Zürich vier fees in die somer

Zürich vier fees in die somer

Die Switserse somer is kort en mense vier die seisoen op verskeie maniere. Malvas, rose en petunias kleur die balkonne in. Die dae is lank en die mense lag en gesels lekker met ‘n glas wyn terwyl straatmusikante bydra om ‘n feestelike atmosfeer te skep. Daar is baie geleenthede vir inwoners en toeriste om die somer te geniet.

Somerpret vir die kinders

Wanneer die skole vir die somervakansie sluit, word die swembaddens en strandgebiede langs die meer die kinders se kuierplekke. Die swemplekke het glybane en duikplanke. Zürich stel ‘n vakansiekaart beskikbaar wat kinders toelaat om alle openbare vervoer en swemplekke gratis te benut. Kinders het gevolglike ‘n genotvolle tyd saam met hul maats.

Switserse nasionale dag

Op 1 Augustus vier die Switsers hulle nasionale dag. In Zürich paradeer Switsers in tradisionele klere na ’n markplein waar hulle gesellig verkeer en Switserse kos geniet.

In die aand vier inwoners in elke munisipale gebied die dag met tradisionele kos, musiek en vuurwerke. Zander het veral die Bratwurst wat op stokke oor ‘n groot oop vuur gerooster is, geniet.

Straatparade

Ek het Charl oortuig om saam met my die Zurich Street Parade by te woon. Almal het met kreatiewe uitrustings deur die strate geparadeer terwyl harde techno musiek vanaf verskeie verhoë verskaf is. Ek het ’n heel ander kant van die baie wetsgehoorsame en stil-en-op-hulle-plek Switserse gesien.

Die kleurvolheid het tot die vrolikheid bygedra. Dit was nie eers vir my nodig om paparazzi-foto’s te neem nie, want mense het hulself net spontaan voor my kom aanbied vir foto’s.

Waterpret in Zürich se meer en Limmatrivier

In die somer baljaar almal in Zürich se Limmatrivier en meer. Daar is oral bote, seiljagte, trapbote en mense wat SUP (Stand Up Paddling) doen.

Zander wou ook SUP doen, maar ʼn volwassene moes hom vergesel. Ek was daardie volwassene!  Die bote op die meer het golwe veroorsaak wat my ʼn paar maal van my SUP bord af laat val het.

ʼn Gewilde en prettige someraktiwiteit is om in ʼn opblaasboot of -ring in die rivier af te dryf.  Ek en Zander het die omgewing en stroomversnellings baie geniet.

Ek en Charl het aan die Limmat Schwimmen deelgeneem.  Ons het saam met duisende ander deelnemers aan ons opblaas eendjie vasgeklou, terwyl Zürich se geboue verbykom.

Buitelug musiek, teater en flieks

Die somerweer en lang aande skep geleentheid om musiek, teater en flieks in die buitelug te geniet.

Die Zürich Openair is die gewildste en grootste opelug musiekfees in Zürich en inspireer duisende elektro-, rock- en pop-aanhangers.

Zürcher Teater Spektakel, aan die oewer van die Zürichmeer, bied vermaak aan teaterliefhebbers. Die sonsondergange oor die Zürichmeer skep ‘n romantiese agtergrond terwyl mense verskeidenheid vermaak geniet.

Buitelug fliek op ‘n groot skerm is gewild. Mense kan ‘n lokettreffer, kuns of klassieke fliek kyk terwyl hulle piekniek onder die sterre hou. Dit is die moderne weergawe van inry teaters.

Ons eerste post-Covid-somer in Zürich was ‘n aangename ervaring. Die dae word kouer en die blare begin verkleur, maar ons gaan die kouer seisoene tevrede binne.

Groete

Emsia

Comments are closed.