Grondpad se waardevolle lesse oor balans

Grondpad se waardevolle lesse oor balans

Gedurende die laaste paar maande van die jaar voel dit gewoonlik of daar te veel dinge is vir te min tyd. Ek moet bieg dat ek vir groot dele van my lewe die hele jaar deur so gevoel het. 

Tussen die grootmaak van kinders, ‘n loopbaan, ‘n skoon huis, gesond leef en vrywilligerswerk was balans ʼn uitdaging. Ek het later geglo ek het balans solank as wat dinge nie uitmekaar val nie.

Grondpad lesse

Ek het egter ‘n duur les oor balans geleer nadat ek ʼn pap wiel op ʼn grondpad gekry het.  Nadat die werktuigkundige my gehelp het, het hy aanbeveel dat ek die wiele laat balanseer en belyn en verduidelik watter skade ongebalanseerde wiele aan ʼn voertuig kan veroorsaak.

Balansering verleng die lewensduur van die bande en verbeter die voertuig se werkverrigting. Dit het ook ʼn positiewe impak op vele ander aspekte soos brandstofverbruik.  ʼn Mens kan nie noodwendig sien as dinge nie in balans is nie, maar jy sal wel later die uitwerking daarvan ervaar.

Om my motorwiele te balanseer was maklik.  Die vraag was egter, hoe vind ek balans in my eie lewe?  Dit was vir my duidelik dat die gebrek aan balans groot skade in my lewe en verhoudinge kan veroorsaak.  As jy dit regkry om balans binne in jouself te vind, kry jy dit reg om kalm te bly in die midde van chaos.  Balans is ʼn besluit. Dit bly vir my ʼn strewe en iets waaraan ek bewustelik moet aandag gee, net soos ek gereeld my motor se wiele moet laat balanseer.

Lewenslesse oor balans op die lewenspad

Ek het ʼn paar belangrike dinge geleer in my strewe na balans in my lewe:

  • Een ding op ʼn slag. Ek kan enige iets doen wat ek wil, maar ek kan nie alles doen nie, veral nie alles tegelyk nie. Ek moet besluit wat belangrik is vir my en prioriteit daaraan gee. Dit is nodig om op een ding op ‘n slag fokus, anders ly alles anders skade. Ek kan nie ʼn verslag skryf en na my kind se storie op dieselfde tyd luister nie.
  • Wil-doen dinge is ook belangrik. Ek moet tyd maak vir beide die moet-doen dinge en die wil-doen dinge.  Die dinge wat ek doen vir plesier of vervulling help my om die moet-doen dinge met lewenslus af te handel. Al dink niemand dat die prentjie wat ek verf of my gesprek met ʼn vriendin belangrik is nie, weet ek dat dit my help om ʼn vriendelike en geduldige vroulief en mamma te wees.
  • Leef gesond.  Ek moet gesonde en voedsame kos eet, genoeg water drink en gereeld oefen.  Slaap is van kritiese belang om fris en vars te voel. As ek te min slaap is ek baie fyngevoelig en word klein uitdagings skielik berge.
  • Leer nee sê. Ek het ʼn oordrewe verantwoordelikheidsin.  Dit veroorsaak dat ek vir te veel moet-doen dinge ja sê en te veel wil-doen dinge uit stel.  Ek moes leer ja en nee sê in lyn met my prioriteite en om myself soos ʼn beste vriendin te sien en hanteer.
  • Vra vir hulp.  Ek vind dit moeilik om vir hulp te vra in die vrees dat ek vir iemand moeite sal aandoen.  Aan die ander kant is dit vir my positief as iemand my om hulp vra en ek ʼn bydrae kan lewer. Ek verstaan nou ons het mekaar nodig in ʼn huwelik, familie, vriendekring en gemeenskap. Hierdie ding wat lewe genoem word, is nie bedoel om alleen aan te pak nie.

Gevolgtrekking

Ons lewe, soos  ʼn wiel het balans nodig.  ʼn Wiel wat uit balans is wankel en veroorsaak skade.  Soms is dit nodig om vir ʼn rukkie tot stilstand te kom en te doen wat nodig is om weer balans te vind.  Jy is welkom om my te kontak as ʼn gesprek met ʼn coach vir jou tot waarde kan wees.

Groete

Emsia

2 thoughts on “Grondpad se waardevolle lesse oor balans

  1. …mmmmm… met ‘n fiets laat dit my dink dat jy het ‘n sekere mate van vordering, beweging of momentum nodig, om te balanseer. Jy kan nie stilstaan en dan dink jou lewe is gebalanseer nie. Dis eers as jy jou lewe “leef” dat jy agterkom – en dan soms ook selfs as dit te laat is – dat iets fout is.
    Dankie vir die leersame ervarings.
    Frikkie

    1. Baie waar woorde wat Oom hier spreek. Ja ons kry nie alles altyd eerste keer reg nie. So lank ons net bly leer.

Comments are closed.

Comments are closed.