Switserse andershede wat my verstom

Switserse andershede wat my verstom

Mens maak soms die fout om te dink dat jou manier van doen die regte, die beste of die enigste manier is. In ‘n ander omgewing besef jy verskeie benaderings tot dieselfde situasie is moontlik en daag jou uit om jou perspektief te verbreed. Switserland het my op verskeie maniere hiermee gekonfronteer.

Nakoming van reëls bied vryheid

Een van die eerste dinge wat ek in Switserland opgemerk het, was hoe getrou mense die reëls nakom.  Burgers verseker ‘n ordelike naasbestaan ​​deur die verantwoordelikheid te neem om misstappe uit te wys. Zander en sy vriende het ‘n term daarvoor – die plaaslike inwoners “swiss” jou! Aanvanklik het dit stres veroorsaak, maar ek kon die positiewe impak op orde en veiligheid en die vryheid wat daaruit voortspruit, sien en verstaan.

Met my aankoms het ek opgemerk dat ek op openbare vervoer kan klim sonder ’n vooraf kontrole wat verseker dat ek ’n treinkaartjie het.  Mense volg die reëls en daar word aanvaar dat almal kaartjies het. Beamptes in gewone klere bevestig soms op ’n verrassingsbasis dat jy ’n kaartjie het en die boetes is hoog as jy die reëls oortree.

My jong volwasse seuns het dit vreemd gevind dat mense alkohol in die openbaar en op treine kon gebruik. Ek het dit ook opgemerk toe feesgangers tydens die Zurich straatparade met ‘n bier in die hand gestap het en hulle nie wangedra het nie.

In Switserland is militêre diens verpligtend vir jong Switserse mans. Ek was verbaas toe ek ‘n jong man geklee in sy militêre uniform ‘n bier op die trein sien drink. Ek het grootgeword toe militêre diensplig nog verpligtend was in Suid-Afrika en hierdie prentjie was in baie opsigte ‘n uitsondering op my verwysingsraamwerk.

Die naakte waarheid

Die Switsers, soos ander Europeërs, is baie meer gemaklik met naaktheid as waarmee ek grootgeword het. Mense sal maklik diskreet klere aantrek ná ‘n swem in die meer, en hulle is gemaklik om voor ander mense uit te trek en selfs sonder klere in openbare kleedkamers rond te loop.

Ons sauna ervaring

Spa en termiese baddens is baie gewilde winteraktiwiteite en een van ons winterpretontdekkings.

Ek en Charl het ons plaaslike swembad se pragtig en netjies ingerigte spa-fasiliteite beproef. Daar was ‘n voorgestelde volgorde vir die gebruik van die fasiliteite wat sauna en stoomkamers afwissel met yskoue baddens vir optimale gesondheidsvoordele.

Die sauna was eerste op die lys. Met die instap het ek opgemerk dat die mense binne, almal mans, geen swemklere aan het nie. Ek was ongemaklik, maar het besluit om stil in my hoek te sit en my oë op die deur te hou. Na ‘n rukkie het hulle albei uitgestap. Ek het aan hul lyftaal agtergekom hul gesprek met ‘n dame het iets met ons te doen het. In Switserse styl het sy die deur oopgemaak en ons ferm meegedeel dat swemdrag nie in die sauna toegelaat word nie.

Ek het ‘n bietjie verwerkingstyd nodig gehad. Ons het besluit om die reëls te volg, maar het in die stoomkamer ingegaan waar jy niks kon sien nie. Na ‘n paar minute het my moed my begewe en is ons huis toe. Ek het nog interne werk om te doen oor die onderwerp van naaktheid.

Ginekologiese besoek

Ná meer as twee jaar in Switserland het my gewete my herinner dat dit tyd is vir my jaarlikse ginekologiese besoek. Toe ek by die spreekkamer instap, het beide ek en die dokter besef dat haar Engels en my Duits ewe beperk is. My oë het vinnig deur die kamer gegaan om die aantrekhokkie met die pasiënte kamerjas te vind. Ek het met skok besef dat Switserse dokters voorstanders van doeltreffendheid is en met groter gemak met naaktheid is aantrekhokkies en kamerjassies onnodig.

Die situasie het my met die naakte waarheid gekonfronteer. Ek en die dokter het in ‘n mengsel van Engels, Duits en gebare deur die ondersoek gesukkel en was ewe verlig toe ek uitstap.

Geld sake

Zürich is een van die duurste stede ter wêreld en die pryse van alledaagse items was aanvanklik ‘n groot skok.

In Suid-Afrika is ons gewoond aan hoë inflasiekoerse, met gepaardgaande hoë rentekoerse. Daar is ten minste ‘n voordeel aan hoë rentekoerse as jy ‘n bietjie spaargeld in die bank het. In Switserland is inflasie en rentekoerse laag. Die konsep van negatiewe rente in Switserland was egter ‘n verrassing. As jou banksaldo ‘n sekere drempel bereik, betaal jy rente vir die voorreg om jou geld in ‘n Switserse bank te hou!

Belasting werk ook heel anders. Daar is drie vlakke van belasting. Switserse federale belastingwetgewing is eenvormig regdeur Switserland, maar elk van die 26 kantons het ‘n aparte kantonale belastingwet. Munisipaliteite hef hul belasting as ‘n veelvoud van kantonale belasting. Aangesien belastingwette en belastingkoerse aansienlik verskil tussen kantons en plaaslike munisipaliteite, speel die keuse van woonplek ‘n beduidende rol in belastingbeplanning.

Getroude paartjies moet ‘n gesamentlike Switserse belastingopgawe indien, en die owerhede slaan hulle gesamentlik aan. Ons is gewoond daaraan dat werkgewers maandeliks belasting van werknemers se salarisse aftrek en dit aan die belastinggaarder oorbetaal. In Switserland geld dit net vir expats.

Soos ‘n nuwe paar skoene

Hulle sê om in ‘n nuwe land te vestig, is soos om gewoond te raak aan ‘n nuwe paar skoene. Aanvanklik knyp hulle ‘n bietjie, maar jy hou van hoe hulle lyk, so jy gaan voort. Hoe langer jy hulle het, hoe gemakliker word hulle.

Groete

Emsia

2 thoughts on “Switserse andershede wat my verstom

  1. Emsia. Dankie vir d deel van hierdie vreemde & persoonlike ervarings. Dit laat my besef hoe mens dink dinge is normaal as dit is waaraan jy gewoond is. So kan/gaan dit gebeur dat ons in SA gewoond raak aan die swakker ekonomiese, politiese & sosiale situasie. Ons as ouer mense, sukkel daarmee. Dankie vir jou gereelde skrywes – ek vind dit leersaam. Sterkte daar. Frikkie

    1. Ek kan net dink watter ongelooflike veranderinge en aanpassings julle al in julle leeftyd ervaar het. Ek is bly om te hoor Oom vind waarde in my skrywes! Sterkte ook vir julle!

Comments are closed.

Comments are closed.