Al my kinders weer onder my dak

Al my kinders weer onder my dak

Ek was so opgewonde om al my kinders weer onder my dak te hê. Januarie was gevolglik ‘n vreugdevolle manier om 2023 af te skop. Hulle moes binne een dag van uiterste somertemperature in Suid-Afrika na uiterste wintertemperature in Switserland aanpas. ’n Sprokiesagtige sneeu-ervaring het die ysige weer egter die moeite werd gemaak.

Jacques

Jacques het vroeg in Januarie aangekom. Sy bakkery, The Cinnamon Club, het ‘n besige groeijaar beleef en hy het gevolglik uitgesien na ontspanningstyd in die natuur en inspirasie vir nuwe idees en kreatiwiteit. Net soos die Switsers glo Jacques ook in die positiewe uitwerking van koue winterbaddens op liggaam, siel en gees. Hy het die pragtige natuurlike plekke in die woud geniet waar hy sy winterbad kon neem.

Hy volg ‘n plantgebasseerde en glutenvrye dieet. Die situasie het my aangemoedig om my dieetkennis uit te brei. Sy besoek het mooi saamgeval met Veganuary, wat daarop gemik is om bewustheid te skep oor die gesondheids- en omgewingsvoordele van plantgebaseerde diëte. Ons het lekker saam gekook en kos idees uitgeruil. Ek het in ‘n vorige brief meer gedeel oor hoe Jacques my kosmaak met liefde geïnspireer het.

Al my kinders saam

Christo en sy meisie Simone het ‘n week later opgedaag. Die tienermanewales van my volwasse seuns het uitgekom die oomblik toe hulle saam was. Zander het sy simpel broers geniet. Ek kon net glimlag vir die plaaslike inwoners se vraende kyke na die jong mans se kaalvoete en Crocks in temperature onder vriespunt.

Dit was kosbaar om weer familietyd om ons houttafel deur te bring. Ons het hulle blootgestel aan die Switserse winterkosspesialiteite, Raclette en Fondue. Die verskillende vorme van Switserse kaas skep ‘n aangename geselligheid om die tafel in die ysige wintermaande.

House of Lindt was eerste op ons Zürich-reisplan en ons het ons bestemming per boot op die Zürichmeer bereik. Jacques maak self sy vegan sjokolade en het die inligting oor die kakaoproduksieproses en geskiedenis van sjokoladeverbruik baie interessant gevind. Die res van ons het meer gefokus op Lindt se vele geleenthede om die verskillende soorte sjokolade te proe. Dit was ook die perfekte plek vir geskenke vir Simone se familie in Suid-Afrika.

Die sneeu het ‘n dag voor Jacques se vertrek begin val, en ek was dankbaar om die wonder van die eerste sneeu met hulle te kon deel.

Christo en Simone

Terwyl die sneeu liggies geval het, het ons saam met Christo en Simone Flumserberg toe gery. Dit is ons naaste ski-oord, wat ook verskeie geleenthede bied om in die sneeu te stap. Met ons aankoms was dit -9 grade. Ons het met ‘n skilift hoër op teen die berg gegaan en in die sagte wit sneeu afgestap terwyl ons gekyk het hoe gesinne ski, snowboard en in slees ry.

Weens die erge koue het ons vir die res van die week binnenshuise aktiwiteite gekies. Ons het Zürich se kunsmuseum besoek en oorspronklike werke deur Van Gogh, Monet en Picasso bewonder. Ek het ‘n moderne uitstalling deur Pipilotti Rist geniet. Dit is ‘n pixelwoud wat van kleur verander met die mooiste dromerige musiek as agtergrond. Die kreatiwiteit het ons geïnspireer om vir ‘n dag tuis te bly en te verf terwyl ons na ontspannende musiek luister.

Op die laaste dag voor hul vertrek terug na Suid-Afrika het ons na Konstanz, net anderkant die Duitse grens, gery. Ek wou ‘n Europese spa-ervaring met hulle deel. Ons het na Konstanz Therme gegaan en met ‘n uitsig oor die Bodenmeer in die warm water ontspan. Simone se wens om ‘n Duitse Bratwurst te eet, het ons middagete in die hawe geïnspireer.

My hart was seer maar tevrede toe ek hulle by die lughawe moes afsien. Almal het nuwe energie vir die jaar wat voorlê. Jacques het baie idees vir sy bakkery en Christo moet fokus op die finale jaar en tesis vir sy ingenieurstudies en besluite oor die toekoms.

Ek is dankbaar vir kosbare herinneringe.

Groete

Emsia

Comments are closed.