Ons waardeer die kosbaarheid van vriendskap

Ons waardeer die kosbaarheid van vriendskap

Zander begin uitsien na die Switserse ervaring, maar die gedagte aan maats groet, druk swaar op hom. Daar is ʼn paar van hulle wat ʼn snoesige plekkie in sy en my hart uitgegrawe het.

Abby

Sy spesiale meisie-maatjie is Abby. Daar is altyd ʼn glimlaggie in haar ondeunde blou oë en dié jaar het hy vir haar met Valentynsdag ʼn sjokolade skool toe geneem. Abby het net soos Zander ook twee groot boeties. Sy verstaan dus van videospeletjies, tienermusiek, -taal en -optrede. 

Op vierjarige ouderdom het hulle Graad 0 saam by Welgemoed Pre-Primêr aangepak. Met ons aankom by die nuwe skool was alles vreemd en trane het begin blink. Abby het soos ʼn engel net verskyn, sy handjie gevat en gevra of hy saam met haar wil speel. Hulle vriendskap het op ʼn brose oomblik vir ons beide begin.  Hulle het intussen van die sandput na videospeletjies en ysskaats verskuif, maar Abby bly steeds sy spesiale meisie-maatjie.

Abby en Zander swem

George

ʼn Mens kan jouself uiters gelukkig ag as jy ʼn buurmaatjie soos George het. Hulle deel ouderdom,  is in dieselfde klas en druk saam voor in die rugbyskrum. George en Zander kuier amper daagliks, behalwe eksamentye waartydens ek en Aletta beide hoop en bid ons kan mekaar nie hoor nie.  Hulle jaag saam baie kreatiewe kattekwaad aan. 

Een Saterdagoggend het hulle brandende klappers in die toilet gegooi en die onderste stuk van die toilet weggeskiet. By George-hulle leer Zander van bou, braaivleis en sussies. Die geboorte van Roxy se dierbaarste klein babahondjies was ʼn hoogtepunt. By ons leer George van grootboetie-dinge en tegnologie.

George en Zander braai

Kosbaarheid van vriendskap

Weggaan dwing mens om aan die kosbaarheid van al die spesiale vriendskappe en verhoudings in jou lewe te dink. Die kwaliteit van ons persoonlike verhoudings het ʼn groot impak op ons emosionele welsyn. Ek koester oomblikke waar ek gevoel het daar is ʼn sielskonneksie en iemand my hart verstaan. Dit is die genot van saamwees en lekker lag wat ons laste in uitdagende tye ʼn bietjie ligter maak.

Ons beplan ʼn plesierige afskeidspartytjie, sodat Zander en sy maats vir oulaas sommer net heerlik in ons tuin kan baljaar. Ek gaan op my eie manier rustig van elkeen van my vriende oor ʼn koppie koffie of glas wyn afskeid neem. Die moeilikste groet is as ek en Zander vir oulaas my familie in die Kalahari en Jacques in Potchefstroom moet groet voordat ons in Johannesburg op die vliegtuig Switserland toe klim.

Laaste groet oor ‘n glas wyn met Tafelberg as uitsig

Nuwe vriendskappe

As ek vorentoe kyk is vriendskappe en verhoudings een van die dinge waaroor ek die meeste bekommerd is met ons weggaan. Aan die een kant gaan ek, ten spyte van die afstand, kreatiewe maniere moet vind om my huidige kosbare verhoudings in stand te hou. Aan die ander kant gaan ek maniere moet vind om nuwe vriendskappe, met mense wat anders as ek grootgeword het, te vestig.

Dit is amper weer soos om na ʼn egskeiding te probeer uitgaan. As introvert is dit vir my makliker gesê as gedaan.  Charl sal hopelik in sy werksituasie en Zander by die skool vriende ontmoet. Ek sal egter moet moeite doen en myself dwing om deel van geleenthede te wees waar ek ander mense kan ontmoet.

Ek verstaan die Switsers is redelik privaat. Die Duits is natuurlik nog ʼn redelike hoë hekkie waaroor ek sal moet kom voordat ek Switserse vriende kan oorweeg. Ek sal aanvanklik maar na ander ouers by Zander se nuwe skool moet uitreik. Ons is immers almal in dieselfde bootjie.

Groete

Emsia

4 thoughts on “Ons waardeer die kosbaarheid van vriendskap

  1. Emsia.
    Dankie dat ek kan deel in jou herinneringe & vertellings.
    Dis so lekker om d karakters in d storie te ken. Baie spesiaal.
    Mooibly.
    Drukkies vir jou 2 mans by jou.

    1. Ons is baie dankbaar Oupa Frikkie is deel van ons lewensstorie! 🙏

    1. Ek het na 30 jaar weer begin tennis speel en daar ‘n paar lekker vriende hier deur die tennis gemaak. Dit neem egter tyd om hartsvriende te maak. Met al my skryf het ek weer drade opgetel met heelwat vriende uit my verlede en ek het nooit kon dink dat ek die briefskrywery so gaan geniet nie.

Comments are closed.

Comments are closed.