Die reuk van lente in Switserland

Die reuk van lente in Switserland

Die natuur verander vinnig. Dit is ons tweede lente in Switserland. Dit voel egter soos ‘n eerste. Verlede jaar was ons gedagtes so besig met Covid en aanpas by al die nuwe reëls dat ons nie die natuur se ontwaking en verandering ten volle waardeer het nie. soil

Van alle dinge geniet ek die positiewe energie wat ek kan hoor, sien en voel die meeste. Ek glo die mense in lande met intense winters het ‘n baie groter waardering vir lente en die son. Hulle geniet dit om oral in die natuur op bankies te sit met hul oë toe en gesigte na die son gedraai. Daar is eerbied in die stilte waarmee hulle dit doen.

Lente in Switserland

Voordele van sneeu

Sodra die sneeu smelt, is die wêreld groen. Die sneeu dien as ‘n isolator en help om vog in die grond te behou gedurende die winter. Dit stel stelselmatig water in die aarde vry soos dit in die lente smelt. Sonder die beskerming van sneeu, vries koue temperature die grond en beskadig die wortelstelsels van struike en bome. Dit bevat ook waardevolle voedingstowwe soos stikstof. Ek lees dat na ‘n strawwe winter blom die rose beter, en vrugtebome dra meer vrugte. Sommige bolle, soos affodille en tulpe, het die sneeu- en afkoelperiode nodig om te blom.

Frick – die reuk van kersiebloeisels

Ons het van ons eerste sonskynweer gebruik gemaak en op  ‘n kersiebloeisel wandelroete by Frick, ‘n bekende kersiestreek in Switserland, gaan stap . Die reuk van bloeisels het in die lug gehang. Die pienk en wit bome, teen die groen agtergrond met spikkels geel veldblomme, het ‘n prentjie geskep om te onthou. In Japan het kersiebloeisels simboliese betekenis in terme van vernuwing en die vlugtige aard van lewe. Teen die einde van Junie word die verskillende kersies, met skakerings wat wissel van ligrooi tot swart, ryp en mense vier die seisoen met kersiefeeste.

Kersiebloeisels in Frick

Paasfees – die reuk van sjokolade en rose

In Suid-Afrika is ons gewoond daaraan om Paasfees gedurende die herfs te vier. Paasfees in die Noordelike Halfrond gedurende die lente het ‘n heel ander atmosfeer. Daar is ‘n baie groter klem op ontwaking en nuwe lewe. Die mense hang paaseier versierings aan hul bome tussen die bloeisels, wat hierdie konsep beklemtoon.

Ek is gefassineer deur die groot verskeidenheid sjokolade Paashase wat voor Paasfees beskikbaar is. Ons het ‘n week voor Paasfees die Lindt-fabriekswinkel besoek en moes ons beurt in ‘n tou voor die winkel afwag. Paashase maak uitstekende korporatiewe geskenke, en Zander was bly oor die oulike Paashase wat onverwags by ons aangekom het.

Verskeidenheid paashase

Ek was beïndruk met die Gereformeerde kerke in Zürich se Paasfees kreatiwiteit. Met Covid-beperkings moes hulle aan ander maniere dink om hul boodskap oor te dra. Hulle het sewe fonteine met rose versier. Die fonteine was ‘n simbool van nuwe lewe. Die rose was ‘n teken van die vreugde wat kleur in die donkerte van die huidige situasie bring. Dit het ‘n indruk gemaak en baie besoekers gelok.

Fonteine gevul met rose in Zurich

Jong diere

In die natuur is dit ook sigbaar dat dierelewe gereed maak vir ‘n nuwe seisoen. Die rooi valke sirkel oor die vars geploegde lande op soek na iets om te eet. Die eekhorings hardloop op en af teen die bome terwyl die voëls vrolik in die takke sit en sing. Ek het twee jong takbokke in die bos raakgeloop, en ons was ewe verbaas om mekaar te sien. Ons was opgewonde toe ons ‘n swaan op haar eiers by die meer sien.

Diere maak verskyning in die lente

Die swane op die meer is iets wat ons voorheen net in kinder storieboeke gesien het.

Groete

Emsia

One thought on “Die reuk van lente in Switserland

Comments are closed.

Comments are closed.