Switserland se Franse en Italiaanse streke

Switserland se Franse en Italiaanse streke

Nadat ons ‘n paar waarskuwingsligte by ons almal sien brand het na ‘n uitdagende jaar, het ons besef dat ons ‘n doeltreffende pitstop-vakansie nodig het ondanks maskers, reëls en verblyf- en vervoerkansellasies wat ingestroom het weens Covid-19-beperkings.

Ons het die geleentheid gehad om die verskillende streke van Switserland te verken en te ervaar. Zürich, waar ons woon, is in die oostelike Duitssprekende streek. Ons wou die Wes-Franse kantons en die Suid-Italiaanse kanton Switserland sien en besoek. Elke area het sy skoonheid en bekoring.

Die Franse streek van Switserland

Die Franse deel van Switserland staan bekend as Romandy. Valais, Vaud en Geneva is drie van die grootste wynproduserende streke in Switserland. Die groen wingerde langs die oewer van die blou waters van die Genèvemeer skep ‘n pragtige prentjie. Ons het baie ooreenkomste tussen die Franse en Suid-Afrikaners ervaar, soos passie en sterk wil. Charl werk saam met die Franse. Hy sê al kan hy nie hul taal verstaan nie, is daar iets in hul wese wat hy mee kan identifiseer.

Ons het in die Rhônevallei gebly. Die Rhône-gletser het hierdie vallei gevorm, maar het weens klimaatsverandering gesmelt. Die Rhônerivier is ‘n melkerige groen kleur, en die wingerde is in rye wat hoog op die berg strek. Ons het een oggend oor ‘n brug gestap wat oor ‘n 950m hoë rotsskeur gebou is. Ons het op ‘n staproete tussen die wingerde af na ‘n Middeleeuse dorpie gestap en yskoue appelsap as ‘n verversing in die hitte geniet.

Die Italiaanse streek van Switserland

Ticino is die Italiaanssprekende streek in die suide van Switserland. Die naburige Italië het die argitektuur, kos en kultuur geïnspireer. In Bellinzona, die hoofstad van Ticino, het ons pragtige Middeleeuse kastele besoek. Ons het in Lugano gebly, wat ‘n vakansiedorp-atmosfeer het. Dit is reg langs ‘n blougroen gletsermeer met ‘n lieflike waterfront-promenade.

Ons het in die meer geswem, trapbote gehuur en op Zander se versoek probeer Stand Up Paddling (SUP) doen. Ons het die berg met die kabelbaan opgeklim om die wêreld van bo af te sien. Op my aanbeveling het ons afgestap. Met die hitte en al die klagtes was dit duidelik dat ek nie in aanmerking kom vir die spanlid van die week-toekenning nie. Ek het gevolglik pizza en gelato roomys as ‘n vredeoffer voorgestel. Covid-19-beperkings het gelei tot minder toeriste en kort toue.

Como in Italië

Ons het ʼn kans gewaag in Covid tye en met die trein oor die grens gery na Como in Italië. ‘n Hittegolf het saam met ons in Italië arriveer. Die Italianers is passievolle en gasvrye mense wat die mooi en lekker dinge in die lewe geniet en waardeer.  Ek kon nie ophou kyk na al die mooi ou geboue en villas met kleurvolle en goedversorgde tuine nie.  Hulle is deur die rykes in die Romeinse tyd gebou en dien deesdae as toeristeverblyf.

Vroegaand as die son begin sak en die lug koeler word, kom almal uit hulle leefareas met die mooiste klere en geure.  Die meisies is pragtig in hulle kleurvolle en vroulike rokke en rooi lippe. Die jong mans vertoon hulle mooi bruingebrande en geoefende lywe in hulle wit katoenhempde.  Hulle kuier gesellig tot laataand met mooi musiek verskaf deur straatmusikante. Vroegoggend hang die reuk van varsgemaalde koffie by al die straatkafeetjies en die mossies staan astrant nader vir hulle daaglikse brood.

My vergelyking tussen Switserland en Italie

Op pad terug huis toe het ek probeer om die verskil in ervaring tussen Switserland en Italië uit te klaar. Switserland is soos daardie baie georganiseerde gesinne of vriende wat jy besoek. Alles is ordelik en gestruktureerd. Die tuin word goed onderhou, en die meubels is duursaam. Etenstye is op ‘n vasgestelde tyd. Die etes is gesond en gebalanseerd.

Italië is soos spontane familie of vriende. Daar is baie vryheid om te kom en gaan soos jy wil. Die huis is vol kunswerke en detail. Die besoek is vermaaklik, en etes word gemaak met beskikbare bestanddele wanneer almal honger is.

Die een besoek is nie noodwendig beter as die ander nie. Dit is net anders.

Ciao

Emsia

3 thoughts on “Switserland se Franse en Italiaanse streke

  1. Dit was baie mooi! Dit hey my baie lus gemaak om daar te gaan. Die enigste ding wat Ma uitgelos het is dat hulle daarvan hou om toeruste 2 keer meer geld te vra as almal anders! Alles is nie altyd net parradys nie!

    1. Baie waar. Hulle weet toeriste sal maar betaal omdat hulle gewoonlike net een maal op ‘n plek kom en in ‘n vakansiebui is. Ek dink almal is nou al moeg van ‘n lang jaar en al die Covid reels en lus vir vakansie

Comments are closed.

Comments are closed.