As jy die gevreesde oproep ontvang

As jy die gevreesde oproep ontvang

Op 13 September 2020 het ons daardie oproep gekry wat almal gevrees het. Dit was die oproep om ons in te lig dat Justin, ons nefie en Candice se broer, se lewe hier op aarde, op die ouderdom van vyf-en-twintig geëindig het. Hy sou op die 14de ‘n nuwe werk begin het. Justin en Candice is soos ons eie kinders. Charl het elke week met Justin gesels om sy vreugdes en sy laste te deel.

Die kaarte wat die lewe aan ons uitdeel

Ons het nie ‘n keuse oor die kaarte wat die lewe aan ons uitgedeel het nie. Al waaroor ons beheer het, is hoe ons ons hand van kaarte speel. Justin het ‘n onmoontlike hand van kaarte gekry en het in sy kort lewe baie uitdagings in die gesig gestaar. Hy en Candice het op laerskool hul pa aan Motorneuronsiekte verloor. Hy het egter altyd elke lewensuitdaging met hoop en nuwe moed aangepak. Sy deursettingsvermoë was inspirerend.

Justin was ‘n aantreklike en lang jong man met ‘n pragtige glimlag wat hy saam met hom gedra het, ten spyte van die lewe se uitdagings. Hy het altyd probeer om die lewe vir ander beter te maak en was liefdevol en beskermend teenoor Candice. Hy het die meeste van sy tyd in die gimnasium deurgebring en sy gimnasiumvriende was soos familie. Die Covid-19-inperking het hom van sy tyd in die gimnasium ontneem, wat sy gesonde ontsnapping en manier van sosialisering was.

Ons het herinneringe gedeel

Ons het ‘n Zoom-herinneringsessie vir Justin gehad weens Covid-beperkings. Familie en vriende wêreldwyd het die geleentheid gehad om herinneringe te deel. Dit was die eerste keer dat die Goosen-gesin in ‘n baie lang tyd saam was, en dit was so goed om mekaar te sien. Dit het amper gevoel of ons almal gemaklik in een groot sitkamer sit en oor Justin praat. Die eerlikheid van sommige van die stories het ons deur ons trane laat lag.

Vriende se woorde

Dit was ʼn voorreg om met die besonderse vriende in Justin se lewe te ontmoet.  Hulle het die mooiste foto’s, stories en woorde gedeel.  Sy meisie Trish, het tydens die sessie ‘n roerende brief voorgelees oor die impak van sy lewe en liefde op haar.

ʼn Vriendin uit hulle Polekwane kinderdae, het die volgende gedeel:

I remember how Justin, Candice and I sat on the trampoline and ate sweet chilli chips. This afternoon I went to buy a pack of sweet chilli chips at our South African shop. I ate everything by myself. We spent so much time together as children. I cried like a baby when we moved to Australia! They were like my brother and sister xxx.”

Ander jeugvriende het kosbare verjaarsdagpartytjie-foto’s saam met die volgende boodskap gestuur:

“Thank you for the lovely session today. It was very emotional but also assured us that Justin is in God’s hands. We ask for you and uncle Charl to please stay strong for the sake of Candice and God bless your family. In our language, we say, “ A robale ka Kagiso” which means “May he Rest In Peace” From the Mokgoadi Family.

Dit was merkwaardig hoe sy vriende van kleins af verteenwoordigend was van al die verskillende kulture in ons land. Dit was wonderlik om te weet dat almal se liefde vir Justin ‘n gemene deler is en dit het my ongelooflike hoop gegee vir ‘n toekoms in ons pragtige land.

Ons laaste groet

Ek en Zander het die laaste aand voor ons Switserland toe gevlieg het in Justin se woonstel geslaap en die voorreg gehad om sy pragtige meisie, Trish, te ontmoet. Justin het vir my en Zander gehelp om by die lughawe uit te kom. Hy was dus die laaste persoon wat ek voor ons vlug in Suid-Afrika gegroet het. Min het ek geweet dit was die laaste keer dat ek hom sou sien.

Wanneer ons met die dood gekonfronteer word, dwing dit ons om weer te dink oor die lewe en hoe ons ons kosbare tyd gebruik. Die ervaring het my herinner aan ons impak op die wêreld en hoe ander ons sal onthou.

Groete

Emsia

Comments are closed.