Griekeland deel haar skoonheid

Griekeland deel haar skoonheid

Ek verwonder my dikwels aan die verskeidenheid skoonheid wat die aarde ons bied. Skoonheid kom in verskillende vorme voor. Ons sintuie, hart en emosies help ons om skoonheid te ervaar. Elkeen van ons woon in ‘n plek wat ‘n hele pakket van omgewing, mense, kos en ervarings bied. Soms moet ons egter ander plekke ervaar om van voor af dankbaar oor ons eie woonplek te wees .

Tydens ons 2021-somervakansie het ons daarna uitgesien om weer Suid-Afrika se skoonheid met ons sintuie en harte te ervaar. Weens Covid-beperkings was die tyd ongelukkig nog nie reg nie, en die Griekse eilande moes opmaak. Die son, see, landskap, mense, kos en ervarings was soos sielskos en het soos Suid-Afrika gevoel.

Switserse terugvoer oor Suid Afrikaanse mooi

Die Switserse vrou wat ons by die Covid-toetssentrum met ons PCR-toetse gehelp het, het dadelik my Suid-Afrikaanse aksent herken. Met ‘n glimlag het sy ons vertel dat hul Suid-Afrikaanse vakansie aan die einde van 2019 hul lekkerste vakansie ooit was. Hulle kan nie wag om terug te gaan en meer skoonheid te ervaar nie.

Naxos

Met ons aankoms in Mykonos het ons dadelik op een van die groot ferrie bote geklim om na Naxos te vaar. 

Ons verblyf was reg langs die strand. Tydens vroegoggendkoffie het ons gekyk hoe die dorp wakker word. Die paaie was vol scooters. Ons was verstom oor hoe die Grieke dit reggekry het om op hul selfone te praat of te SMS. Hulle het selfs intense gesprekke met handgebare op die scooters gehad. Een Ouma en haar kleinkind op ‘n vierwielmotorfiets het elke oggend vars tamaties en spanspekke afgelewer.

Ons het ‘n pragtige restaurant ontdek en al ons aandetes daar geëet. Die vriendelike interaksies, pragtige Griekse musiek en sonsondergang-uitsigte was medisyne vir die siel. Ek het al die tradisionele Griekse disse probeer, en ons het elke aand tzatziki saam met ons brood geëet. Zander het sy vleisinname ingehaal. Die eienaar het grappies met Zander gemaak en hom op ons laaste aand met ‘n bak roomys bederf.

Ons het ‘n interessante gesprek met die fasiliteitsbestuurder by ons blyplek gehad. Hy het 23 jaar in Engeland gewoon en vyf jaar gelede na Griekeland teruggekeer. Sy opmerking was,

“In Engeland het ek Engels geleer praat en goeie geld verdien, maar het min gelewe. Nou geniet ek weer die lewe maar lê soms wakker oor geld”.

Mykonos

Mykonos was ‘n ander ervaring as Naxos en ons het ‘n paar nuwe dinge geleer. Daar is baie toeriste, en alles is net so duur soos in Switserland. Dit het sin gemaak toe ons besef Mykonos is die partytjie-eiland van die rykes.

Ons het naby Paradise Beach gebly, hoog op ‘n heuwel. Ons kon die partytjies op die strand sien en hoor. Private seiljagte was oral sigbaar, en private stralers het vroegoggend opgedaag.

By die meeste strande in Mykonos is nudisme aanvaarbaar. Zander, wat op ’n sensitiewe ouderdom is, het nie geweet waar om te kyk nie.

Covid impak

 Die Griekse regering het twee dae voor ons terugkeer nuwe Covid-beperkings in Mykonos aangekondig. Die nuwe reëls het musiek by restaurante en vermaaklikheidsplekke verbied en ‘n aandklokreël ingestel. Die skielike stilte was vreemd. Ek deel ons visuele ervaring van ons vakansie.

Ons was gelukkig om tydens ons winter vakansie in Desember 2021, uiteindelik weer Suid Afrika se mooi en ‘n somerkersfees te ervaar.

Groete

Emsia

Comments are closed.