produkte verdiep.

Sabastian Kneipp, die Beierse priester

Kneipp (1821–1897) was ’n Beierse priester wat geglo het dat die natuur self die grootste geneser is. Nadat hy homself van tuberkulose genees het deur in die koue Donau te bad, het hy ’n holistiese gesondheidstelsel ontwikkel wat mense wêreldwyd steeds inspireer.

Sy benadering berus op vyf eenvoudige, maar kragtige pilare:

  • Waterterapie – warm en koue baddens wat die bloedsomloop stimuleer.
  • Kruiegeneeskunde – natuurlike middels en tees vir innerlike herstel.
  • Beweging – die genesende waarde van daaglikse stap en vars lug.
  • Voeding – eenvoudige, plantgebaseerde kos wat voed eerder as vul.
  • Balans – rus, stilte en geestelike vrede as deel van gesondheid.

Toe hy in 1855 die pastoor van Wörishofen geword het, was dit ’n klein, nederige dorpie. Onder sy leiding het dit verander in ’n oord van genesing en hoop. Mense van regoor Europa het gekom om deur hom behandel te word — nie net om siekte te oorwin nie, maar om hul lewensenergie en balans terug te vind.

Vandag leef sy nalatenskap voort. Bad Wörishofen bied steeds Kneipp-wandelpaaie, kaalvoetroetes en watertrapbaddens, en die dorp se Kurhotelle eer sy vyf pilare van welstand. In 2021 het UNESCO die Kneipp-Kuur as Ontasbare Kulturele Erfenis erken — ’n welverdiende eer vir ’n eenvoudige priester wat geglo het dat water en geloof saam kan genees.

Bad Wolishofen Therme

Die Bad Wörishofen-termiese spa het ons asem weggeslaan. Die hoofswembadarea, bekend as “Thermenparadies,” is pragtig ontwerp, met regte palmbome wat ’n eksotiese, tropiese atmosfeer skep. Dit bied areas wat jou lyf met lugborrels masseer en selfs ʼn swembadkroeg. Dit is die perfek om in die warm water te ontspan en kuier.

Die spa maak gebruik van staat-gesertifiseerde termale geneeswater wat uit ’n diepte van 1 100 meter kom. Daar is verskeie mineraalryke baddens, elk met unieke genesende eienskappe: soutwater, swael, jodium-selenium en kalsium-litium. Die watertemperatuur wissel tussen 34 en 38 °C, wat heerlik ontspannend is. Die Vitality Bath & Sauna-area bied ’n groot verskeidenheid van 15 temasaunas en stoomkamers om te verken.

Die spa word omring deur uitgestrekte tuine van 163 000 vierkante meter, waar jy kan stap, rus of op jou gemak kaalvoet rondwandel. Die tuine bevat afdelings vir kruie, geurplante en medisinale plante—’n ware vreugde vir enigiemand wat Kneipp-terapie waardeer. Daar is ook ’n 1 500 meter lange “barfußweg” (kaalvoetpad) wat jou uitnooi om oor verskillende natuurlike oppervlaktes te stap en die natuur met elke tree te beleef.

Ware welstand begin in die natuur

Daar is ʼn goue draad wat loop tussen die verskillende plekke waar ek gewoon het. Die stil rooi Kalahari sandduine, die koue Atlantiese golwe van Kaapstad, en die warm minerale baddens van Europa is verskillend, maar tog diep verbind.

Al hierdie plekke fluister dieselfde waarheid: ware welstand begin in die natuur.

Dit lê in stilte en asemhaling, in sonlig en water, in eenvoudige rituele van rus en teenwoordigheid. Mag ons almal weer leer om stadig te leef — om kaalvoet in die sand te loop, die see se sout te ruik, diep asem te haal, en die natuur toe te laat om ons te herstel.

Groete

Emsia

München – veel meer as Oktoberfest

München – veel meer as Oktoberfest

Aangesien ek in Oktober verjaar, mag ek elke jaar ons herfswegbreek bestemming kies. Ek kies gewoonlik lande oos van Switserland, want die herfskleure is pragtig. In die verlede het ek Boedapest in Hongarye en Tirol in Oostenryk gekies. Hierdie jaar het ek my visier op München, Duitsland gerig.

München, die hoofstad van Bavaria, is bekend vir sy besonderse bier. Terwyl baie mense dit ken as die tuiste van Oktoberfest, die wêreld se grootste bierfees, was ons besoek net ná die feesvieringe. Ons het vinnig agtergekom dat München baie meer bied as bier en feesvieringe. Die stad het pragtige parke, ‘n ryk geskiedenis en verrykende ervarings.

Tuisdorp van BMW

München is die geboortedorp van my gunsteling motorhandelsmerk, BMW. Dit staan ​​vir Bavariaanse Motor Werke. Tydens ons besoek het ons in BMW se geskiedenis gedelf en gesien hoe dit van sy nederige begin tot die motorreus ontwikkel het.

Die indrukwekkende argitektuur van die BMW Welt-geboue weerspieël die handelsmerk se innovasie en elegansie. Binne het ons verskeie areas verken, insluitend die ontvangsgeriewe en die ruimte waar hulle die sleutels van splinternuwe voertuie aan hul opgewonde eienaars oorhandig.

My pa was passievol oor meganiese ingenieurswese en was saam met my toe ek my eerste BMW getoetsbestuur het. Ek wens ek kon hierdie BMW-ervaring in München met hom deel.

Wetenskap en Tegnologie Museum

Duitsland is lank reeds die middelpunt van wetenskaplike briljantheid. Die land het van die mees invloedryke geeste in fisika, wiskunde, chemie en ingenieurswese voortgebring. Dit het dus gepas gevoel om die ikoniese Deutsches Museum te besoek.  Dit is een van die grootste museums gewy aan tegnologie en wetenskap, ter wêreld.

Die groot verskeidenheid uitstallings was verbysterend. Vriende het ons aangeraai om op ‘n paar temas te fokus aangesien die museum veels te groot is om alles op een dag te verken. Ons het besluit om op Optika, Elektronika en Wiskunde te konsentreer. Later het ons ook na die modeltrein- en brugbou-uitstallings gaan kyk.

