Ek het Tyd as geskenk ontvang

Ek het Tyd as geskenk ontvang

My eerste vyftig jaar was ‘n konstante wedloop teen tyd. Met ons verhuising na Switserland het ek ontvang waarvoor ek nog altyd gewens het – Tyd.

Ná ons hervestiging het ek nie gewerk nie en Zander kon met openbare vervoer by die skool kom. Ek het skielik meer tyd as take gehad. Die situasie het my aangemoedig om te dink oor tyd en wat ek met hierdie kosbare geskenk wou doen.

Die waarde van Tyd

Tyd is kosbaar omdat ons nie weet hoeveel tyd ons het nie. Ons kan ook nie tyd of geleenthede wat verby is terugkry nie.

Die wyse waarop ons ons kosbare tyd spandeer is gewoonlik die heel beste en sigbaarste aanduiding van wat werklik vir ons belangrik is.  Dit is ook bepalend van die impak wat ons maak en dit wat ons nalaat.  Sommige mense kry dit reg om ten spyte van ʼn kort lewe ʼn geweldige groot impak op ander te hê.

Effektiewe spandering van tyd

Na baie jare in ʼn konsultasie omgewing is ek gewoond daaraan om verantwoording te doen van die aktiwiteite waarop elke uur gedurende die dag spandeer is. Die gewoonte om daagliks te reflekteer op die effektiwiteit van my tyd spandeer, het gebly.  Ek moes gevolglik besluit hoe en waarop ek my tyd wil spandeer en vir wie ek dit wil gee en waarom.

Ek het myself ʼn paar vrae moes afvra.

  • Watter verhoudings in my lewe is belangrik?
  • Op watter maniere koester ek dit en demonstreer ek met my spandering van tyd die prioriteit van die verhoudings?
  • Wat se bydraes en verskil wil ek aan ander en die wêreld maak?
  • Watter dinge voed my hart en siel, hoe hou ek my liggaam gesond en watter kennis en vaardighede wil ek uitbrei?

My Briewe Huis toe was onder andere ʼn antwoord op ʼn aantal van hierdie vrae.  Die briewe is ʼn manier om kontak te hou met mense wat vir my kosbaar is, maar dit dwing my ook om oor gebeure en omstandighede in my lewe te reflekteer. Dit het boonop vereis dat ek my tegnologiese en taalvaardigheid uitbrei. Tydens Covid het woorde my reddingstou geword.

Tyd leer en heel

Daar was tye in my lewe, veral na groot verlies en teleurstelling wat ek gewens het, tyd het ʼn slinger of ‘n vinnig vorentoe knoppie.  Ek wou vinnig vorentoe beweeg na waar ek op ‘n beter emosionele  plek is en normaal kan aangaan met my lewe.

Tyd as onderwyser het my egter geleer dat ek met my verlies en pyn moet gaan sit, dit in die oë moet kyk en mooi moet luister na wat dit my wil leer. Ek verstaan nou ek het die lesse en insig nodig vir situasies en omstandighede in my toekoms. Ander kere het tyd oplossings vir uitdagings en antwoorde op vrae gebring. Ek moes leer om tyd te vertrou en geduldig te wag.   Tyd wil nie aangejaag wees nie; elke ding het immers sy tyd.

Die era (tydsgleuf) waarin ons leef

Ons leef vir ‘n kort tyd in die algehele ruimte van tyd. Elke era het sy voorregte en uitdagings.

Ek is dankbaar dat ek in ‘n era leef waar ons toegang het tot inligting, tegnologie om kommunikasie. Dit ondersteun ons persoonlike groei  en gee ons vryheid om ons belangstellings te bevredig. Ek is veral dankbaar dat ek as vrou in ʼn tydgleuf en plek leef waar my regte erken en gerespekteer word.  In ander eras het vrouens en kinders se situasies baie anders gelyk.

Ons leef egter ook in ʼn era waar ons as mensdom sal moet saamwerk om beter na mekaar en die hulpbronne wat ons ontvang het te moet kyk.

Hede, verlede en toekoms

Ongeag die tydperk waarin ons leef, verdeel ons tyd in die hede, verlede en toekoms.  Ons leef in die hede, maar mors soms die huidige tyd deur te veel oor die verlede of die toekoms te dink.  Daar is ʼn geneigdheid om die toekoms meer waardevol as die hede te ag. Die wyse waarop ons oor die verlede of die toekoms dink het egter ʼn groot impak op hoe gelukkig en tevrede ons in die hede voel. 

Lemn Sissay het in Junie 2022 sy sewe jaar termyn as kansellier van die Universiteit van Manchester afgesluit.  Hy het kollegas en studente met ʼn baie inspirerende gedig gegroet.  Ek groet julle ook met die gedig, getiteld – The gift of time.

Groete

Emsia

2 thoughts on “Ek het Tyd as geskenk ontvang

    1. Adri, ek waardeer jou kommentaar vreeslik. Ek is so bly om te hoor.

Comments are closed.

Comments are closed.