Leefstyl veranderinge in Switserland

Leefstyl veranderinge in Switserland

Dit is soms nodig om te reflekteer op die pad wat jy gestap het, die keuses wat jy gemaak het en die impak daarvan.  Om in Switserland aan te pas het ons ʼn hele aantal leefstyl veranderinge gemaak.  Sommige van ons veranderinge was by keuse en ander was vir ekonomiese of praktiese redes.

Vervoer

Ons het ʼn groot aanpassing ten opsigte van vervoer gemaak. Ruimte en parkering is beperk en ons maak, soos die res van die mense in Switserland, gereeld van openbare vervoer gebruik. Ons ry fiets of stap as alternatief. Zander het baie vryheid tussen openbare vervoer en sy scooter.

Ons het na ons eerste jaar ʼn motor gekoop om ons opsies uit te brei. Charl moes weer ʼn praktiese rytoets aflê om ʼn Switserse bestuurslisensie te kry. Ek het meer daaroor in ‘n brief met die titel toetse op die pad gedeel. Ek het egter twee jaar laas in Suid Afrika bestuur, maar dink ek is heelwat fikser.

Eetgewoontes

Daar het ʼn groot verandering in ons eetgewoontes plaasgevind. Ons bederf na ʼn rowwe week in Suid Afrika was om naweke uit te eet of ontbyt op ʼn wynplaas te geniet. Ontbyt is nie eintlik ʼn groot ding hier nie.  Die Switsers kry sommer vinnig ʼn “gipfile” (croissant) of “Brezel” (reuse pretsel) en koffie op die treinstasie of by ʼn bakkery.

Uiteet is duur en die verskeidenheid opsies is beperk. Ek kan die kere wat ons uitgeëet het op my een hand tel. Dit is ook bekend dat koffie drink in Switserland die duurste in die wêreld is.

Ons leef amper heeltemal vegetaries.  Die vleisopsies is beperk en vleis is baie duur. Ek bederf so nou en dan vir Zander met ‘n hamburger of ʼn varkworsie. Die vleis en veral die hoender is vir my smaakloos.  Ons spyskaart is nou deesdae vegetaries.

Verblyf

Ons het ʼn groot huis met ʼn lieflike tuin in Suid Afrika verruil vir ʼn klein woonstel op die eerste vloer in ʼn groot woonstelkompleks Ankenbüel, in Zumikon. Skoonmaakhulp is 15 maal duurder as in Suid Afrika. Ek is dus dankbaar dat ons plek klein is, want die skoonmaaktaak is natuurlik na my rolbeskrywing geallokeer. Ons leef ligter met minder verantwoordelikheid en verpligtinge wat met huisinstandhouding gepaard gaan.

Die kleiner leefruimte veroorsaak dat ons meer permanent in mekaar se persoonlike ruimte is wanneer ons almal tuis is.  Ons het dit aanvanklik as ʼn potensiële probleem gesien, maar nou geniet ons die samesyn. Die aspek was egter tot die uiterste getoets met die Covid-19 inperking.

Diversiteit

Meeste mense wat in die woonstelkompleks woon, kom van verskillende dele in die wêreld. Die internasionale skool bestaan natuurlik ook uit families van reg oor die wêreld. Ons word dus blootgestel aan diversiteit op baie vlakke.  Deur Zander se maats leer ons van verskillende kos, kultuur, taal en dinge waarvan ons nooit geweet het nie.  Dit help ons om met nuwe oë en respek na diversiteit kyk.  Dit veroorsaak ook dat ons meer respek en waardering het vir ons eie land, sy mense en tradisies.

Taal

Ons Duitse woordeskat het al redelik uitgebrei en ons begrip van die taal is redelik, maar ons kan nog nie ʼn behoorlike gesprek in Duits voer nie. Ek was selfs in Suid Afrika nie altyd mooi op die program nie, maar hier het dit ʼn nuwe dimensie bereik. Dit is soms ʼn groot uitdaging. Die verwaging is dat jy die land waar jy woon se taal moet kan praat en met tydsverloop raak almal se geduld met jou al hoe minder.

Ons geniet die nuwe geleenthede en persoonlike groei wat dit meebring.  Die verandering het beslis ʼn groot impak op ons perspektiewe in ʼn veranderende wêreld. Ons word gereeld met ons self en ons uitkyk op dinge gekonfronteer.  Soms moet ons maar net vir ons self lag oor die flopse en flaters wat ons begaan.  Groei gebeur nie sonder die nodige groeipyne nie.

Groete

Emsia

One thought on “Leefstyl veranderinge in Switserland

Comments are closed.

Comments are closed.