Browsed by
Category: Switserland

‘n Ausie se Switserse uitruilervaring

‘n Ausie se Switserse uitruilervaring

Ons het die geleentheid gekry om weer na Switserland deur die oë van iemand wat dit vir die eerste keer ervaar, te kyk.

Die boodskap van Campbell se ouers om te laat weet hulle is oppad lughawe toe, het ons met baie deernis gevul. Dit was hulle beurt om as ouers om te laat gaan.

‘n Lang vlug vanaf Perth na Dubai en dan daarvandaan na Zurich om sy 6 weke in Switzerland as deel van die uitruilprogram deur te bring, het voorgelê. As 15-jarige moes hy hierdie reis op sy eie aanpak. Doeane beamptes in Perth het as veiligheidsmaatreël dadelik Campbell se pa gebel om te bevestig dat hy kennis van hierdie jong man se vlug uit sy tuisland dra.

Vlug van Perth na Zurich

Vroeg Saterdagoggend het sy ma laat weet dat reissiekte die eerste been van die vlug moeilik gemaak het. Campbell het agterna vertel hoe sorgsaam die Emirates vlugpersoneel na hom tydens die vlug omgesien het.  ‘n Mediese dokter het hom in Dubai ingewag en met die regte medikasie vir die vlug na Zurich uitgehelp.

Na sy aankoms in Zurich, het hy die aand sommer vroeg aan die slaap geraak, maar wees tydsverskille was hy die volgende oggend vieruur helder wakker. Dit het hom `n ruk geneem om aan te pas. Sondag het ons saam met hom in die woud gaan stap en Zander het vir hom die dorpie waarin ons woon asook die skool gaan wys. 

Deel van ons gesin

Campbell het sommer dadelik in ons harte ingekruip. Hy het moeite gedoen om raakpunte met elkeen van ons te vind. Hy is nuuskierig en vra vrae om sin van sy nuwe omgewing te maak. Die jong man is respekvol en dit was dadelik duidelik dat hy uit ‘n liefdevolle huis kom.  Sedert hul uitruil goedgekeur is, het hy en Zander reeds begin kommunikeer. Hulle was dus nie vreemdelinge vir mekaar nie. Hulle het hul waarnemings bespreek en infrastruktuur, wetgewing en landskappe tussen die onderskeie lande vergelyk.

Campbell het drie wense gehad vir sy tyd in Switserland.  Hy wou graag sneeu ervaar, Kaasfondue proe en homself te verdiep in die klanke van Frans wat deur moedertaalsprekers gepraat word. Ons het vir Sondagmiddagete saam met hom Kaasfondue geniet en een van sy wense vervul. 

Die kaas was baie sterkter as wat hy verwag het, maar hy het dit tog geniet. Ons het die volgende naweek hom aan Raclette bekend gestel.  Hy het dit baie geniet en gevra of ons die ervaring kan herhaal.

ICSZ Skool

Campbell wat aan skooluniform gewoond is, was opgewonde om vir ses weke in gewone klere skool te kon bywoon. Die skool het hom goed verwelkom en ek dink die feit dat beide die uitruilonderwyser en die skoolhoof van Australië kom, het ‘n ekstra positiewe bydrae gelewer.

Aangesien hy in ‘n seunskool is, was dit ook ‘n nuwe ervaring om die meisies in die klas by hulle te hê. Hy het die ander studente as verwelkomend ervaar. Campbell is baie goed in Wiskunde en ons was dankbaar dat hy en Zander saam vir hulle Wiskundetoets kon voorberei en op die ou end baie goeie punte gekry het.

Gedurende sy tyd in Switserland het die skool ook ‘n TEDx aangebied met ICS-studente as sprekers. Dit was die eerste keer dat ons almal so ‘n geleentheid bygewoon het.

Zürichmeer

Een van Zander se groot wense was om vir Campbell Zurich se ou stad te gaan wys en in die meer te swem.  Ek kon maar net lag vir die twee 15-jariges wat van koue gebibber het terwyl hulle al hulle moed bymekaar skraap om die 12-grade meerwater aan te durf. ‘n Warm sjokolade drankie langs die meer moes help om hulle na die tyd op te warm.

Sneeu ervaring

Campbell se heel grootste wens was om vir die eerste maal in sy lewe sneeu te ervaar.  Aangesien dit sommer vinnig na sy aankoms warm geword het, het ons hom die eerste naweek Alpe toe geneem. Daar was gelukkig nog genoeg sneeu in Arosa sodat hy en Zander teen die berge met die ski lifts op kon ry en met die slees af kon afgly.  Campbell se opgewonde reaksie oor die sneeu het die uitstappie vir ons genotvol en bevredigend gemaak.

Hierdie opwinding het nuwe hoogtes bereik toe dit onverwags in April begin sneeu. Hy kon nie wag om buite te kom en die sneeu te ervaar nie.  By die skool het van die onderwysers hom toegelaat om tydens klastyd buitentoe te gaan en hy kon tydens middagete aan sneeugevegte met die ander seuns deelneem

Switserse kultuur ervaring

Tydens Campbell se tyd in Switserland was dit die lentefees, ‘n eeue oue tradisie wat ‘n aanskoulike kulturele ervaring is. Mense in geskiedkundige kostuums, musiekensembles en perde wat in blomme en vlae versier is, kom rondom die Böögg, wat soos `n sneeuman lyk en winter simboliseer, bymekaar. Om 18:00, word die brandstapel wat die Böögg bo-op dra, aan die brand gesteek.

Volgens volksoorlewerings voorspel die spoed waarteen die vuur die sneeumanfiguur verswelg en sy kop, gevul met klappers laat ontplof, die kwaliteit van die naderende somer. Daar was egter ‘n stormsterkte wind en vir die rede kon hulle vir die eerste keer in die geskiedenis nie die sneeuman aan die brand steek nie.

Die Franse streek in Switserland

Campbell neem Frans as tweede taal in die skool en wou baie graag Frans in ‘n Franse streek hoor en bepaal hoeveel hy kon verstaan.  Ons het dus met die trein die Romandie streek besoek. Dit is  ‘n drie-uur lange rit wat die dag kort maak. Daar was soveel om hom te wys maar het die Olimpiese Museum in Laussane besoek, vanaf Montreaux al langs die meer na die Chatau die Chillion gestap en sjokolade crepes in Vevey gaan eet. 

Hy was ingenome toe hy die taal kon verstaan en hy het alles wat hy kon lees vir ons vertaal en ook in Frans met die mense in winkels gesels. Ons beplan om saam met hom die langnaweek in Mei Parys te besoek om sy Franse ervaring verder uit te brei.

Hieronder is ‘n musiekvideo met meer foto`s van die eerste twee weke se ervaringe.

Daar is natuurlik nog baie dinge wat ons vir hom wil wys en ervaringe wat ons met hom wil deel in die tyd wat hy nog in Switserland is voordat hy en Zander Perth toe vlieg.

Groete

Emsia