Lydenstyd en Paasfees tydens inperking

Lydenstyd en Paasfees tydens inperking

14 April 2020

Hierdie eerste paar maande van 2020 gaan beslis die nodige plek in die Geskiedenisboeke kry.  Al is die nie maklik nie, is dit ʼn voorreg om deel van hierdie stuk geskiedenis te wees.  Ons moet onsself uitdaag om ons eie persoonlike ervaring van hierdie tye neer te skryf om te deel met die geslag wat nog gebore moet word.  Ek het ‘n interessante vertelling van Groot Griep in 1918 op Facebook gelees wat my weer aan die belangrikheid van stories herinner het.

Dit is baie ironies dat hierdie inperktyd juis saamval met Lydenstyd voor Paasfees.  Ons word op ʼn sielevlak gedwing om stil te raak en word gestroop van alles wat ons aandag weglei van die dinge waarop ons eintlik moet fokus.

Goeie Vrydag in Welgemoed

In Welgemoed was die verhelderde kruis op Tygerbergheuwels sinoniem me Lydenstyd en ʼn goeie bewusmaking van hierdie besonderse periode op die kerkkalender.  Met sonop op Goeie Vrydag het gemeentelede saam opgestap na die verhelderde kruis.  Elkeen het tyd gekry om alleen stil te word waarna ons saam gesing en uit die Bybel gelees het.  Verlede jaar was emosioneel, want ons het geweet dit is ons laaste maal dat ons dit so sou doen.  Dit was kort voor Charl Zürich toe sou vlieg om sy nuwe begin te maak en ek verder met eiendomsagente en trekbokse moes stoei.

Paasfees in ‘n nuwe land

Ek het gewonder hoe Paasfees in ʼn nuwe land sou wees.  Ek het gehoop om een van die kerkdienste in ʼn ou kerk by te woon saam met die Switserse mense.  Ek glo dat gemeensaamheid ervaar kan word saam met mense wat anders groot geword het en ʼn ander taal praat, omdat ons dieselfde God dien.  Nou gaan ons Paasfees wêreldwyd in isolasie vier en die verskeie kerkdienste oor Radio, TV of YouTube in ons eie moedertaal bywoon.  Daar is iets van ʼn wêreldwye gemeensaamheid wat tog op sy eie manier spesiaal is.

Die paaseiers op die bome vol bloeisels en botsels, is so simbolies van nuwe lewe. Ons mensdom het tot stilstand gekom, maar dit is duidelik dat Moeder Natuur voortgaan met haar normale siklusse.  Ek het daarna uitgesien om mooi foto’s van lente in Switserland te neem.  Ek moes egter tevrede wees met foto’s van die tuine van huise naby ons. Hopelik kan ek volgende jaar die kersiebloeisels in Berta straat, Zürich met my eie kamera gaan afneem.

Ek was verlig om te sien dat die Lindt Paashase darem nie afgesper is, soos die res van  nie-essensiële items, nie. Daar is ʼn groot verskeidenheid paaseiers en die mooiste sjokolade Paashase te koop.  Paasfees voel in hierdie onseker tye effens op die agtergrond geskuif . 

Ons mis die tradisionele paasbolletjies waaraan ons gewoond is en wat glad nie hier beskikbaar is nie.

Groete

Emsia

Comments are closed.