Die uitstallings is interaktief en nooi jou uit om met jou sintuie te ontdek. Die museum is enorm, en jy kan maklik in sy nimmereindigende gange verdwaal.

Duitse Kultuur en die Ou Stad

Marienplatz is al eeue lank die hart van München. Dit het eens gedien as die stad se bedrywige mark waar handelaars eiers, meel, wyn en vis verkoop het. Vandag is dit ‘n plek waar plaaslike inwoners en toeriste bymekaarkom, veral tydens geleenthede soos die Kersmark wat die plein elke winter met feestelike vrolikheid vul.

Klokkespel

Die Nuwe Stadsaal oorheers die noordekant van die plein. Sy gotiese argitektuur is indrukwekkend, maar die hoofattraksie is die historiese klokkekspel wat twee keer per dag lui. Met 43 klokke is dit een van die grootstes in Europa. Tydens die klokkespel voer beeldjies tonele uit München se verlede op.

Viktualienmarkt

Ons het ook die Viktualienmarkt besoek wat vroeër ‘n boeremark was. Deesdae is daar sowat 100 stalletjies wat alles van vrugte en groente, vis en vleis tot brood, speserye en lekkernye verkoop, asook lieflike geskenke en aandenkings.

Daar is ook ʼn groot biertuin waar almal sit en gesels en alles dophou. In Switserland en Duitsland is dit wettig om reeds van die ouderdom 16 af al bier te drink.  Hulle verkoop biere in halfliters of volliters.  Ons het toe maar in eg Duitse tradisie ingeval met ‘n bier en Bratwurst met sauerkraut.

Bavariaanse gees in Hofbräuhaus

Vir my verjaardag wou ek regte Bavariaanse kos en gees ervaar. Die aanvanklike plan was om na die legendariese Hofbräuhaus te gaan. Ons het binnegestap en die indrukwekkende plek ervaar, maar dit was so vol dat ons op ‘n kleiner soortgelyke plek met minder toeriste besluit het.

Die Duitse musiek en die plek se dekor het `n gasvrye atmosfeer geskep om die tradisionele Duitse kos in te geniet.  Ons het sit en kyk hoe hulle elke nou en dan `n nuwe biervat bring om die glase uit vol te maak.

Nymphenburg Palace

Die Numphenburg Paleis was die somerwoning van die Bavariaanse heersers gedurende die sewentiende en agtiende eeu.  Ek het veral die tuine van die Nymphenburg Paleis in herfskleure getooi, baie geniet. Dit word baie goed instand gehou en bied  ʼn pragtige agtergrond vir troufoto’s.

München is die rivierbranderplankry hoofstad van die wêreld

Ons het ontdek dat die wêreld se grootste stedelike branderplankryplek in München is. Die stad se Eisbach-rivier, ‘n 2-kilometer stuk met mensgemaakte golwe, lok branderplankryers van oor die hele wêreld. Die naam “Eisbach” beteken letterlik “ysspruit”, wat gepas is. Plaaslike inwoners en toeriste kom  bymekaar om te kyk hoe waaghalsige branderplankryers in die rivier se stygende getye balanseer.

München se kombinasie van kultuur, geskiedenis en hartlike kos maak dit  ʼn goeie bestemming vir ‘n herfsuitstappie.

Groete

Emsia

Ons eerste strandvakansie in Kroasië

Ons eerste strandvakansie in Kroasië

Suid-Afrika word deur oseane omring. Ons assosieer gevolglik somervakansies met wit strande en die klank van brekende golwe. Terwyl Switserland pragtige natuurskoon bied, verlang ons soms na die see. Ons mis dit om kaalvoet op die sand te loop, sandkastele te bou en in die branders te speel. Al die lede van die Goosen gesin is mal oor water en die strand is ons idee van ‘n Happy Place.

Ons het lank na ‘n strandvakansiebestemming in Europa gesoek. Beskikbaarheid en bekostigbaarheid van die pragtige liggings langs die Middellandse See het uitdagings gestel. Ná ’n lang en strawwe winter smag mense regoor Europa na son en see.

Toe Zander ‘n plek vir sy uitruilervaring moes kies, was sy topprioriteit ‘n land met ‘n kuslyn en golwe. Sy droom het waar geword toe hy ‘n uitruilgeleentheid in Perth gekry het. Hulle kon na skool strand toe gaan en ondanks die winter in Australië het hulle baie tyd in die see deurgebring en verskeie aktiwiteite geniet. Hy het selfs die kans gehad om te leer branderplankry.

Kampterrein in Kroasië

In ons soektog het ons op Kroasië gefokus en ‘n kampplek genaamd Mont Perin ontdek. Dit is by die see naby Rovinj in die Istrië-streek van Noord-Kroasië geleë. Dit het geblyk die perfekte keuse vir ons te wees. Die kampeerterrein bied verskeie soorte akkommodasie, insluitend kampeerplekke, mobiele huise, en ‘n verskeidenheid van villas.

Ons het in ‘n villa naby die see gebly en het elke oggend vroeg in die see geswem. Die strande was klipperig, so ons het waterskoene vir gemak gekry. Een voordeel van ‘n klippiestrand bo ‘n sanderige een, is dat die huis sandvry bly. ‘n Mens kon duidelik tot op die bodem deur die rustige en mooiste turkooisblou kleur water sien.

Vermaak

Die kampterrein het ‘n verskeidenheid vermaaklikheidsopsies vir gesinne gebied. Die baai-area het aangewese plekke vir swem, roei of roeiplankry (SUP’s). Ander gebiede was meer klipperig, perfek om die onderwaterwonderland met ‘n duikbril te verken. Bedags het die kinders die opblaas-speelarea in die see geniet. In die aand het hulle animasie films op `n grootskerm in die see gewys

Die kampterrein het ook tennis-, vlugbal- en sokkerbane en ‘n dinosourus-tema waterpark vir gesinne met jonger kinders gehad.

