Ons eerste ski vakansie in Livigno, Italië

Ons eerste ski vakansie in Livigno, Italië

Dit is ons vyfde winter in Switserland en ons kan steeds nie ski nie. Ons het lankal vrede gemaak met die feit dat ons die sneeu op ander maniere as ski kan geniet. Aangesien al Zander se vriende gedurende die wintermaande ski, was dit nodig dat ons hom die geleentheid gee om te leer.

Livigno, klein Tibet van die Alpe

Ons het op Livigno in Italië besluit.  Dit is gerieflik naby aan ons veral met die trein wat motors saam met die insittendes deur die Alpe vervoer. Livigno word ook soms die Tibet van die Alpe genoem, hoofsaaklik as gevolg van sy hoogte bo seespieël en klimaat.  Die streek beleef lang en koue winters wat gekenmerk word deur aansienlike sneeuval. Gedurende hierdie seisoen vries die strome en mere in die vallei, wat bydra tot die skilderagtige winterlandskap.

Die omgewing bied vele geleenthede om die sneeu te geniet. Berge aan weerskante van die dorp spog met verskeie ski hellings maar ook pragtig ingerigte sneeuparke. Tydens ons besoek was dit duidelik dat voorbereidings in Livigno vir snowboard- en freestyle kompetisies vir die Milaan-Cortina 2026 Winter Olimpiese Spele aan die gang was.  Tydens ons besoek het ons nooit nodig gehad om met ons motor te ry nie. Die middel van die dorp is `n motorvrye area en gratis busvervoer is in die ski seisoen vir besoekers beskikbaar.

Die dorp is in die feestyd pragtig versier en en het uitstekende geleenthede vir belastingvrye inkopies gebied. Boonop het die Kersdorpie bekoorlike houtstalletjies met ‘n verskeidenheid handgemaakte geskenke gehad. Ons het naby ‘n bakkery gebly, en ek het dit geniet om elke oggend deur die sneeu te stap vir varsgebakte Italiaanse brood.

Baie Suid Afrikaners

Livigno geniet gewildheid onder Suid-Afrikaners. Ons het talle Afrikaanse gesprekke op straat gehoor. Ek en Charl het geglimlag toe ons hoor hoe ‘n man aan sy vrou in Afrikaans erken, “Ek besef nou dat ek heeltemal te oorgewig en onfiks vir hierdie tipe aktiwiteit is.”

Ek het Livigno as ‘n jong volwassene saam met ‘n groep Suid-Afrikaners vir ‘n ski-vakansie besoek. Vordering was stadig aan my kant. Dit het my vier dae geneem voor ek op die ski’s kon navigeer, draaie uitvoer en stop sonder om te val. Nietemin het die bevrediging om ‘n nuwe vaardigheid te bemeester ‘n blywende indruk gelaat.

Zander leer ski

Zander het die ski-skool in die oggende baie geniet en gou reggekom. Dit help as jy op 15 jaar, die jongste in jou groep is en risiko’s net iets is waaroor ouer mense hulle bekommer.  Ek het my verstom oor hoe vinnig die ski instrukteurs die klein kindertjies leer om te ski.  Hulle is absoluut vreesloos en is sommer gou gereed om van bo af met uitstekende tegniek teen die ski-hellings af te ski.

Na middagete het Zander sy nuutgevonde vaardighede op die ski-hange naby ons huis geoefen. Ek en Charl het verskillende kabelkarre teen die berge op gevat en verskeie roetes verken. Daar is ‘n bevredigende gevoel wanneer jou stewels knars op die vars versorgde sneeu en jy kan afkyk na die dorpie met sy sneeubedekte dakke en bevrore meer.

Elke sport het sy beserings en ons het ongelukkig heelwat ski ongelukke aanskou.  Die nooddienste is baie goed opgelei en het die beseerdes vinnig tot hulp gesnel. My hart het amper gaan staan toe Zander  op dag 3 noem dat hy `n swart roete uitprobeer het.

‘n Vriendin het gewaarsku, “In reisversekering se fynskrif staan hulle dek nie ongelukke op swart roetes nie.  As jy seerkry neem hulle jou na die naaste hospitaal in St. Moritz in Switserland.  Soos jy self weet is dit een van die oudste en duurste ski-oorde in Switserland. Ons het altyd gespot as jy daar op `n swart roete seerkry moet jy hoop iemand dink daaraan om jou na `n blou of rooi roete te sleep. Anders sal jy jou huis moet verkoop om die mediese kostes te dek!”

Centrale ski skool

Dinsdagaand het die ski-instrukteurs van die Centrale Ski skool, waar Zander ingeskryf was, ‘n vertoning op die ski-hange aangebied. Ek het ook 25 jaar gelede dieselfde skool bygewoon en kan die Oujaarsaandvertoning met die sagte vallende sneeu helder onthou. In die onlangse aanbieding het hulle in die geskiedenis van ski gedelf en verskeie sneeuaktiwiteite gedemonstreer. Daarbenewens het hulle die lande van herkoms van die kursusgangers erken. Ons opgewondenheid het die hoogte ingeskiet toe hulle Suid-Afrika erken het. Entoesiasties het ons saam met mede-Suid-Afrikaners ons tuisland toegejuig.

Baie sneeu

Ons het die grootste deel van ons vakansie pragtige sonskyn beleef. ‘n Paar dae voor Kersfees het dit egter begin sneeu, wat die dorp in ‘n wit kombers toegevou het. Gelukkig was die munisipaliteit goed voorbereid en het stootskrapers ontplooi om die strate skoon te maak en vragmotors om aansienlike sneeumassas te verwyder.

Bewus van die gevare wat smelt en vriesende sneeu in die koue weer inhou, het hulle die paaie ywerig met sout bedek om gladde toestande te voorkom. Ons het begin bekommerd raak oor die pad huis toe. Ons het nie kettings vir ons motor se bande nie en daarom is dit nie vir die sneeu ingerig is nie. Om ons risiko te bestuur het ons besluit om ‘n dag vroeër huiswaarts te keer. Dit was ‘n goeie besluit want die rit terug deur die Alpe was al uitdagend.

Livigno waarborg ‘n uitsonderlike ervaring wat ek van harte aanbeveel. Zander is verheug dat hy ‘n nuwe vaardigheid aangeleer het en sien uit na toekomstige ski-avonture saam met sy vriende.

Groete

Emsia

2 thoughts on “Ons eerste ski vakansie in Livigno, Italië

  1. Dit is so lekker om hierdie te lees en weer die Kerstyd te vier op ‘n ander manier: veral met die hoë temperature en humiditeit uit “tropical” Queensland. Die geluid van vars sneeu en om éérste ‘n spoor te maak in die nuwes, is twee besonder spesiale ervarings. Hierdie “storie” laat my ook die opgewondenheid onthou van my eie gesin se ski-geleenthede in die tyd van laerskool in die Provence. En saam met die ander land se taal, is dit nog ‘n “skill” wat hulle ryker maak die toekoms in. Net dat die Alpe nou ver is en Japan en NZ nader. Mag ons kinders veilig ski!!

    1. Liewe aarde Rita, ons sit omtrent ver van mekaar af op die aarde. Australie is baie in my gedagtes op die oomblik. My 15 jarige het by die skool aansoek gedoen vir `n 6 weke exchange na `n skool in Perth. Ons wag nog vir `n antwoord, maar lees nou baie oor Australie en die klimaat. Dit klink of jy bietjie van my sneeu nodig het en ek van jou tropiese hitte

Comments are closed.

Comments are closed.