Sport is ‘n metafoor vir die lewe

Sport is ‘n metafoor vir die lewe

Ek het nog altyd plesier en vreugde uit verskeie sportsoorte geput. Daarby het ek ook nuwe vaardighede ontwikkel, lewenslesse geleer en nuwe insigte gekry. As ma het my rol egter verander van deelnemer na toeskouer. Die emosionele hoogtepunte en laagtepunte is steeds ewe intens

Vind die regte sport en posisie vir jou

Ons het ons kinders aangemoedig om aan ten minste een sportsoort deel te neem. Jacques het vroeg in sy lewe sy passie in krieket gevind. Christo was nie so geïnteresseerd in sport nie, maar was passievol oor tegnologie. Op die rugbyveld was hy die een wat wawiele gedoen het. Ter wille van die afrigter se hart het ek hokkie aanbeveel. Hy het sy motivering gevind in gees, pret en spanwerk.

Somtyds verander die speelveld

Switserland se sportkeuses verskil van dié van Suid-Afrika. As ‘n beginner het Zander nie dieselfde vaardigheidsvlak in sokker gehad as sy maats, wat van kleintyd af gespeel het nie. Sy balvaardighede was goed genoeg as doelwagter, maar die situasie was nie goed vir sy selfbeeld nie.

Gelukkig het volleybal as ‘n opsie na vore gekom. Die sport pas Zander soos ‘n handskoen. Die meeste van sy gesprekke gaan daaroor, en hy oefen gereeld buite. Zander het by ‘n volleyball klub in Zürich aangesluit en is bereid om die Switserse Duits te probeer as gevolg van die sport.

Spanwerk

In die lewe, soos in sport, vind ons nie altyd dadelik die plek waar ons die beste weergawe van onsself kan wees nie. As ons aanhou soek en probeer, sal ons daardie plek vind waar ons uitblink en oop is vir nuwe uitdagings.

In spansport vereis die verskillende posisies verskillende vaardighede. Spanlede ken egter mekaar se sterk- en swakpunte en benut en vul aan waar nodig. Die span is net so sterk soos sy swakste speler, en daarom moet almal mekaar help, ondersteun en aanmoedig.

Elke lid is verantwoordelik teenoor die res van die span om fiks te wees, vaardighede te oefen en hul beste te lewer. In die samelewing vorm elkeen van ons deel van ‘n span. Ons vind spanwerk by die huis, by die skool, by die werk, by die kerk en in die gemeenskappe waar ons woon.

Elke sport het sy beserings

Op skool was krieket Jacques se lewe. In graad 9 het hy agteroor geval met ‘n vang en sy linker- en regterpols gebreek. Nadat die dokter albei arms in gips gesit het, het Jacques daarop aangedring om na die wedstryd terug te keer om die wedstryd as veldwerker te voltooi. Agterna moes ‘n ortopeed op albei polse geopereer om behoorlike herstel te verseker.

Ek het jare gelede deel gevorm van die provinsiale netbalspan en aan die Suid-Afrikaanse nasionale toernooi deelgeneem. Teen alle verwagtinge het ons span tot die finaal deurgedring. Dit was ‘n uitdagende wedstryd. In beseringstyd het ek as verdediger ’n fout gemaak in my oorywerigheid, en ons het gevolglik die wedstryd met een strafdoel verloor. Dit was moeilik om myself te vergewe.

Ons tel fisieke en emosionele beserings op en maak foute. Dit plaas ons terug, en die herstelproses neem tyd. Ons moet onsself tyd gee vir herstel, maar ons moet opstaan en weer met passie en entoesiasme aanhou speel.

Die speeltyd op die veld is beperk

Om in ‘n mededingende omgewing deel te neem en te presteer verg aansienlike tyd en harde werk. Dit is egter ‘n uitstekende geleentheid om waardevolle ervaring, vaardighede en kundigheid op te doen om weer met ontwikkelende spelers te deel. Voordat jy dit weet, skuif jou posisie op die veld na een langs die speelveld. Vanuit hierdie posisie gee jy raad, ondersteuning en aanmoediging.

Die spelers leer die beste deur self te speel, uit te vind wat vir hulle werk en foute te maak. Ons moet balans handhaaf om te verhoed dat ons ons vreugde in sport en die spel van die lewe verloor.

Groete

Emsia

Comments are closed.