Vervoer

Die kampterrein is redelik groot. Om dit vir almal maklik te maak om rond te beweeg, is daar ‘n treintjie wat gereeld deur die terrein loop. Vir diegene wat nie hul eie saamgebring het nie, is fietse ook te huur. Ons was verheug om te ontdek dat elke villa ‘n klein elektriese of gholfkarretjie het.

Die villa se Twingo het Zander se eerste bestuursles in Kroasië moontlik gemaak. Ons het ‘n paar keer tennis gespeel en daarna het Zander ons terug huis toe gery. Charl het van voor instruksies gegee terwyl ek senuagtig agter gesit het. Gelukkig het hy baie goed reggekom. Dit is baie makliker om  met ‘n elektriese motor te leer bestuur as met `n handrat pertrol model soos wat sy ouer broers moes doen.

Bakkery en vars groente uit die tuin

Die kampterrein beskik oor ‘n bakkery, waar mense vroegoggend gretig in die ry staan ​​om ‘n vars broodjie of croissant saam met hul koffie te geniet. Elke oggend, nadat ek en Zander vinnig in die see geswem het, het Charl ons met warm, varsgebakte croissants bederf.

Ons was verheug om te ontdek dat Mont Perin groentetuine het. Die kampterrein bied gaste twee keer per week ‘n komplimentêre sak vars Mediterreense groente. Die sak het tamaties, komkommers, soetrissies, eiervrugte en murgpampoene ingesluit. Saam met die groente het ons ook ‘n spanspek en waatlemoen ontvang. Ons het die vrugte en groente in ons slaaie, pastasouse gebruik en ook gereeld ratatouille gemaak.

Vroegaand, was die kampterrein met heerlike kosreuke gevul. Kampeerders het hul maaltye op gasstowe voorberei aangesien oop vure nie toegelaat is nie.

Dinasours beendere in die Istrië area gevind

Ons het opgemerk dat baie waterparke in die Istrië-streek ‘n dinosourus-tema het. Dit het volkome sin gemaak toe ons uitvind dat Istrië die enigste streek in die Middellandse See is waar duikers dinosourusbene gevind het. In 1992 het ‘n duiker ‘n terrein met bene op die seebodem naby Bale-Valle ontdek, wat die eerste ontdekking van dinosourusoorblyfsels aandui.

Die bene het die bestaan ​​van ten minste tien groepe dinosourusse onthul, insluitend die plantvretende Brachiosaurus, een van die grootste en swaarste dinosourusse ooit. Hierdie massiewe wese was 20 tot 25 meter lank, met ‘n nek van ongeveer 10 meter lank.

Ons is dit almal eens dat hierdie een van ons lekkerste vakansies in Europa was. Ons het vergeet van tyd en net oorgegee, lekker en gesond geëet en baie goed geslaap. Moeder Natuur het mooi na ons gekyk.

Herinneringe in ‘n Fotovideo:

Groete

Emsia

Venisië het my asem weggeslaan

Venisië het my asem weggeslaan

My geliefdes beskryf my as prakties en realisties. Ek bekyk plekke en situasies deur hierdie lens, wat dikwels tot baie hoe en waarom vrae lei. My kameralens help my om die mooi, die ou, die snaakse en die anderse te sien en te geniet. In Venesië was daar baie om te geniet, te waardeer, oor na te dink en wonder. Venisië, bekend as die “Stad van Kanale” of die “Drywende Stad,” is skilderagtig en fassinerend.

Toerisme in Venisië

Die kanale van Venesië se historiese kwartier maak dit een van die mees besoekte plekke in Europa. Verlede jaar het 20 miljoen reisigers Venesië, wat net 50 000 inwoners het, besoek. Om die impak van oortoerisme te versag, het stadsamptenare verskeie maatreëls ingestel. In 2021 het hulle plesierbote verbied om aan te dok, toergroepgroottes tot 25 mense beperk en ‘n fooi vir dagbesoekers ingestel.

Ons het ons vakansie met ‘n kort besoek aan hierdie pragtige historiese stad afgesluit. Ons het op ‘n warm Sondagmiddag by St. Lucia Venesië-treinstasie aangekom. Ons verblyf was so 2 kilometer weg en hoewel ek mal is oor stap, was hierdie stap amper te veel vir my. Toeriste het in die strate saamgedrom en ons moes met ons bagasie deur die massas navigeer, terwyl sweet teen my rug afstroom. Om my swaar tas en rugsak oor die baie kanaalbrûe met baie trappies te dra, was besonder uitdagend. Ek was dankbaar dat Charl die navigasie tussen al die nou en kronkelpaadjies behartig het.

Venesië berei reeds van vroegoggend af vir die toeriste voor

Om vroeg in die oggend wakker te word as ‘n stad ontwaak, maak my opgewonde. In Venesië het die inwoners baie vroeg begin met voorbereidings vir die nuwe dag. Die geur van varsgemaalde koffie en gebak het in die lug gehang. Seevoëls het opgewonde by die vismark geskree. Handelaars het voorrade uit hul mobiele stalletjies uitgepak. Bote op die kanale het goedere vir winkels en restaurante ingebring terwyl rommel verwyder is. Dit alles in die vroeë ure gebeur, want bedags vul toeriste op gondels die kanale.

Gondels op die kanale

Gondels is ‘n historiese en tradisionele deel van Venesië, wat ‘n ikoniese manier bied om die stad te verken. In die 17de en 18de eeue het gondels ‘n hoogtepunt bereik in gewildheid, met ‘n geskatte 10 000 in Venesië. Daarteenoor word slegs sowat 400 deesdae hoofsaaklik vir toerisme gebruik.

Vroegoggend het ons gesien hoe gondeliers die bote vir die dag voorberei het. Om ‘n gondelier te word vereis meer as 400 ure se opleiding oor ses maande. Benewens die bemeestering van gondelmaneuver- en lewensreddingsvaardighede, leer hulle ook vreemde tale en Venesiese geskiedenis en kultuur.

Basilica van San Marco

Die Basilica di San Marco (St. Mark’s Basilica) is die katedraalkerk van Venesië en is saam met sy plein die bekendste en mooiste landmerk in die stad.

