Vereenvoudig en verminder al die goed!

Vereenvoudig en verminder al die goed!

Ons is geneig om oor ‘n leeftyd baie goed bymekaar te maak. Hierdie items verdwyn gerieflik agter geslote deure, en ons vergeet daarvan. Soos ‘n uitgestelde afspraak wag ons besittings vir ons. ‘n Verhuising na Switserland wat ons gedwing het om te vereenvoudig, het egter gouer opgedaag as wat ons gedink of gehoop het.

Jacques en Christo help met die swaar items

Jacques se entrepreneursvaardighede was nuttig

Jacques het sy entrepreneursvaardighede vir die groot items benut. Hy het die items aanlyn geadverteer en sy potensiële klante op ‘n baie professionele en oortuigende manier hanteer. As hy onseker was oor hoe om die elektriese toestelle te gebruik, het hy sy navorsings- en tegniese vaardighede gebruik om dit uit te vind.

Ek glimlag steeds as ek dink aan die verkoop van ‘n koffiemasjien, wat Jacques nie betyds aan die gang kon kry nie. Jacques het oop kaarte oor sy penarie met die potensiële koper gespeel. Gelukkig was die koper geduldig en het hy en Jacques dit kruisbeen op die vloer saam uitgepluis. Glimlaggende gesigte en ‘n high-five ‘n halfuur later, was my teken dat hulle ʼn werkende koffiemasjien het. Die koper het weggestap met ‘n afslag en ‘n pakkie koffiebone vir sy geduld.

Ons het wonderlike mense in die proses ontmoet

Die wonderlikste mense het opgedaag. Hulle het persoonlike stories gedeel oor hoekom hulle op soek was na ‘n spesifieke item. Die middeljarige man wat die roeiboot gekoop het, wou dit vir sy eerste vakansie saam met sy nuwe vrou en haar seuns hê. Die vriendelike man wat die fiets gekoop het, het beplan om saam met sy vrou te begin oefen. Ons afslag was ons vorm van ondersteuning vir hierdie belangrike saak.

Ons berei voor vir die tweedehandse verkope mark

Tweedehandse verkope mark

Ons het die tweedehandse verkoopsmark vir kleiner items betree. Ons het, voorbereid met ‘n bottel koffie en ‘n pakkie beskuit, Saterdagoggend seweuur by die vlooimark opgedaag. Van die mense het ernstig onderhandel omdat elke sent saak maak. Ander het ‘n tweede keer teruggekeer en ons vertel hoe hulle of hul kinders die items wat hulle die eerste keer gekoop het, geniet het. Dit was ‘n verrykende en onvergeetlike ervaring.

Zander help met die verkope

Sommige items was moeiliker om te verkoop as gevolg van die emosionele waarde en die stories wat ek in my hart dra. ’n Voorbeeld hiervan was Christo se blou tas met ’n stel plastiektreine en rooi spore waarvoor hy mal was. Toe ’n driejarige seuntjie langs my kom sit en met die treine begin speel, was ek reg om dit te laat gaan.

Nuwe grootouers het die Kersboom met al die liggies en versierings gekoop vir hul nuwe kleinkind se eerste Kersfees. Baie grootouers het Lego-stelle en legkaarte as Kersgeskenke vir hul kleinkinders gekoop. Hulle het gehoop die nuwe generasie sou hul skerms vir behoorlike speelgoed verruil.

Aandete tussen die markitems wat rondstaan

‘n Goeie begin is gemaak

Die proses was ‘n goeie begin in ons missie om ons lewens te vereenvoudig. In die toekoms wil ons net iets koop wanneer ons dit nodig het. As ons nie ‘n item gebruik nie, moet ons dit weggee. Ons wil fokus op ervarings eerder as besittings.

Die volgende stellings druk dit goed uit:

Ons bereik perfeksie, nie wanneer daar niks meer is om by te voeg nie, maar wanneer daar niks oor is om weg te neem nie” en “Die vermoë om te vereenvoudig beteken om die onnodige uit te skakel sodat die nodige tot hul reg kan kom ”.

Groete

Emsia

4 thoughts on “Vereenvoudig en verminder al die goed!

  1. Ja Emsia, ek glo dit is moeilik om van sommige besittings afstand te doen. Ek wens ek kan ook net makliker laat gaan, maar sukkel nog met dit. Lekker bly!

    1. Dis al die sentiment wat ‘n mens laat terug hou!

  2. Gelukkig het bankiers & spoorwegmense, die voordeel dat hul gereeld moet oppak & weggooi. Tog eindig almal met goed wat waskleef, selfs tot in die aftree-oord! Dis dalk hoekom baie ouens wag dat die langslewende moet besluit wat word weggegooi. So sit ons nou al 3 jaar in d aftree-oord, met nog goed in ‘n stoortjie – net ingeval ons iets nodig kry! Ek weet van nog mense met so ‘n stoortjie (of twee!).
    Ek het groot waardering vir jul gedwonge skoonmaak en het gesien hoe jul (stilweg) bly was dat iemand jul mark-goed koop -dit was ‘n ondervinding. Wonder of julle dit ooit vrywillig sou doen – as nie genoodsaak met die trek oorsee nie.
    En dan wonder ek of jul goeie voornemens sal hou?
    Gaan jul weer mark hou in Zurich?
    Groete.

    1. Ek dink nie ons sou die groot skoonmaak kon doen sonder die ingryping van die trek nie! Ons probeer hard by ons voornemens hou. Ons het nie baie spasie nie, wat help met die situasie. Hulle het Brockerhauses hier waarnatoe ‘n mens al jou ongebruikte goed kan neem. Saterdae dan verkoop hulle dit weer aan mense wat dit nodig het, self klere. Dit is nogal interessant om daar rond te loop. Die mense hier gee glad nie om om tweede handse goed hier te koop nie. Ek dink dit is omdat alles so duur is en die gebruikte goed baie billik verkoop word.

Comments are closed.

Comments are closed.