Swartwoud se koek en koekoek klokke

Swartwoud se koek en koekoek klokke

Ons het Zander se 13de verjaarsdag in die Swartwoud in Suidwes-Duitsland gevier. Dit is bekend vir sy koekoekhorlosies, swartwoudkoek en Die Grimm-broers se sprokies. Van ver af lyk die woud swart omdat die bome so dig groei.

Triberg en toerisme

Ons het die meeste van ons tyd in die toeristedorp Triberg deurgebring. Nadat ons ons Covid-sertifikate gewys het, het die eienaars van die hotel en restaurante ons baie vriendelik ontvang.

Ek het die mooiste tradisionele klere van die verkoopspersoneel bewonder. Die mans dra leerbroeke met kruisbande en onderbaadjies. Die vroue dra kleurvolle rompe met wit kantbloese wat met ‘n voorskoot afgerond is. Ons kon die gebied se Duits redelik goed verstaan en die mense was verdraagsaam met ons pogings om dit te praat.

Koekoek klokke

Ek het my verkyk aan die koekoek klokke.  Dit is nogal ʼn belewenis om so ʼn winkel te besoek, want jy is omring met die mooiste deuntjies en die koekoek klanke wat dit soos ʼn woud laat klink.  Ons het ook die grootste Koekoek klok in die wêreld besoek.  Die ratwerk is duidelik sigbaar en terapeuties om na te kyk.  Van die koekoek klokke is uniek en gesogte versamelaars items.

Die heel eerste Duitse koekoekhorlosie is gedurende die 1600’s gemaak deur ‘n vindingryke Duitse klokmaker, Franz Ketterer. Hy was die een wat die koekoek voëltjie en klanke bygevoeg het. Die klank word op ‘n vernuftige manier gemaak deur dubbele blaasbalk wat lug deur klein pypies stuur.

Woud en watervalle

Duitsland se hoogste watervalle is in Triberg.  Ons het die park besoek met verskeie voetpaadjies wat jou lei tot by die valle wat 164m hoog is. Die atmosfeer is rustig en kleure sag met skakerings van groen wat tekens van geel wys, geruis van die vallende water en pragtige voëlklanke.  Ons het selfs ʼn paar eekhorings gesien wat nader kruip agter die grondboontjies aan wat die mense vir hulle voer.  Die eekhorings in Europa is baie donkerde in kleur as dié waaraan ons in Suid Afrika gewoond is.

Swartwoud koek

Ons het vir Zander ʼn groot sny swartwoudkoek vir sy verjaarsdag belowe.  Dit was duidelik gewild aangesien die meeste mense dit gekies het.  Gaste het ʼn keuse om dit te bestel mét of sonder alkohol.  Dit bestaan uit verskeie lae sjokolade sponskoek, afgewissel met room en kersies en was ryk en lekker. Dié met alkohol bevat lekker baie Kirsch (kersiebrandewyn).

Die Hotel was eers ʼn klokfabriek

Ons het Saterdagaand in Sankt Georgen oorgebly.  Die hotel het my geweldig interesseer, want dit was ʼn klokfabriek vir 130 jaar voordat dit in die hotel FederWERK met die restaurant FeinWERK omskep is.  In die gange hang swart en wit foto’s teen die mure van mense besig om in die fabriek te werk.

Ons het Zander se 13de verjaarsdag ingewy met koffie op die stoep terwyl ons kyk hoe die son oor die Swartwoud opkom.  Ek voel altyd ʼn bietjie broos en innig dankbaar op my kinders se verjaarsdae vir die voorreg om hulle in my lewe te hê.  Zander met sy wysheid, deernis en humorsin is vir my soos son in hierdie Switserland tydperk.  ʼn Uur later het dit sommer hard gereën met donderweer terwyl ons ontbyt by FeinWerk geniet het.

Die uitstappie saam met die weer het vir ons perfek uitgewerk.

Groete

Emsia

Comments are closed.