Volgens oorlewering het Markus die kerk in Egipte gestig en is hy as biskop van Alexandrië aangestel nadat hy saam met Petrus in Rome gedien het. Mense het geglo dat hy daar as ‘n martelaar gesterf het. Agt eeue nadat hy in 68 nC gesterf het, het die Venesiërs sy liggaam na Venesië gebring. Die stad se regerende klas wou St. Markus as die beskermheilige van hul ekonomiese status hê, en daarom het hulle gereël om sy liggaam uit Egipte te smokkel.

Murano die glaseiland

Ons het Murano, die glaseieland, met `n taxibootbesoek. Glaswerk is `n ou en belangrike kunsvorm en was vir honderde jare een van die belangrikste kommersiële nywerhede van die Venesiese Republiek. Stadsowerhede het die glasoonde is gedurende 1291 na Murano verskuif om die stadsentrum teen die risiko van brand en die uitlaat van handelsgeheime oor die produksieproses te beskerm. Die glasmeesters kon ook vaardighede en tegnieke uitruil en so die kunsvorm tot nuwe hoogtes verhef.

Ons het `n demonstrasie bygewoon waar ons kon sien hoe kunstenaars werk en glas blaas met eeue-oue tegnieke om die mooiste ornamente na vore te bring.  Daarna het ons `n uitstalling van die mooiste kunswerke besoek.

Die Venisië Karnaval

Verkopers het maskers vir die Venesiese Karnaval by die meeste stalletjies en markte verkoop. Hierdie geleentheid is wêreldwyd bekend vir sy pragtige kostuums en maskers. Die viering duur tien dae in Februarie, waartydens mense pragtig aantrek en aan georganiseerde parades of eenvoudige optogte op straat deelneem.

Die Karnaval voer sy oorsprong na die Middeleeue terug en het vir etlike eeue voortgeduur. Mense het die tradisie in 1797 afgeskaf, maar dit in 1979 laat herleef. Dit lok jaarliks ​​ongeveer 3 miljoen besoekers.

Venisië is besonders en een van Italië se mooiste stede

Die drywende stad, met sy kronkelende kanale, treffende argitektuur en pragtige brûe, is ongetwyfeld een van Italië se wonderlikste stede. Die standbeeld van die wit hande in Venesië het my met ‘n boodskap gelaat. Hulle simboliseer die nodigheid om brûe te bou en verskille te oorkom. Elke stel hande verteenwoordig ‘n ander menslike waarde soos liefde of wysheid.

As jy van reis hou, is Venesië die moeite werd om te besoek en te ervaar. Ek beveel egter aan om die tyd van die jaar vir jou besoek met sorg te kies en so lig as moontlik te reis.

Groete

Emsia

Ons eerste ski vakansie in Livigno, Italië

Ons eerste ski vakansie in Livigno, Italië

Dit is ons vyfde winter in Switserland en ons kan steeds nie ski nie. Ons het lankal vrede gemaak met die feit dat ons die sneeu op ander maniere as ski kan geniet. Aangesien al Zander se vriende gedurende die wintermaande ski, was dit nodig dat ons hom die geleentheid gee om te leer.

Livigno, klein Tibet van die Alpe

Ons het op Livigno in Italië besluit.  Dit is gerieflik naby aan ons veral met die trein wat motors saam met die insittendes deur die Alpe vervoer. Livigno word ook soms die Tibet van die Alpe genoem, hoofsaaklik as gevolg van sy hoogte bo seespieël en klimaat.  Die streek beleef lang en koue winters wat gekenmerk word deur aansienlike sneeuval. Gedurende hierdie seisoen vries die strome en mere in die vallei, wat bydra tot die skilderagtige winterlandskap.

Die omgewing bied vele geleenthede om die sneeu te geniet. Berge aan weerskante van die dorp spog met verskeie ski hellings maar ook pragtig ingerigte sneeuparke. Tydens ons besoek was dit duidelik dat voorbereidings in Livigno vir snowboard- en freestyle kompetisies vir die Milaan-Cortina 2026 Winter Olimpiese Spele aan die gang was.  Tydens ons besoek het ons nooit nodig gehad om met ons motor te ry nie. Die middel van die dorp is `n motorvrye area en gratis busvervoer is in die ski seisoen vir besoekers beskikbaar.

Die dorp is in die feestyd pragtig versier en en het uitstekende geleenthede vir belastingvrye inkopies gebied. Boonop het die Kersdorpie bekoorlike houtstalletjies met ‘n verskeidenheid handgemaakte geskenke gehad. Ons het naby ‘n bakkery gebly, en ek het dit geniet om elke oggend deur die sneeu te stap vir varsgebakte Italiaanse brood.

Baie Suid Afrikaners

Livigno geniet gewildheid onder Suid-Afrikaners. Ons het talle Afrikaanse gesprekke op straat gehoor. Ek en Charl het geglimlag toe ons hoor hoe ‘n man aan sy vrou in Afrikaans erken, “Ek besef nou dat ek heeltemal te oorgewig en onfiks vir hierdie tipe aktiwiteit is.”

Ek het Livigno as ‘n jong volwassene saam met ‘n groep Suid-Afrikaners vir ‘n ski-vakansie besoek. Vordering was stadig aan my kant. Dit het my vier dae geneem voor ek op die ski’s kon navigeer, draaie uitvoer en stop sonder om te val. Nietemin het die bevrediging om ‘n nuwe vaardigheid te bemeester ‘n blywende indruk gelaat.

Zander leer ski

Zander het die ski-skool in die oggende baie geniet en gou reggekom. Dit help as jy op 15 jaar, die jongste in jou groep is en risiko’s net iets is waaroor ouer mense hulle bekommer.  Ek het my verstom oor hoe vinnig die ski instrukteurs die klein kindertjies leer om te ski.  Hulle is absoluut vreesloos en is sommer gou gereed om van bo af met uitstekende tegniek teen die ski-hellings af te ski.

