Browsed by
Category: Italië en Frankryk

Ons eerste ski vakansie in Livigno, Italië

Ons eerste ski vakansie in Livigno, Italië

Dit is ons vyfde winter in Switserland en ons kan steeds nie ski nie. Ons het lankal vrede gemaak met die feit dat ons die sneeu op ander maniere as ski kan geniet. Aangesien al Zander se vriende gedurende die wintermaande ski, was dit nodig dat ons hom die geleentheid gee om te leer.

Livigno, klein Tibet van die Alpe

Ons het op Livigno in Italië besluit.  Dit is gerieflik naby aan ons veral met die trein wat motors saam met die insittendes deur die Alpe vervoer. Livigno word ook soms die Tibet van die Alpe genoem, hoofsaaklik as gevolg van sy hoogte bo seespieël en klimaat.  Die streek beleef lang en koue winters wat gekenmerk word deur aansienlike sneeuval. Gedurende hierdie seisoen vries die strome en mere in die vallei, wat bydra tot die skilderagtige winterlandskap.

Die omgewing bied vele geleenthede om die sneeu te geniet. Berge aan weerskante van die dorp spog met verskeie ski hellings maar ook pragtig ingerigte sneeuparke. Tydens ons besoek was dit duidelik dat voorbereidings in Livigno vir snowboard- en freestyle kompetisies vir die Milaan-Cortina 2026 Winter Olimpiese Spele aan die gang was.  Tydens ons besoek het ons nooit nodig gehad om met ons motor te ry nie. Die middel van die dorp is `n motorvrye area en gratis busvervoer is in die ski seisoen vir besoekers beskikbaar.

Die dorp is in die feestyd pragtig versier en en het uitstekende geleenthede vir belastingvrye inkopies gebied. Boonop het die Kersdorpie bekoorlike houtstalletjies met ‘n verskeidenheid handgemaakte geskenke gehad. Ons het naby ‘n bakkery gebly, en ek het dit geniet om elke oggend deur die sneeu te stap vir varsgebakte Italiaanse brood.

Baie Suid Afrikaners

Livigno geniet gewildheid onder Suid-Afrikaners. Ons het talle Afrikaanse gesprekke op straat gehoor. Ek en Charl het geglimlag toe ons hoor hoe ‘n man aan sy vrou in Afrikaans erken, “Ek besef nou dat ek heeltemal te oorgewig en onfiks vir hierdie tipe aktiwiteit is.”

Ek het Livigno as ‘n jong volwassene saam met ‘n groep Suid-Afrikaners vir ‘n ski-vakansie besoek. Vordering was stadig aan my kant. Dit het my vier dae geneem voor ek op die ski’s kon navigeer, draaie uitvoer en stop sonder om te val. Nietemin het die bevrediging om ‘n nuwe vaardigheid te bemeester ‘n blywende indruk gelaat.

Zander leer ski

Zander het die ski-skool in die oggende baie geniet en gou reggekom. Dit help as jy op 15 jaar, die jongste in jou groep is en risiko’s net iets is waaroor ouer mense hulle bekommer.  Ek het my verstom oor hoe vinnig die ski instrukteurs die klein kindertjies leer om te ski.  Hulle is absoluut vreesloos en is sommer gou gereed om van bo af met uitstekende tegniek teen die ski-hellings af te ski.

Na middagete het Zander sy nuutgevonde vaardighede op die ski-hange naby ons huis geoefen. Ek en Charl het verskillende kabelkarre teen die berge op gevat en verskeie roetes verken. Daar is ‘n bevredigende gevoel wanneer jou stewels knars op die vars versorgde sneeu en jy kan afkyk na die dorpie met sy sneeubedekte dakke en bevrore meer.

Elke sport het sy beserings en ons het ongelukkig heelwat ski ongelukke aanskou.  Die nooddienste is baie goed opgelei en het die beseerdes vinnig tot hulp gesnel. My hart het amper gaan staan toe Zander  op dag 3 noem dat hy `n swart roete uitprobeer het.

‘n Vriendin het gewaarsku, “In reisversekering se fynskrif staan hulle dek nie ongelukke op swart roetes nie.  As jy seerkry neem hulle jou na die naaste hospitaal in St. Moritz in Switserland.  Soos jy self weet is dit een van die oudste en duurste ski-oorde in Switserland. Ons het altyd gespot as jy daar op `n swart roete seerkry moet jy hoop iemand dink daaraan om jou na `n blou of rooi roete te sleep. Anders sal jy jou huis moet verkoop om die mediese kostes te dek!”

Centrale ski skool

Dinsdagaand het die ski-instrukteurs van die Centrale Ski skool, waar Zander ingeskryf was, ‘n vertoning op die ski-hange aangebied. Ek het ook 25 jaar gelede dieselfde skool bygewoon en kan die Oujaarsaandvertoning met die sagte vallende sneeu helder onthou. In die onlangse aanbieding het hulle in die geskiedenis van ski gedelf en verskeie sneeuaktiwiteite gedemonstreer. Daarbenewens het hulle die lande van herkoms van die kursusgangers erken. Ons opgewondenheid het die hoogte ingeskiet toe hulle Suid-Afrika erken het. Entoesiasties het ons saam met mede-Suid-Afrikaners ons tuisland toegejuig.

Baie sneeu

Ons het die grootste deel van ons vakansie pragtige sonskyn beleef. ‘n Paar dae voor Kersfees het dit egter begin sneeu, wat die dorp in ‘n wit kombers toegevou het. Gelukkig was die munisipaliteit goed voorbereid en het stootskrapers ontplooi om die strate skoon te maak en vragmotors om aansienlike sneeumassas te verwyder.

