My siening en viering van mylpaal verjaarsdae

My siening en viering van mylpaal verjaarsdae

Verjaarsdag- en Kersfeesvieringe maak my senuweeagtig. Dit skep verwagtinge of jy nou aan die gee of aan die ontvang kant is.  Verwagtinge verhoog die risiko hoog dat iemand agterna teleurgesteld voel.  Ons huishouding gaan nooit aan die tydskrif en Pinterest prentjies van Kersetes en mylpaalverjaarsdae voldoen nie. Ek het dus lank gelede myself vrygestel van al die verwagtinge. Sommige beplande groot dae en oomblikke is ʼn uiterste teleurstelling, terwyl ander onbeplande dae, spesiale onthou-oomblikke word.

My visie vir ‘n familiekuier

Ek het tog daaraan begin dink om my vyftigste verjaarsdag in Oktober 2019 as ʼn verskoning vir ʼn lekker familiekuier te gebruik. In my geestesoog het ek al gesien hoe ons almal gesellig in die lenteweer langs die Oranjerivier kuier. In my prentjie het die kinders vrolik in die rivierwater baljaar en ons sommer net gebraai, gelag en gesels. Ek het ook my oudstes kennis gegee om 2019 se Oktober vakansie vry te hou van ander kuiergeleenthede wat dalk hulle pad mag kruis. 

Het dinge nou nie anders uitgewerk nie! My vyftigste verjaarsdag is gevier op ʼn nat koue herfsdag in Zürich, in plaas van ʼn sonnige lentedag om ʼn braaivleisvuur langs die Oranjerivier. In stede van my gesin en familie ʼn hele naweek saam met my, is dit net ek en Zander in Zürich wat geweet het ek verjaar.  Charl se konferensie in Suid Afrika het op presies dieselfde week as my verjaarsdag plaasgevind.

Gewone kuiers is ook vieringe

Gelukkig het ek vroeg in die proses my siening oor die mylpaalverjaarsdag verander. In my eie gemoed was al my laaste koffies, etes of kuiers met hartsmense vir my die viering van my vyftigste.  Ek het die gesels en saamwees gesien as my geskenk.  In die mooi Kaap het ek sommer ʼn hele paar vieringe saam met vriende elke week gehad. In my geboorteplek, die Kalahari tussen die groot ou Kameeldoringbome en rooi sand, het ek verjaarsdag saam met my familie gehou. Saam met Jacques en Candice het ons die Vrystaatse koue in Parys verdryf met lekker kerriekos en ʼn glas Shiraz.

Ons Franse besoek

Charl, Zander en ek het die naweek voor my vyftigste verjaarsdag in Parys Frankryk gaan rondloop en in verwondering gestaan oor geboue wat baie stories vertel van tye lank voor ons op hierdie aarde geloop het. Ons het oor die Franse Revolusie gesels en hoe baie bloed gevloei het op dieselfde grond as waar ons ʼn broodjie in vrede kon sit en eet. Ons het vir Zander Disney Parys toe gevat ter viering van sy verjaarsdag in September. Toe ons die aand heel sensories oorlaai in die bed lê, kon ons lag oor ons lywe van vyftig jaar wat pyn van tuimeltreine deur Star War sterrestelsels ry!

Op die dag van my verjaarsdag het ek en Zander tuis gebly, sodat ek sonder onderbrekings met almal in Suid Afrika kon gesels. Ek het elke oproep en boodskap as ʼn geskenk gesien, want mense het tyd vir my gemaak.

Die afstand laat mens opnuut besef hoe kosbaar fisiese saamwees is. Op hierdie vyftigste verjaarsdag herinner ek myself weer daaraan dat ons elke dag wat ons leef moet vier; elke oomblik wat ons saam met hartsmense kuier as ʼn geskenk moet sien; en onsself moet vrystel van al die tydskrif of sosiale media verwagtinge van spesiale dae.

Groete

Emsia

Comments are closed.