Na middagete het Zander sy nuutgevonde vaardighede op die ski-hange naby ons huis geoefen. Ek en Charl het verskillende kabelkarre teen die berge op gevat en verskeie roetes verken. Daar is ‘n bevredigende gevoel wanneer jou stewels knars op die vars versorgde sneeu en jy kan afkyk na die dorpie met sy sneeubedekte dakke en bevrore meer.

Elke sport het sy beserings en ons het ongelukkig heelwat ski ongelukke aanskou.  Die nooddienste is baie goed opgelei en het die beseerdes vinnig tot hulp gesnel. My hart het amper gaan staan toe Zander  op dag 3 noem dat hy `n swart roete uitprobeer het.

‘n Vriendin het gewaarsku, “In reisversekering se fynskrif staan hulle dek nie ongelukke op swart roetes nie.  As jy seerkry neem hulle jou na die naaste hospitaal in St. Moritz in Switserland.  Soos jy self weet is dit een van die oudste en duurste ski-oorde in Switserland. Ons het altyd gespot as jy daar op `n swart roete seerkry moet jy hoop iemand dink daaraan om jou na `n blou of rooi roete te sleep. Anders sal jy jou huis moet verkoop om die mediese kostes te dek!”

Centrale ski skool

Dinsdagaand het die ski-instrukteurs van die Centrale Ski skool, waar Zander ingeskryf was, ‘n vertoning op die ski-hange aangebied. Ek het ook 25 jaar gelede dieselfde skool bygewoon en kan die Oujaarsaandvertoning met die sagte vallende sneeu helder onthou. In die onlangse aanbieding het hulle in die geskiedenis van ski gedelf en verskeie sneeuaktiwiteite gedemonstreer. Daarbenewens het hulle die lande van herkoms van die kursusgangers erken. Ons opgewondenheid het die hoogte ingeskiet toe hulle Suid-Afrika erken het. Entoesiasties het ons saam met mede-Suid-Afrikaners ons tuisland toegejuig.

Baie sneeu

Ons het die grootste deel van ons vakansie pragtige sonskyn beleef. ‘n Paar dae voor Kersfees het dit egter begin sneeu, wat die dorp in ‘n wit kombers toegevou het. Gelukkig was die munisipaliteit goed voorbereid en het stootskrapers ontplooi om die strate skoon te maak en vragmotors om aansienlike sneeumassas te verwyder.

Bewus van die gevare wat smelt en vriesende sneeu in die koue weer inhou, het hulle die paaie ywerig met sout bedek om gladde toestande te voorkom. Ons het begin bekommerd raak oor die pad huis toe. Ons het nie kettings vir ons motor se bande nie en daarom is dit nie vir die sneeu ingerig is nie. Om ons risiko te bestuur het ons besluit om ‘n dag vroeër huiswaarts te keer. Dit was ‘n goeie besluit want die rit terug deur die Alpe was al uitdagend.

Livigno waarborg ‘n uitsonderlike ervaring wat ek van harte aanbeveel. Zander is verheug dat hy ‘n nuwe vaardigheid aangeleer het en sien uit na toekomstige ski-avonture saam met sy vriende.

Groete

Emsia

Herfs weerkaatsings in Tirol

Herfs weerkaatsings in Tirol

Ons het my onlangse verjaarsdag in Tirol, Oostenryk, naby Innsbruck gevier. Ons verblyf was op ‘n melk- en gasteplaas, Edenhauserhof, naby Natters meer. Die pragtige herfsweerkaatsings, sowel as die kristaluitstallings by Swarovski Crystal World, het my groot vreugde verskaf. Dit het ook as  metafore gedien om my te laat nadink.

Familielewe op die melk- en gasteplaas

Die plaashuis het my asem weggeslaan. Dit is ‘n pragtige houthuis versier met helder pienk petunias op die vensterbanke. In die agtergrond was lowergroen weivelde en die melodiese geklingel van koeiklokke.

Met sononder het die koeie rustig na die stal gestap om gemelk te word. Ons het aangesluit om te sien hoe die boer elke koei se melkproduksie langs hul onderskeie name aanteken.

Die kinders het buite gespeel met speelgoed en die katjies en honde. Hulle is reeds die 10de geslag van die gesin wat op die plaas woon. Die ouma was verantwoordelik vir ontbyt. Alle produkte was plaasvars en tuisgemaak. Sy was gasvry en het stadig in Duits met ons gepraat sodat ons haar kon verstaan.

Daar is ‘n kapelletjie op die plaas. Tydens COVID-19 het die jongmense wat die gastehuis bestuur, daarin getrou en ook hul dogtertjie in die kapel laat doop. Hulle samewerking en interaksie as familie het my met ‘n warmte in my hart gelaat.

Naby die plaashuis is kampgeriewe, geleë langs Natters-meer. ’n Sonnige herfsgloed in die lug en die weerkaatsings van die warm kleure op die meer se oppervlak, het ’n rustige atmosfeer geskep. Almal het die natuur se skouspel geniet.

Innsbruck

Innsbruck is ‘n pragtige dorp en die hoofstad van die Tirol-gebied. Dit lê in die Innriviervallei, omring deur hoë berge. Innsbruck beteken dus “Brug oor die Inn”.

Innsbruck is ‘n internasionaal bekende wintersportsentrum. Dit het die Olimpiese Winterspele twee keer aangebied. Die moderne Bergisel-skisprong, met sy asemrowende uitsig oor Innsbruck, getuig hiervan.

Dit het in die pragtige ou stad rondloop. Die mees ikoniese landmerk in Innsbruck is die Goue Dak, wat in 1500 voltooi is. Ons het die voorreg gehad om ‘n paartjie te aanskou wat hul troue voor hierdie geskiedkundige gebou gevier het.

Swarovski

Die Swarovski Crystal World in Wattens, ‘n entjie van Innsbruck af, was vir my ‘n hoogtepunt. Dit is ‘n familiebesigheid wat deur die vyfde geslag bestuur word. Dit is bekend vir sy pragtige ornamente en juweliersware. Hulle het egter ook ‘n Optika-afdeling wat spesialiseer in lense en teleskope.

