Ons skip met ons aardse besittings het gekom!

Ons skip met ons aardse besittings het gekom!

Ons beker van vreugde en verligting het oorgeloop toe ons krat met ons paar aardse besittings na 53 dae in Zumikon aangekom het. Die reuse krat is per vragmotor van Welgemoed na die Kaapse hawe, per vragskip na Port Elizabeth voor dit uiteindelik by Rotterdam in Nederland aangekom het.  Daarna het dit op ʼn plat boot stroom-op in die Rynrivier gevaar vir 1 200 kilometer tot by Basel in Switserland waar dit deur doeane is en daarna per vragmotor tot voor ons blyplek.  Ek het nuwe respek vir logistieke beplanning!

Ons kan weer fietsry

Drie weke se kamp in ʼn leë woonstel

Ons was meer verheug oor die bekendheid as die gerief van ons goed. Die drie weke se kamp in ʼn leë woonstel het bewys dat ons eintlik met baie min goed oor die weg kan kom.  Kinders se vernislagies is mos heelwat dunner as volwassenes sin en  Zander se reaksie was aandoenlik.  Sy blydskap was sonder grense by die aanskoue van ons goed.  Die aand toe hy so ʼn bietjie saam met ons in ons bed lê, sê hy: “Sjoe Mamma, die komberse ruik lekker.  Dit ruik na julle, na jou en Pappa.” Dit het dit eintlik opgesom.

Ons trek in

Ons oorleef met ons staalpakkies

Baie dinge is vir ons anders en vreemd.  In die oggend trek mens jou staalpakkie aan, sit jou glimlag op en kyk die drake in die oë.  In die aand voel mens tevrede, want jy voel jy het ʼn paar nuwe dinge geleer en nuwe terreine verken. As jy egter tuis kom, soek jy ʼn veilige hawe en dan is jou eie goed en jou eie mense kosbaar, bekende skaafplekke, krapmerke en al.  In jou veilige hawe kan jy jou wonde lek. Hier kan jy so bietjie vir jouself en mekaar lag oor die dag se flopse en frustrasies.

Ons woonstel

Ons woon in ‘n plattelandse omgewing

Ons geniet ons nuwe tuiste.  Dit is nuut en lekker lig en in ʼn plattelandse omgewing tussen boerdery bedrywighede.  Dit is ongelukkig vêr van Charl se werk af en dit neem hom ongeveer een uur om met ʼn bus, trein en tram by die werk te kom. Zander is so vyftien minute met die trein weg van sy skool af. 

Al die toebehore in die blyplek is nuut en dit het my ʼn ruk geneem met die hulp van my Clicks-brille en die Google vertaler te bepaal hoe die magnetiese induksie-stoof, die hoogs tegnologiese oond wat ook ʼn stoomfunksie het en die wasmasjien en tuimeldroeër, met Duitse aanwysings, werk.

Temperatuur regulering

Aan die begin was dit vir ons vreemd om soos almal hier ons skoene by die deur uit te trek as ons inkom.  Die hele huis het blindings, maar dit sit aan die buitekant van die huis.  As dit baie warm raak, is toe blindings die enigste manier om die plek koel hou.  Ons lees op Google daar is blykbaar ʼn verbod op lugverkoeling in terme van die EU F-gas regulasie om die osoonlaag te beskerm.  Volgens Charl kan jy enige iets behalwe jouself op Google vind!

Die woud naby aan ons huis en Zander by Zurich meer

Herwinning

Herwinning is ook op ʼn ander vlak.  Die hele Switserland is vol herwinningspunte met ʼn drom vir elke soort materiaal insluitend aluminium, plastiek, verskillende kleure glas, PET plastiek, karton, komposmateriaal tot selfs ʼn yskas vir afgestorwe troeteldiere.  Ons herwinningspunt is naby aan Zander se skool en ons is al fiks gestap soontoe met ons hope kartonne waarin ons nuwe kaste, wat ons self moes bou, verpak was. 

Die enigste goed wat jy in jou vullisdrom tuis mag gooi, is goed soos vuil verpakkingsmateriaal en dit moet in ʼn spesiale sak gaan waarvoor jy ʼn plakker teen R25 ʼn sak by die munisipaliteit moet gaan koop om jou aan te moedig om so veel as moontlik te herwin.

Gesondheidsbewustheid

Die Switsers is baie gesondheidsbewus.  Kitskoswinkels is skaars.  Ek verstom my as die mammas vir die kleuters wortel- en komkommerstokkies uithaal as peuselkos en die kleuters dit met genot eet asof dit ʼn draairoomys is.  Oral sien jy mense draf of fietsry en ek het nog glad nie vet Switsers gesien nie.  As iemand effe dik in die boud is, weet jy sommer dit is ʼn toeris.  Ons werk ook nog aan ons eie boude wat nou effe dik geword het van al die roomyse en tjoklits wat moet help vir die wonde wat die vreemde drake ons toedien!

Omgewing om ons huis

Sondae

Sondag is ʼn propperse sewende rusdag soos wat dit bedoel was. Alle winkels is gesluit en die mense spandeer die dag met hulle gesinne in die buitelug.  Hulle stap graag in een van die baie woude of staproetes langs die meer.  Selfs die ou kleintjies ry saam met mamma of pappa op ʼn fiets of ry in hulle stootkarretjies met wortelstokkies in die een en ʼn bottel water in die ander hand. 

Ek geniet die mooi klanke van die kerkklokke wat mens oral hoor. Alle belangrike Christelike dae is publieke vakansie dae, selfs Hemelvaart en die dag waarop die Heilige Gees uitgestort is. Vrouedag op 9 Augustus was snaaks genoeg nie ʼn vakansiedag nie.  Ek verstaan die stryd om gelyke regte vir vroue word hier in Switserland nog hard gestry.

Volgende week begin die skole en Maandag word toegewy aan alle nuwelinge en hulle ouers.  Ons sal ons staalpakkies aantrek, ons glimlagte opsit en in my volgende brief vertel hoe dit gegaan het.

Groete

Emsia

Comments are closed.