Vegan en glutenvrye uitdagings aanvaar

Vegan en glutenvrye uitdagings aanvaar

Toe my oudste seun Jacques in sy tienerjare onder my dak in Kaapstad gewoon het, kon ek nie byhou met die eiers en vleisaankope nie. Baie dinge het egter verander. Ek woon in Zürich, en hy volg ‘n plant-gebaseerde en glutenvrye dieet. Gevolglik het ons verskeie ontdekkings gehad om te deel tydens sy onlangse besoek.

Covid het tot Jacques se dieet kennis en fokus bygedra

Jacques is ’n gebore entrepreneur en het ná skool ’n graad in besigheidsbestuur verwerf. Covid het ‘n totale wending in sy aanvanklike loopbaan planne veroorsaak. Tydens Covid het hy as student in die Kruger-huishouding gewoon. Sy bydrae was om gebalanseerde etes voor te berei vir die gesin en dit moes vir verskeie voedsel allergieë voorsiening maak. Hy het sy voedselkennis verbreed en vinnig besef dat ‘n plantgebaseerde dieet baie gesondheids- en omgewingsdoelwitte bereik.

Jacques het ‘n bakkery, The Cinnamon Club, in Februarie 2021 begin. Sy gebak is plantaardig (vegan) en maak voorsiening vir voedselintoleransies soos gluten, laktose of suiker. Ek was verstom oor die kreatiewe aanbieding van sy gebak en sy besigheid se bemarking en dienslewering. Die Cinnamon Club groei en dit is hartverblydend om die terugvoer en boodskappe van waardering van bestaande en nuwe kliënte te lees.

Plantgebasseerde dieet

Wêreldwyd groei die aantal mense wat kies om ‘n plantgebaseerde dieet te volg. Sommige mense doen dit om gesondheidsredes en ander om die omgewing of dierewelsyn te beskerm. Hierdie tendens het ‘n beduidende impak op die voedselbedryf. Daar is baie nuwe veganistiese produkte op die mark. Restaurante en die kitskos bedryf stel ook meer plantgebaseerde opsies beskikbaar.

Veganuary is ’n inisiatief wat bewusmaking skep en mense aanmoedig om gedurende Januarie ’n plantgebaseerde dieet te volg. In Zürich was daar baie bemarking en bewusmaking vir Veganuary. Jacques was ‘n uitstekende ambassadeur en het my gehelp om my kennis oor die onderwerp uit te brei.

Ek het eers gedink dit is hoofsaaklik jong mense wat veganistiese diëte volg. Na baie gaste by ons huis die afgelope tyd, kan ek aflei dat baie mense van alle generasies hul dieet om verskillende redes aanpas.

Glutenvrye dieet

Baie mense ontwikkel mettertyd ‘n gluten intoleransie en moet gevolglik om gesondheidsredes gluten uit hul dieet sny. Hulle vermy dus voedsel wat van meel gemaak is. Gluten is ‘n familie van proteïene wat in koring, gars en rog voorkom. Dit gee die meel ’n taai tekstuur wanneer dit met water gemeng word en gee brood die vermoë om te rys wanneer dit gebak word.

My nuwe koskennis en -ontdekkings

As gevolg van Jacques se besoek het ek ‘n paar waardevolle ontdekkings gemaak. Ek deel meer oor die bestanddele wat ons gebruik het in die voorbereiding van glutenvrye en vegan maaltye.

Kekerertjiemeel (grammeel) en Aquafaba

Ek bak elke week `n saadbroodjie wat proteïenryk en vullend is en het die broodjie aangepas deur die broodmeel met `n glutenvrye mengsel van kekerertjiemeel, amandelmeel en hawermout, te vervang.  Ek het die jogurt en melk met soja opsies vervang en selfs Jacques het gedink die vegan en glutenvrye broodjie is heerlik.

Ons het ook die grammeel saam met maizena gebruik om glutenvrye tortillas te maak.

Die water van geblikte kekerertjies (Aquafaba) word ook as plaasvervanger vir eierwit in vegan geregte gebruik.  Ek was verstom toe Jacques my vertel hoe hy sy meringue vir sy pragtig versierde koeke hiervan maak. Aquafaba word ook gebruik om vegan mayonaise te maak.

Lensies

`n Paar van my maklike en vinnige aandetes bevat maalvleis.  Ek het geleer om eerder lensies te gebruik wat ook ʼn redelike hoë proteïeninhoud het.  Ek gebruik ook al hoe meer verskillende kleure lensies in groentesoppe om dit meer vullend te maak vir die groeiende tiener in my huis wat gedurig honger is.

Quinua

Quinua was ‘n veelsydige ontdekking en ‘n opsie wat ek nog nooit voorheen in my geregte gebruik het nie. Dit is beskikbaar in swart, rooi en wit of ‘n mengsel van die drie. Quinoa is ryk aan proteïene en ‘n goeie bron van voedingstowwe soos mangaan, magnesium en koper. Ons het die heerlikste Vegan Burrito Bowl met Quinoa en `n proteïenryke en veelkleurige Groente Quinoa Slaai gemaak.

Sojajogurt, Sojamelk en Kokosmelk

Baie van my resepte vra vir room, melk of jogurt om dit romeriger te maak. Ek het nou sojajogurt, sojamelk, klappermelk en -room ontdek, wat plantgebaseerde maniere is om dieselfde doel te bereik.

Dit was wonderlik om my kinders weer onder my dak te hê. Ek is ook dankbaar dat Jacques se besoek my geïnspireer het om die veganistiese en glutenvrye uitdaging in Januarie te aanvaar, meer oor plantgebaseerde kos te leer en anders daaroor te begin dink.

Groete

Emsia

Comments are closed.