Die Kristalwêreld bestaan uit ‘n Reuse-grot met 18 Kamers vol Wonders en ‘n betowerende tuin. Binne die Chambers of Wonder het wêreldwyd bekroonde kunstenaars, ontwerpers en argitekte uiteenlopende ervarings geskep om die veelsydige fasette van kristal ten toon te stel. Die uitstallings was interaktiewe ervarings.

Ons ervaring het in die Silent Lightroom begin.  Dit is ‘n betowerende winterwonderland met sneeu wat val en temperature so laag as minus tien grade. Die tweede kamer was ‘n kristalkoepel wat uit 595 spieëls bestaan het. Dit skep ‘n diepte-effek wat jou die gevoel gee dat jy binne-in ‘n kristal is.

Die Heroes of Peace-uitstalling het die grootste indruk op my gemaak. Innoverende projeksietegnologie het lewensgrootte hologramme van Nobelpryspryswenners toegelaat om lewendig te word. Hierdie “Helde van Vrede” het by besoekers betrokke geraak, inspirasie aangebied en die wysheid gedeel wat hulle uit hul buitengewone lewens gekry het.

In die Tuin het ek soos ‘n kind gevoel. Ek was betower deur die kristalwolke wat in die glashelder poel daaronder weerkaats het. Toe die son agter die wolke opkom, het die kristalle geglinster soos Kersfeesliggies wat ‘n boom versier.

Ligbreking en refleksie

Te midde van al ons ervarings het ligbreking en refleksie as simbole vir my geresoneer.

Breking is die buiging van lig soos dit van een deursigtige stof na ‘n ander beweeg. Dit speel ‘n belangrike rol in verskeie optiese instrumente, van lense tot vergrootglase, prismas en reënboë. Selfs ons oë maak staat op die buiging van lig. Soos kristalle buig God se lig deur ons. Elkeen van ons buig die lig op ons unieke manier om van die wêreld ‘n beter, mooier en meer kleurvolle plek te maak.

Refleksie, aan die ander kant, behels die weerkaatsing van lig sonder absorpsie. Oppervlaktes dien as spieëls wat die beeld weerspieël. Op dieselfde manier kan ander mense en uitdagende situasies as spieëls dien, wat ons toelaat om onsself duideliker te sien. Refleksie tyd help ons om sin te maak van wat ons waarneem en om te besluit wat ons met hierdie bewustheid wil doen. Ons refleksies help ons om te verstaan wie ons is en wat ons streef om te word.

Binne families vind beide ligbrekings en refleksies plaas. Elke lid breek die lig in hul unieke kleure en skakerings. Familielede se refleksies dien as spieëls wat ons help om ‘n duideliker begrip van onsself te kry. Soms inspireer en motiveer hierdie refleksies ons om onsself verder te ontwikkel.

My onlangse geskenk, “Briewe aan Emsia,” was ‘n spieël wat die perspektiewe van vriende en familie weerspieël en waardevolle insigte gebied het.

In die video hieronder gee ek jou visuele refleksie van ons naweek.

Groete

Emsia

Verskillende juwele van die Baltiese See

Verskillende juwele van die Baltiese See

Dit is fassinerend sowel as verrykend om meer oor ander kulture te leer. Daar is soveel aspekte wat ‘n impak op die ontwikkeling van kulture regoor die wêreld gehad het.

Die geleentheid om vir ‘n paar jaar in Europa te woon, maak sekere lande en kulture meer toeganklik vir ons. Ons het besluit om die somervakansie te benut om dele van Noord-Europa rondom die Baltiese See met ‘n skip te verken.

Zander het sy Duits geoefen

Ek het al in `n vorige brief vertel dat ons gesin `n lang pad met MSC stap.  Die Baltiese see-vaart het vanaf Kiel vertrek en die meeste passasiers was Duits.

Die gebruik van die Duitse taal op die skip het ‘n voordeel vir Zander ingehou. Hy het by die tienergroep aangesluit en was dapper genoeg om Duits te probeer praat. Hy het in die proses kosbare vriendskappe met Duitse seuns gevorm. Hulle was baie geduldig met hom en het hom gehelp om sy Duitse woordeskat en uitspraak te verbeter. Hulle het selfs ingestem om weer iewers in die komende jaar in ‘n Duitse stad te ontmoet.

Tydens hierdie Baltiese vaart het ek meer van sekere Noord-Europese lande waarvan ek baie min geweet het, geleer.

Kopenhagen, Denemarke

In Kopenhagen se hawe aangekom, het ek dadelik die rye windmeulens in die see opgemerk. Denemarke is ‘n leier in windkrag innovasie.

Ná ons besoek is my beeld van Kopenhagen die rye gekleurde geboue, wat soos Lego-huise lyk.

Lego het in Denemarke ontstaan toe ‘n skrynwerker speelgoed begin maak het om sy inkomste aan te vul. Charl en Zander bou graag Lego en het die oudste Legoland-winkel met verskeie uitstallings baie geniet.

Ons het grootgeword met die verhale van Hans Christian Anderson, ‘n Deense skrywer van kinderverhale. ’n Standbeeld van die Klein Meermin, wat deel van hierdie stories vorm, was die eerste besienswaardigheid wat ons in Kopenhagen gesien het.

Tallinn, Estland (Estonia)

Toe ons deur twee stadstorings in Tallinn die ou stad binnestap, het dit gevoel of ons die 21ste eeu agterlaat en terug is in die Middeleeue. Blommeverkopers het ‘n verwelkomende en geurige atmosfeer geskep.

Ons het die handgemaakte items geniet wat die eienaars met trots in die toeristewinkels uitgestal het. Die woltruie, hoede en sokkies het my laat besef hoe koud dit hier moet word in die winter. Daar was ook baie produkte wat uit hout gesny is. Ek neem aan dat die skep van handwerk ‘n manier is om deur die lang koue winters te kom.

Ek was mal oor die mooiste juwele gemaak van Baltiese amber, wat hulle uit die see verkry. Dit is ‘n edelsteen wat meer as 45 miljoen jaar gelede ontwikkel het uit boomgom van dennebome.

