Blomme vir my ma by Keukenhof

Blomme vir my ma by Keukenhof

My beeld van my ma is ‘n groot bedding vol helderkleurige blomme. Haar lieflike tuin is haar speelplek maar ook haar wegkruipplek. Sy wys haar liefde met blomme. As skoolmeisie het sy my op my verjaardag met rose uit haar tuin bederf. Daar is altyd ‘n bos blomme in ons kamers wanneer ons kuier. Ek was baie opgewonde toe die geleentheid vyf jaar gelede ontstaan het om vir my ma die mooiste lentetuin in die wêreld, Keukenhof, te wys.

Ma Lenie in Holland

Opgewondenheid en benoudheid

Ek kon nie wag om die nuus met haar te deel nie. Haar opgewondenheid was so groot soos haar stresvlakke. Op die ouderdom van 71 was sy nog nooit oorsee nie. Programme oor Keukenhof op televisie was vir haar die genoegsame motivering om aansoek te doen vir ‘n paspoort. Sy het ook ‘n warm baadjie gekoop en ‘n blou mus gebrei.

Ek en my ma het via Dubai gevlieg en Charl in Amsterdam ontmoet. Ons het die verskillende etes en wye verskeidenheid musiek en flieks op die vliegtuig geniet. Sy het haar aan die ervaring oorgegee en gehardloop wanneer nodig om die aansluitingsvlug te haal.

Afskeid op die lughawe

Ons was bederf in ons blyplek in Leiden

Ons verblyf in Leiden was perfek. Die bed-en-ontbyt tannie was ‘n afgetrede sielkundige omtrent my ma se ouderdom. Omdat Nederlands en Afrikaans so na aan mekaar is, het ons met mekaar in ons eie tale gekommunikeer en verstaan. Ons gasvrou het ons met verskeie Hollandse lekkernye bederf. Elke oggend was daar nog ‘n tuisgemaakte verrassing, vars uit die oond, vir ontbyt. Die taal en kultuur van die Nederlandse programme op televisie het ons geamuseer.

Ma Lenie ervaar Holland

Amsterdam, Zaanse Schans en Delft fabriek

Ons het ons Keukenhof-besoek vir later die week beplan. Intussen het ons Amsterdam te voet verken en die mense, duisende fietse en historiese geboue bewonder. Toe ons bene moeg geword het, het ons die stad vanaf een van die bote op die kanale bekyk. Ons het die Zaanse Schans besoek en windmeulens, handwerkwinkels en museums gesien. By die Delft-fabriek het hulle die mooiste handgeverfde blou Delft-breekware gemaak.

Tulpplase

Lande met geel affodille

Die dag voor ons Keukenhof-uitstappie het ons tussen die tulpplase rondgery en die rye kleur bewonder. Soms het ons uit die kar geklim om nader te kyk en die wonderlike reuk van die massas blomme te ervaar. Die beeld van die blomvelde was my prentjie van die hemel. Ons was verstom oor die goudgeel affodille wat oral soos veldblomme te voorskyn gekom het.

Keukenhof

Tulpe in Keukenhof

Keukenhof was meer as wat ek verwag het. Dit was bevredigend om die verbasing in my ma se oë te sien, en dit was kosbaar om haar vreugde te ervaar. Ons was verstom deur die talle uitstallings, kleurvolle tulpvariëteite en ander blomme. Toe Charl later agterkom dat ons meer as 10 km gestap het, merk my ma verbaas op: Haai, ek het nie eers geweet ek kan so ver stap nie!

Hierdie jaar het ons gehoop om Keukenhof vir ‘n tweede keer te besoek. Keukenhof ontvang meer as ‘n miljoen besoekers per jaar. Keukenhof was gereed om op 20 Maart 2021 oop te maak en het kaartjies aanlyn begin verkoop. Die regering het hulle egter ingelig dat die huidige Covid-toestande hulle nog nie toelaat om oop te maak nie, al is hul tuine gereed. Covid-getalle in Europa styg weer, wat die derde golf aandui. Gelukkig het Keukenhof hul tuine virtueel op sosiale media vertoon. Ek begin dus elke dag met ‘n vinnige besoek aan Keukenhof!

Keukenhof tuine

Ek wens ek kon my ma verras met ‘n onverwagse besoek en blomme. Ek is egter nou beperk tot die tulpfoto’s wat ek vir haar per WhatsApp stuur. Gelukkig weet ek uit ondervinding dat daar soms uit die bloute geleenthede ontstaan.

Liefdegroete

Emsia

Comments are closed.