In die middel van die vuur

In die middel van die vuur

Familielede is ondersteuners en getuies van ons unieke lewensreise.  Dit is egter pynlik om as ondersteuner en getuie die mense vir wie jy lief is te sien swaarkry. Januarie was ʼn swaarkry maand vir my familie in die Kalahari.  Hulle het in die middel van die vuur gestaan.

Foto deur Altus van Zyl

Januarie 2023

My enigste suster en beste vriendin, Ansa, het Januarie met gemengde emosies ingewag. Vanjaar is die laaste skooljaar vir Marga voordat sy die nes verlaat. Vir Altus is dit egter sy eerste jaar van hoërskool en koshuis in Upington, sowat twee ure weg van hul plaas in die Kalahari. Dit is dus ‘n jaar van verandering vir hul gesin.

Ansa het in die week wat die skole geopen het, in Upington oorgebly om haar kinders te ondersteun waar nodig. Met temperature vêr bo 40 grade, is Upington bekend vir sy uiterste hitte. Sonder lugversorging as gevolg van beurtkrag in Suid-Afrika, is Upington se hitte byna ondraaglik. Tydens Hoërskool Upington se inlywingsprogram vir die graad 8-“botsels”, het die leerlingraad verseker dat die nuwe leerders elke uur water drink om dehidrasie te voorkom.

Wanneer die vuur om jou brand

’n Benoude telefoonoproep het Ansa ingelig dat Andre haar ondersteuning op die plaas ook nodig het. Veldbrande in die omgewing was besig om hul plaas te vernietig. Andre moes die paniek in sy beeste en wild aanskou terwyl hulle verward tussen die swart rookwolke hardloop.

Boere en mense in die omgewing het deur die nag saamgestaan om die brande onder beheer te probeer kry. Meer as die helfte van hul plaas het afgebrand. Ansa het aanvanklik besluit om haar kinders teen die ontstellende nuus te beskerm, maar met sosiale media was dit onmoontlik.

Foto deur Andre van Zyl

Al wat hulle kon doen, was om vir reën te bid. Verlig na `n uitdagende week maar ook met hartseer het hulle die naweek huis toe gekom. Teen die agtergrond van die velde bedek met as, het pragtige wolke in die lug gevorm met tekens van weerlig. Die volgende oomblik het hulle weer rook gesien en besef dat ‘n weerligstraal die veld weer aan die brand gesteek het. Andre en Altus het die hele Saterdagaand probeer om die brand onder beheer te kry. Die 13-jarige “botsel” moes oornag die realiteite van ‘n man in die gesig staar.

Hulp en ondersteuning

’n Plaas met beeste sonder weiding was skielik ’n groot probleem. Gelukkig werk ons Hemelse Vader in ander mense se harte om ons te help en by te staan wanneer ons nie meer kan nie. Andre het uit die bloute ‘n paar oproepe ontvang van mense wat sy nood verstaan het. Een boer het aangebied om beeste met kalwers by hom te koop en ‘n ander boer het gratis weiding op sy plaas aangebied. Daar was ook voerskenkings.

Instansies soos Droogtehulp en Hendrik van Wyk Vervoer het saamgestaan om voer vir boere in nood aan te ry. My trane het sommer geloop toe Ansa die aangehegte video op Facebook met my deel.  https://fb.watch/inskAVmOGC/

Foto deur Hendrik van Wyk Vervoer

`n Gesin wat saamstaan

Ons het nie beheer oor wat met ons gebeur nie, maar ons het ‘n keuse oor hoe ons dit hanteer. Andre se positiewe hantering van die situasie het my verstom. Die kalmte in sy stem tydens sy terugvoerboodskappe het ons ook rustiger laat voel. Hy het vertel hoe warrelwinde soms rook na die lug gestuur het en dat dit pragtig was om te sien. Die swart polle gebrande gras wys weer tekens van lewe en die nuwe groen gee hom hoop.

Ansa en haar kinders het alles moontlik gedoen om hom te help en te ondersteun, want hulle is ‘n gesin wat altyd saamstaan, ook wanneer die uitdagings kom. Hulle help, bemoedig en motiveer mekaar.

Ek het twee jaar gelede `n brief geskryf met die titel  Simbool van hoop in die natuur of in mense nadat die Kalahari gebukkend gegaan het onder `n langdurige droogte. Die sluise van die hemel het oopgegaan en die Kalahari was lowergroen.  Ek bid vir nog so `n wonderwerk.

Dit is gewoonlik wanneer ons in die middel van die vuur staan, wat ons God se stem en liefde die duidelikste kan sien, hoor en ervaar.

Groete

Emsia

3 thoughts on “In die middel van die vuur

  1. Ons harte gaan uit na hulle wat die verlies ly & jou wat skouer moet gee. Sterkte.
    Frikkie

    1. Baie dankie Oom Frikkie! Ek waardeer dit. Hulle het gelukkig al `n lekker bui reen gehad en is hoopvol

Comments are closed.

Comments are closed.