Die Russiese argitektuur van sommige geboue het ons daaraan herinner dat ons baie na aan Rusland is. Voor die restaurant, waar ons ‘n bier geniet het, was ‘n plakkaat wat hul ontevredenheid met Poetin aandui.

Helsinki, Finland

In teenstelling met Estland, het Helsinki, bekend vir sy argitektuur en ontwerp, ‘n geweldige moderne en minimalistiese gevoel. Zander was mal oor Helsinki.

Ek wou die Sibelius-monument sien ter ere van ‘n wêreldbekende komponis. Hierdie monument bestaan uit 600 orrelpype. Dit was ‘n entjie buite die stad en met ‘n bietjie tyd oor het ons besluit om in ‘n moderne winkelsentrum te gaan stap.

Bouwerk naby die sentrum het meegebring dat die busse nie meer stilgehou het op die plekke wat op die padkaart aangedui is nie en het ons gesukkel om betyds terug by die skip te kom. Gelukkig het my ervare kaartlesers tot ons redding gekom.

Stockholm, Swede

Stockholm het my asem weggeslaan. Ek sal graag terug wil gaan, want ek het nie genoeg tyd gehad om alles op my wenslys te sien nie. Stockholm strek oor 14 eilande en ek was mal oor die stad met al sy water en goed versorgde parke.

Ons het die Paleis, die amptelike woning van die koning wat al 50 jaar aan bewind is, besoek. Ek was verstom om te sien hoe toeganklik hulle die Paleis vir besoekers gemaak het. Dit is deftig en pragtig.

Dit was ook interessant om die skryftaal te kon verstaan, want daar is baie woorde wat na aan Afrikaans is. Om ‘n dag in Stockholm se treinstelsel deur te bring is soos om ‘n kunsuitstalling te besoek. Kunstenaars het honderd stasies met unieke kuns op die platforms, mure of wagareas versier.

As ek meer tyd gehad het, sou ek graag die Nobelprys museum, ABBA-museum en die parke wou besoek het.

Ons besoek aan Noord-Europa en die Baltiese See was ‘n verrykende ervaring. Ek deel foto’s hieronder.

Groete

Emsia

Gardameer se waters van rus

Gardameer se waters van rus

Die wêreld waarin ons leef is besig en vol uitdagings en verandering. Ons liggaam en siel het stilte en rustigheid nodig. Ons het tyd nodig om asem te skep, sin te maak van alles, af te skakel en teenwoordig te wees om die skoonheid om ons te geniet. ’n Verandering in ons omgewing verrig dikwels wondere.

Toe ons voor ons vakansiehuis naby die Gardameer in Noord-Italië stilhou, het dit na net die regte plek gelyk om rus en vrede te vind.

Die verblyf het ‘n groot stoep gehad omring deur pers bougainvilleas. Die sonbesies in die omliggende olyfboorde het vir agtergrondmusiek gesorg. Vroegoggend en aand het die kerkklok die mooiste deuntjie gespeel en die plaaslike donkie en pou aangemoedig om hul musikale bydraes te lewer.

Gardameer

Die Gardameer is die grootste meer in Italië, geleë tussen die Alpe en die Po-vallei. Die hoë berge, skilderagtige dorpies en welige natuur dra by tot ‘n pragtige prentjie. Ek het die goedversorgde tuine, grasperke en vele historiese klipgeboue wat die oewer van die meer versier, bewonder.

Om in die meer te swem was ‘n rustige ervaring. Die water is silwerskoon en baie verfrissend. Gesinne het in die water met ‘n bal gespeel of op ‘n SUP of kajak geroei. Die son het op die water geblink en ons kon die klippies op die bodem sien.

Ons het gereeld rondgery om die omgewing en verskillende dorpies langs die meer te verken.

Toscolano Moderno

Die dorpie naaste aan ons verblyf was Toscolano Moderno. Hierdie dorpie dateer uit die Romeinse tyd en was ‘n belangrike sentrum van papierproduksie. Dit het ‘n hawe vanwaar bote die papier na Venesië geneem het. In die verlede het adellike families hier gewoon. Oorblyfsels van pragtige villa’s omring deur talle suurlemoenboorde en welige tuine vol pers bougainvillaeas getuig hiervan.

Limone

Limone was die mooiste plek vir my en het steeds die atmosfeer van ‘n klein dorpie Die hoofaktiwiteite tot die vorige eeu was visvang en olyf- en suurlemoenverbouing. Ons het Limone op markdag besoek en kon eerstehands die verkope van suurlemoene en ander plaaslike en handgemaakte produkte ervaar.

Limone strek langs die oewer van die Gardameer en het kliphuise wat in die berghange versteek en met plante en blomme versier is. Baie plekke kyk uit oor die meer, en jy kan wonderlike uitsigte oor die Gardameer geniet as jy bereid is om die vele trappe wat na die terrasse lei, te klim.

Salo

Ons laaste besoek was aan Salo, die grootste stad aan die westelike oewer van die Gardameer. Ek lees dat Salo die langste promenade in Italië het en ons het saam met al die ander besoekers daarlangs gaan stap.

Daar is talle kafees en restaurante en ons het ‘n rukkie gaan sit en kyk hoe die wêreld verbygaan.

Die smal paaie in Italië

Die smal paaie in Italië het ons soos voorheen gekonfronteer. Met ’n klipmuur weerskante van die pad dorp toe, het ons net vooraf gehoop op geen aankomende verkeer nie. Soms was ons gelukkig, maar ander kere moes Charl vir lang afstande in trurat ry om plek te maak vir aankomende werksmense wat haas om betyds by die werk te kom. Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat daar ‘n groot verskil tussen Italiaanse en Switserse bestuurders is!

Ons het Gardameer se rustigheid geniet. Vir my is die Gardameer die Europse vorm van `n Hartenbos vakansie waarvan ek kosbare herinneringe as kind het.