Bewus van die gevare wat smelt en vriesende sneeu in die koue weer inhou, het hulle die paaie ywerig met sout bedek om gladde toestande te voorkom. Ons het begin bekommerd raak oor die pad huis toe. Ons het nie kettings vir ons motor se bande nie en daarom is dit nie vir die sneeu ingerig is nie. Om ons risiko te bestuur het ons besluit om ‘n dag vroeër huiswaarts te keer. Dit was ‘n goeie besluit want die rit terug deur die Alpe was al uitdagend.

Livigno waarborg ‘n uitsonderlike ervaring wat ek van harte aanbeveel. Zander is verheug dat hy ‘n nuwe vaardigheid aangeleer het en sien uit na toekomstige ski-avonture saam met sy vriende.

Groete

Emsia

Gardameer se waters van rus

Gardameer se waters van rus

Die wêreld waarin ons leef is besig en vol uitdagings en verandering. Ons liggaam en siel het stilte en rustigheid nodig. Ons het tyd nodig om asem te skep, sin te maak van alles, af te skakel en teenwoordig te wees om die skoonheid om ons te geniet. ’n Verandering in ons omgewing verrig dikwels wondere.

Toe ons voor ons vakansiehuis naby die Gardameer in Noord-Italië stilhou, het dit na net die regte plek gelyk om rus en vrede te vind.

Die verblyf het ‘n groot stoep gehad omring deur pers bougainvilleas. Die sonbesies in die omliggende olyfboorde het vir agtergrondmusiek gesorg. Vroegoggend en aand het die kerkklok die mooiste deuntjie gespeel en die plaaslike donkie en pou aangemoedig om hul musikale bydraes te lewer.

Gardameer

Die Gardameer is die grootste meer in Italië, geleë tussen die Alpe en die Po-vallei. Die hoë berge, skilderagtige dorpies en welige natuur dra by tot ‘n pragtige prentjie. Ek het die goedversorgde tuine, grasperke en vele historiese klipgeboue wat die oewer van die meer versier, bewonder.

Om in die meer te swem was ‘n rustige ervaring. Die water is silwerskoon en baie verfrissend. Gesinne het in die water met ‘n bal gespeel of op ‘n SUP of kajak geroei. Die son het op die water geblink en ons kon die klippies op die bodem sien.

Ons het gereeld rondgery om die omgewing en verskillende dorpies langs die meer te verken.

Toscolano Moderno

Die dorpie naaste aan ons verblyf was Toscolano Moderno. Hierdie dorpie dateer uit die Romeinse tyd en was ‘n belangrike sentrum van papierproduksie. Dit het ‘n hawe vanwaar bote die papier na Venesië geneem het. In die verlede het adellike families hier gewoon. Oorblyfsels van pragtige villa’s omring deur talle suurlemoenboorde en welige tuine vol pers bougainvillaeas getuig hiervan.

Limone

Limone was die mooiste plek vir my en het steeds die atmosfeer van ‘n klein dorpie Die hoofaktiwiteite tot die vorige eeu was visvang en olyf- en suurlemoenverbouing. Ons het Limone op markdag besoek en kon eerstehands die verkope van suurlemoene en ander plaaslike en handgemaakte produkte ervaar.

Limone strek langs die oewer van die Gardameer en het kliphuise wat in die berghange versteek en met plante en blomme versier is. Baie plekke kyk uit oor die meer, en jy kan wonderlike uitsigte oor die Gardameer geniet as jy bereid is om die vele trappe wat na die terrasse lei, te klim.

Salo

Ons laaste besoek was aan Salo, die grootste stad aan die westelike oewer van die Gardameer. Ek lees dat Salo die langste promenade in Italië het en ons het saam met al die ander besoekers daarlangs gaan stap.

Daar is talle kafees en restaurante en ons het ‘n rukkie gaan sit en kyk hoe die wêreld verbygaan.

Die smal paaie in Italië

Die smal paaie in Italië het ons soos voorheen gekonfronteer. Met ’n klipmuur weerskante van die pad dorp toe, het ons net vooraf gehoop op geen aankomende verkeer nie. Soms was ons gelukkig, maar ander kere moes Charl vir lang afstande in trurat ry om plek te maak vir aankomende werksmense wat haas om betyds by die werk te kom. Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat daar ‘n groot verskil tussen Italiaanse en Switserse bestuurders is!

Ons het Gardameer se rustigheid geniet. Vir my is die Gardameer die Europse vorm van `n Hartenbos vakansie waarvan ek kosbare herinneringe as kind het.

Een van hierdie paadjies wat naby ons verblyf verby loop, vorm deel van ‘n Camino-roete. Die baie stappers het vir Zander en my aangemoedig om ‘n deel van die pad tussen twee kerke aan te durf. Die uitsigte oor die meer en baie koeltebome op die roete het ‘n aangename ervaring geskep.

Donderstorm

Een nag het `n donderstorm ‘n skouspel in die lug bo die meer veroorsaak. Dit was stormagtig, ons het glas hoor breek en die wind het die potplante op die stoep omgewaai. Die sonbeddens en sambrele het in die swembad ingewaai. ’n Pa het tevergeefs probeer om sy kinders se speelgoed wat buite gelaat is, te soek. Hy het met ‘n glimlag opgemerk dat hulle die volgende dag ‘n skattejag sou hou.

Die volgende oggend het ‘n kalmte neergedaal en die son het helder op die meer geskyn as ‘n teken dat die storm verby is. Ek deel ons vakansiefoto’s hieronder

Ek is dankbaar dat ons die rustigheid van die Gardameer kon ervaar. As kinders het ons gesin met somervakansies Hartenbos toe gegaan om vrede en ‘n verandering in omgewing te ervaar. Vir my is die Gardameer die Europese vorm van ‘n Hartenbos-vakansie.

groete

Emsia