Kersfees se sak vol emosies

Kersfees se sak vol emosies

Gedurende die feestyd is my emosionele hoogte- en laagtepunte gewoonlik intens. Die vlug beperkings het my egter amper oor die afgrond gestoot. Die onlangse opdatering van die Switserse reëls maak skielik weer ‘n SA besoek moontlik. My hart jubel!

Gevolglik kan baie gesinne wie se kinders in ander lande studeer of werk, moontlik saamwees vir Kersfees. Ek is dankbaar vir almal wat my met positiwiteit en hoop aangemoedig en ondersteun het. Ek bid saam met diegene wat nog in onsekerheid wag vir goeie nuus.

Die feesseisoen in Switserland

Die feesseisoen ervaring in Switserland is besonders, met baie tradisies en gebruike. Die Switserse Kersfees winter ervaring is anders as die Suid-Afrikaanse somer Kersfees ervaring.

Die winteraande is besonders lank en koud.  Teen 5nm is dit donker en dit raak eers weer teen 8am lig. Die stad en huise word kreatief met kersbome en liggies versier om ʼn feestelike atmosfeer te skep en die donker te verdryf. Mense kan kaasfondue of Raclette geniet in die hout chalets wat in die Advent seisoen opduik.

Op die laaste Donderdag van elke November skakel die owerhede in Zürich se liggies aan, en die Kersfees markte open. Die hele atmosfeer word warm, knus en bekoorlik. Die reuk van warm glühwine hang in die lug, en Cheestnuts, op die oop vuur gebraai, is by al die “Heisse Marroni”-stalletjies te koop.

Kersfees as ʼn kind

Samichlaus is die Duits-Switserse weergawe van Kersvader. In Desember ry die Jelmoli-trem deur Zürich, en kinders kan luister na stories deur Kersvader en sy engel helpers. Samichlaus besoek ook die kleuterskole en sommige laerskole en verskyn gedurende die eerste week van Desember by punte in die woud. Ek kan net dink hoe eg en opwindend Kersvader deur die oë van jong kinders moet wees .

Kersfees as volwassene

As ouer doen jy alles om hierdie betowering met liggies, atmosfeer en geskenke vir jou kinders te skep. Met tyd leer jy daar is ‘n buitenste feestyd met bome en ligte en ‘n innerlike feestyd in jou gemoed. Soms is hulle stemming verskillend. Jy dra ’n swaar sak vol emosies en is verlig wanneer die einde van die feestyd aanbreek.

Almal wat jy om die Kersfees tafel wil hê, is om verskillende redes nie daar nie. Covid het sy bydrae op verskeie maniere gelewer. Vele verhoudings en situasies wat jy in liefde toegedraai wou gehad het se papier is nog vol ego strepe.

Ek dink nie daar is ‘n perfekte Kersfees nie. Dit is net so perfek soos jy dit sien.

Elke persoon wat saam met jou om die Kerstafel sit, is ’n geskenk as jy mooi kyk. Covid het ons geleer om anders te kyk. As ons met dankbaarheid en liefde na hierdie feestyd kyk en die ware betekenis daarvan waardeer, sal ons innerlike feestyd vol lig en dankbaarheid wees.

Kalahari Kersfees

Ons hoop vir ‘n somer Kersfees in die Kalahari hierdie jaar. Ek sien uit daarna om saam met die mense na aan my hart te wees. In my denkbeeldige prentjie sal die sterre in die lug ons Kersliggies wees. Almal se bekende stemme gaan ons Kersfees musiek wees. Ons samesyn en liefde vir mekaar sal ons grootste geskenk aan mekaar wees.

Tydens al hierdie onsekerheid moet ek myself voortdurend daaraan herinner dat die Kersfees in my hart die bepalende een is, ongeag die plek, seisoen of mense saam met my. Ek moet dus hard werk aan die gedagtes wat my innerlike feestyd beïnvloed. Mag die manier waarop ek na Kersfees kyk, my geskenk aan myself wees.

Mag dit ‘n geseënde feestyd vir jou en jou geliefdes wees, waar jy ook al is.

Groete

Emsia

4 thoughts on “Kersfees se sak vol emosies

  1. Ek bid saam dat julle ‘n pragtige Kalahari Kersfees sal hê!

    1. Baie dankie Wineta. Ek het met die situasie weereens besef hoe baie mense se positiewe en bemoedigende woorde vir ‘n mens beteken as jy broos is.

  2. Emsua.
    Bly jul vakansie is op koers.
    Sien julle d middag vd 16de.
    Tans is SA weer omgekrap soos ‘n appelkoos-maag of ‘n parlementsitting! Hartenbos het meer wind & wolke as in d winter. D Kaap is triestig & winderig. Bietjie sneeu sal gepas wees!
    Veilig reis
    Frikkie

    1. Oom Frikkie, hopelik sien ons almal binnekort mooi sonnige dae. Dit is mos iets wat gelukkig verander!

Comments are closed.

Comments are closed.