Een van hierdie paadjies wat naby ons verblyf verby loop, vorm deel van ‘n Camino-roete. Die baie stappers het vir Zander en my aangemoedig om ‘n deel van die pad tussen twee kerke aan te durf. Die uitsigte oor die meer en baie koeltebome op die roete het ‘n aangename ervaring geskep.

Donderstorm

Een nag het `n donderstorm ‘n skouspel in die lug bo die meer veroorsaak. Dit was stormagtig, ons het glas hoor breek en die wind het die potplante op die stoep omgewaai. Die sonbeddens en sambrele het in die swembad ingewaai. ’n Pa het tevergeefs probeer om sy kinders se speelgoed wat buite gelaat is, te soek. Hy het met ‘n glimlag opgemerk dat hulle die volgende dag ‘n skattejag sou hou.

Die volgende oggend het ‘n kalmte neergedaal en die son het helder op die meer geskyn as ‘n teken dat die storm verby is. Ek deel ons vakansiefoto’s hieronder

Ek is dankbaar dat ons die rustigheid van die Gardameer kon ervaar. As kinders het ons gesin met somervakansies Hartenbos toe gegaan om vrede en ‘n verandering in omgewing te ervaar. Vir my is die Gardameer die Europese vorm van ‘n Hartenbos-vakansie.

groete

Emsia

Toevoegings tot my Londen herinneringe

Toevoegings tot my Londen herinneringe

Ek het gemengde gevoelens gehad oor Charl se voorstel om Londen gedurende die Kersvakansie te besoek. Daar is soveel plekke wat ek graag vir Zander wil wys. Dit sou egter beteken dat ek die Londen-herinnering boksie wat ek die afgelope 25 jaar baie diep weggebêre het, moes oopmaak. Dit was tyd.

Londen was vir my ʼn groei-tydperk (1995 – 1997)

My twee jaar in Londen in my vroeë twintigs was ‘n tydperk van groei. Hierdie Afrikaanssprekende Kalahari-meisie moes leer om behoorlik Engels te praat en aan te pas by ‘n globale stad met grys en koue weer. Soms het ek onder die SA vlag op Trafalgar square gestaan en bid vir krag vir die dag terwyl die trane oor my wange loop. Ek het vertroosting gevind in die Kiosk-eienaar oorkant die kantoor se “Good morning my, Love.”

Dit is duidelik hoe my Londen-ervaring ‘n voorbereiding vir my lewenspad was. In Londen het ek eers regtig myself en my Skepper leer ken. Ek het geleer dat ons baie meer innerlike krag en deursettingsvermoë het as wat ons dink. Die ervaring het die vlam aangesteek vir my reis, belangstelling in ander kulture en skryf passies. Ek het die noodsaaklikheid geleer om betrokke te raak en oop te wees vir nuwe dinge ten einde in ‘n nuwe omgewing te integreer. Die ervaring het my die geleentheid gebied om in ‘n Londense teater op te tree as deel van ‘n liefdadigheid Pantomime produksie.

Terugkeer na Suid-Afrika (1997)

Ons tydperk in Londen het in September 1997 afgesluit, kort ná Lady Diana se tragiese dood. Vol hoop en drome het ons op die vliegtuig terug na Suid-Afrika geklim. Die aanpassing terug in Suid-Afrika was egter baie meer ingewikkeld as wat ons verwag het. Ons, en baie dinge in Suid-Afrika, het in hierdie twee jaar aansienlik verander. Ons het twee pragtige seuntjies gekry, maar ons huwelik het aansienlike krake begin toon en in 2005 geëindig.

God het my geseën met ‘n nuwe lewensmaat en ‘n derde seun Zander. Zander geniet dit ook om nuwe plekke en kulture te verken, en die vooruitsig van ‘n besoek aan Londen tydens Kersfees en Nuwejaar vieringe in Skotland het hom opgewonde gemaak.

Londen 2022 Kersvakansie

In Switserland kyk ons Britse televisie en die taal, kultuur en humor is gevolglik bekend. Ons het die hele Crown en ander Britse Netflix-reekse soos Outlander gekyk. Brittanje het ‘n aansienlike groot impak en invloed op Suid-Afrika gehad en voel gevolglik soos ‘n familielid.

Ek en Londen het baie verander in die afgelope 25 jaar, maar daar was ‘n bekendheid in ons weersiens. Die somber en koue weer en bekende historiese landmerke het goeie herinneringe gebring. Al die Kersliggies in Oxfordstraat en Covent Garden het vir opwinding gesorg. Ons het ‘n Engelse Scrabble in Hamley se speelgoedwinkel gekoop, waarmee Zander vir my en Charl ore aangesit het.

Ons het ‘n tipiese Britse komedie-teater produksie in die West End beleef en tradisionele vis en skyfies met baie sout, asyn en tamatiesous geëet. Die Winter Wonderland in Hyde Park was ‘n skouspel. Ons het Buckingham-paleis besoek om die Changing of the Guards te sien. Amptenare het dit egter ongelukkig gekanselleer weens die reën. Ons het ook ‘n dag saam met vriende van Charl deurgebring wat ons twintig jaar laas in Suid-Afrika gesien het.

Charl het egter die dag ná Kersfees griepsimptome gehad. Na ernstige oorweging het ons besluit om huis toe te kom. Ek en Zander was siek met griep voor ons vakansie, en ons het verstaan hoe sleg en broos ‘n mens voel. Ons was teleurgesteld om die ABBA-konsert en die Edinburgh Hogmanay te mis, maar het deernis met Charl gehad.

Ons het Britse tradisies saam huis toe gebring

Toe ons by die huis kom, het Zander voorgestel ons maak die High Afternoon Tea Engelse tradisie deel van ons vakansie roetine. Ek het besluit dis tyd dat hy kook- en bak vaardighede aanleer, veral omdat hy permanent honger is. Gevolglik het ons die res van die vakansie spandeer om tee en skons te eet terwyl ons Scrabble gespeel het.

Ek is dankbaar vir die geleentheid wat my genoop het om my Londen-herinnering boksie weer oop te maak en nuwe herinneringe saam met Charl en Zander te bou.

Groete

Emsia