My man geniet sy e-fiets meer as stap

My man geniet sy e-fiets meer as stap

My man hou nie van stap nie. Hy het hierdie feit baie duidelik aan my gemaak terwyl ons nog uitgegaan het. Hy het ‘n paar punte in my boeke verloor omdat ek daarvan hou om te stap. Charl se onlangse elektriese fietsvoorstel het hom egter ’n paar bonuspunte besorg.

Zander is nou op daardie ouderdom waar hy sy vriende se geselskap en aktiwiteite bo sy ouers verkies. Sy ouers moes dus iets kry om hulself besig oor naweke mee besig te hou.

E-fietse is gewild in Switserland

E-fietse word al hoe meer gewild in Switserland, met een uit elke sewe fietse wat elektriese fietse is. Die e-fiets stel fietsryers in staat om meer veeleisende roetes en groter afstande op hul fietse aan te pak as wat hulle op ‘n padfiets sou kon doen.

Dit is ‘n bonus wanneer die fiets se elektriese motor inskop en jy hulp het om ‘n heuwel uit te klim. Die fietsryers wat gewone fietse ry raak geïrriteerd wanneer ’n e-fiets by hulle verbyry. Ons het geleer om meer respekvol te wees en agter hulle te bly op die opdraande gedeeltes.

Switserland is goed ingerig vir fietsry

Switserland maak baie goed voorsiening vir fietsryers. Daar is toegewyde fietspaadjies, asook fietsstaanders oral beskikbaar. Die Kamoot App op my selfoon wys al die fietsry- en staproetes. Hierdie fietsroetes neem fietsryers deur die mooiste landelike dele en verseker dat hulle van die hoofpaaie af bly.

Charl ry werk toe met sy fiets

Die verkeer in Zürich is swaar, soos in die meeste stede. Fietsry is een van die beste maniere om deur die stad te kom. Charl het begin om met die fiets werk toe te ry en vorm deel van ‘n weeklikse oefenroetine. Fietsry is ‘n goeie manier om in ‘n omgewingsbewuste land te reis.

Ons verken die omgewing op ons fietse

Fietsry is ‘n lekker manier om Switserland se pragtige landskappe te ervaar en die rustigheid van die platteland te geniet. Ons gunsteling is die pad na Rapperswil, ‘n Middeleeuse dorpie aan die onderkant van die Zürich meer. Ons geniet dit om deur die woud al langs die meer te ry om daar te kom. Op ons reis sien en ruik ons die perde, beeste en geel kanolalande. In Rapperswil geniet ons ʼn Egg Mcmuffen en koffie langs die meer, voor ons die opdraand terug huis toe aanpak.

Fietsrytoerisme

Fiets-toerisme is deesdae ʼn gewilde manier om vakansie te hou.  Dit behels dat jy die omgewing verken deur met jou fiets van een dorp na ʼn volgende te ry.  As alternatief kan jy op een plek bly en daguitstappies met jou fiets maak.  Daar is ʼn fietsryroete rondom die Bodenmeer wat ons baie graag wil doen.  Die pad neem jou deur Duitsland, Oostenryk en Switserland met asemrowende uitsigte oor die meer en die Alpe.

Ek is mal oor spoed en het al 60km/h op my fiets bereik. Charl het my egter gewaarsku dat as ek val of ‘n spoedboete kry, ek ‘n paar punte in sy boeke sal verloor!

Groete

Emsia

2 thoughts on “My man geniet sy e-fiets meer as stap

  1. Hierdie stukkie was baie mooi! Dit is mooi hoe jy net probeer om punte in almal se boeke te kry. Die enigste probleem is dat met mans en seuns kan jy nooit eintlik wen nie!

    1. Hoe lekker lag ek nou! Dit is baie waar wat jy sê 🤗. Met ‘n man en drie seuns moes ek leer aanvaar ek kan nooit wen nie!

Comments are closed.

Comments are closed.