‘n Lewensverhaal in metafore uitgedruk

‘n Lewensverhaal in metafore uitgedruk

Metafore is kragtig en dien as waardevolle hulpmiddels wanneer ons ‘n komplekse gedagte moet verduidelik en nie die regte woorde daarvoor kan vind nie. As ons metafore in gesprekke of in die geskrewe vorm gebruik, aktiveer dit die verbeelding en maak dit makliker om emosies en indrukke oor te dra. Die gebruik van metafore dien as waardevolle hulpmiddels wanneer dit nodig is dat mense ‘n ou idee op ‘n nuwe en lewendige manier moet sien. Hulle verander op ‘n onbewustelike vlak die manier waarop ons aan ‘n konsep dink.

Ek het onlangs aan ‘n oefening deelgeneem wat ons uitgedaag het om aspekte van ons lewensreise met behulp van simbole en metafore te vertel. Ons was beperk tot vyf metafore. Dit was ‘n interessante ervaring en het my in gedwing om op ‘n ander manier te dink.  

Ek deel hieronder meer oor die vyf metafore wat ek gekies het om aspekte van my lewensverhaal voor te stel.

Metafoor 1 – Kameeldoringpeul

Die eerste simbool wat ek gekies het, is die peul van ‘n kameeldoringboom. My wortels spoor terug na Kathu in die Kalahari, geleë in ‘n Kameeldoringwoud. Hierdie peul simboliseer die sekuriteit en koesterende omgewing wat ek in my ouerhuis en gemeenskap gedurende my vormingsjare gevind het. Ons lewenstyl was nederig en ons het na aan die aarde geleef.

Die peul verteenwoordig ook veeldoeligheid. Behalwe om nuwe boompies te kweek, het ons dit ook versamel vir veevoer en om as kole in ‘n vuur te gebruik. Die lewe in die Kalahari het ons probleemoplossingsvaardighede en die kuns van innovasie geleer. Ons ouers het ‘n sterk werksetiek ingeskerp en verwag dat ons tot huishoudelike take bydra. Gevolglik het ons verskeie basiese vaardighede bemeester wat ons regdeur ons lewens bygebly het.

Metafoor 2 – Sakrekenaar

Die sakrekenaar simboliseer die berekende manier waarop ek my jong volwasse lewe benader het. Ek het spesifieke idees gekoester oor die trajek van my lewe, veral as ‘n vrou, met die vooruitsig hoe my loopbaan, huwelik en gesin sou harmoniseer. Net soos die verwerking deur ‘n sakrekenaar, het ek outomatiese uitkomste vir hierdie aspekte in my lewe verwag.

Verder beliggaam die sakrekenaar my loopbaan in die finansiële sektor. Ek het by ‘n oudit- en rekenmeestersfirma gewerk en organisasies gehelp om te verseker dat hul finansiële state hul finansiële gesondheid weerspieël. Ek het egter gou besef dat terwyl ek in die sakewêreld floreer, ek bevrediging gevind het in die interaksies met kliënte en kollegas eerder as die take self. Die uitkomste in my beroep het aansienlik afgewyk van my aanvanklike verwagtinge. Die situasie in my huwelik was soortgelyk.

Metafoor 3 – Gieter

Tuinmaak was nog altyd ‘n terapeutiese uitlaatklep, wat waardevolle lesse vir my bied. Ek het onder andere gesien hoe ‘n sukkelende plant in een deel van my tuin in ‘n ander omgewing met voeding en genoeg water kan floreer. Hierdie metafoor het diep met my resoneer. Deur die versorging van my tuin, het ek beter begin verstaan dat my lewensdoel soos dié van ‘n gieter lyk. Dit is `n instrument in God se hande om met liefde en sorg by te dra tot ander se groei.

My veranderingsreis het begin met ‘n belegging in my eie persoonlike in die vorm van`n Life Coaching kursus. Die nuutgevonde kennis en insig het my beter toegerus om my rol as instrument in ander se groei te vervul. My eerste fokus was my kinders.  Nadat ek my persepsie van my rol aan my baas by die werk verduidelik het, het hy ‘n verandeirng in my rol by die werk gefasiliteer. In my nuwe rol kon ek aktief tot die persoonlike ontwikkeling van ander bydra. Hierdie verskuiwing het vir my geweldige persoonlike vervulling gebring.

Metafoor 4 – Pen

Ek het vroeg in my lewe die waarde van skryf ontdek. Skryf is ‘n waardevolle manier om die emosies wat dreig om my te oorweldig, te hanteer. Dit help my om sin te maak van wat ek voel. Die papier of rekenaarskerm gee nie raad nie, maar luister sonder onderbreking en help my om perspektief en antwoorde te kry. Terwyl ons die lewe in Switserland navigeer, help my tweeweeklikse briewe my om sin te maak van gebeure, in verbinding met my hartsmense te bly en herinneringe te bewaar.

Ek het besef dat skryf my ook in staat stel om ander mense se lewens met woorde te beïnvloed. Ek beplan om in die volgende paar maande ‘n e-boek met die titel Briewe Huis Toe te publiseer. Daarin sal ek die dieptes van ons interne en eksterne ervarings en groei as ‘n Suid-Afrikaanse gesin wat in ‘n vreemde land woon, deel.

Metafoor 5 – Horlosie

‘n Horlosie sou my metafoor vir ons tyd in Switserland wees.  Die omgewing is baie ordelik, stiptelik en alles gebeur met Switserse presisie op tyd.

Die aanvanklike vyftig jaar van my lewe het soos ‘n ewige wedloop teen tyd gevoel. Met ons verhuising na Switserland het die situasie verander. Ek het die een ding waarna ek nog altyd gesmag het ontvang – tyd. Met die fokus op my welstand en groei, het ek dinge oorweeg wat my hart en siel voed. Ek het gedink aan maniere om gesond te bly en die kennis en vaardighede oorweeg wat ek wou uitbrei. Die proses het ‘n reis van selfontdekking en doelbewuste lewe geword.

Ons tyd hier in Switserland, net soos ons tyd op aarde, is geleende tyd, want dit kan enige tyd tot ‘n einde kom.

Die metafoor oefening het my gehelp om oor my lewensverhaal in prentjies te dink. As as jy aan die oefening moes deelneem, watter items wat voldoende betekenis as metafore dra om belangrike aspekte van jou lewe op te som, sou jy kies? 

As ‘n prentjie duisend woorde werd is, is ‘n metafoor duisend prente werd.

Groete

Emsia

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui