Browsed by
Category: Suid Afrika

Kaapstad is meer as ‘n bestemming

Kaapstad is meer as ‘n bestemming

Terwyl die vliegtuig sy landing begin, sit ek vasgenael teen die venster. Daar is dit. Tafelberg staan trots bo die Moederstad, met die Atlantiese Oseaan wat onder dit glinster. Skielik oorweldig emosies my: heimwee, dankbaarheid, opgewondenheid… en ook ‘n stille hartseer.

Waarom Kaapstad My Altyd Huis Toe Roep

Vir 27 jaar was Kaapstad ons tuiste voordat ons na Zürich verhuis het. Maak nie saak hoeveel keer ek terugkom nie, dié stad herinner my telkens daaraan dat sommige plekke nooit regtig jou hart los nie. Hierdie besoek is besonders kosbaar. Ons is hier om tyd saam met my volwasse seuns, my suster en haar kinders deur te bring. Daar is iets diep vertroostend daaraan om rondom ’n tafel te sit, saam te eet, oor ou stories te lag en nuwe herinneringe te skep.

Om in Switserland te woon, het ons aan ‘n wonderlike internasionale gemeenskap blootgestel. Baie van ons vriende het reeds op verskeie kontinente gewoon en reis graag. Deur die jare het hulle my van hul gesinsvakansies in Suid-Afrika vertel. Byna sonder uitsondering beskryf hulle dit as een van hul kinders se gunstelingbestemmings. Hulle onthou die dramatiese landskappe, onvergeetlike wildlewe, heerlike kos en, bowenal, die warmte van die mense.

Baie vriende droom daarvan om Suid-Afrika te besoek, maar huiwer oor wat hulle op die nuus of sosiale media sien. Hul vraag is amper altyd dieselfde: “Sal ons veilig wees?” My antwoord is eenvoudig: ja, met sinvolle beplanning en bewustheid kan jy Kaapstad met gemoedsrus geniet.

Om Veilig en Ontspanne in Kaapstad Rond te Beweeg

Kaapstad is nie bloot ‘n plek wat jy besoek nie; dit is ‘n plek wat jy beleef. Om elke draai wag nog ‘n asemrowende uitsig, ‘n versteekte strand, ‘n bergpaadjie, ‘n wynplaas of ‘n koffiewinkel wat jou uitnooi om net ‘n bietjie langer te vertoef.

Omdat die stad oor ’n groot area versprei is, verg rondbeweeg beplanning. Anders as baie Europese stede is openbare vervoer beperk. Vir gerief en gemoedsrus beveel ek Uber of Bolt aan eerder as om ’n motor te huur. Dit is bekostigbaar, betroubaar en wyd beskikbaar.

Een Uber-rit het egter om ‘n heel ander rede by my gebly. Nuuskierig oor sy agtergrond vra ek die bestuurder waar hy vandaan kom. Kort voor lank vertel hy ons van sy familie in Zimbabwe, die tale wat hy praat en sy drome vir sy kinders. Dit het my weer herinner dat reis oor mense eerder as bestemmings gaan. Dikwels is dit die gesprekke tussen die besienswaardighede wat die langste by ‘n mens bly.

My gunsteling manier om Kaapstad te verken is op die Hop-On Hop-Off-bus. Dit verwyder die stres van bestuur en laat jou die skouspelagtige natuurskoon met al jou sintuie geniet. Met die wind in ons hare en kameras in die hand het ons Groot Constantia verken en deur Houtbaai gewandel en gekyk hoe robbe in die water speel. Na ʼn varsgebakte vis-en-skyfies maaltyd, het ons die dag met die son wat agter die Twaalf Apostels in Kampsbaai sak, afgesluit.

Waar om in Kaapstad Tuis te Gaan

Waar jy tuisgaan, kan ‘n groot verskil aan jou vakansie maak. Hierdie keer het ons Century City gekies omdat dit presies aan ons familie se behoeftes voldoen het: veiligheid, gerief en genoeg om ons jong volwassenes besig te hou.

Slegs 15 tot 25 minute van Kaapstad se middestad af, kombineer Century City moderne leefstyl met pragtige groen ruimtes. My nefie en niggie, wat op ’n plaas woon, het veral daarvan gehou om een van Afrika se grootste winkelsentrums te verken. Elke oggend het begin met my suster se tuisgebakte karringmelkbeskuit voordat ons deur die rustige vleilande van nabygeleë Intaka-eiland gestap het.

Die Beste Tyd om Kaapstad te Besoek

Winter is dalk nie die voorkeur keuse nie, maar vir ons was dit perfek. Vlugte en verblyf was goedkoper, restaurante het uitstekende winteraanbiedinge gehad en die koeler weer was perfek vir besigtiging.

Elke seisoen het sy eie bekoring. Somer behoort aan strandliefhebbers. Herfs is ‘n gunsteling onder plaaslike inwoners vir bergstap en wynproe, terwyl lente die Wes-Kaap in ’n see van veldblomme verander.

Kaapstad se Kosverhaal: ‘n Smeltkroes van Geure

Vir my 17-jarige seun was een van die grootste hoogtepunte nie ‘n beroemde landmerk nie, maar die oorvloed bekostigbare vleis van uitstekende gehalte en vars seekos. In Switserland, waar vleis duur is, het dit soos ‘n luukse gevoel.

My familie is beesboere, en my suster het ons verras met ‘n koelhouer vol plaasvars beesvleis. Baie aande het ons nefie dit op die woonstel se stoep gebraai terwyl ons lank ná ete nog om die tafel gekuier het.

Kaapstad vertel sy geskiedenis deur sy kos. As belangrike hawe op die antieke speseryroete het die stad ‘n ontmoetingsplek van kulture geword en nêrens is dit duideliker as om die etenstafel nie.

Die Warmte van Suid-Afrikaanse Gasvryheid

Mense kom dikwels vir die natuurskoon. Hulle keer terug oor die mense.

Wanneer ons in Kaapstad land, staan ons altyd vir ‘n oomblik stil om die warmte en positiewe energie om ons in te neem. Mense groet mekaar hartlik. Gesprekke begin sommer vanself. Gelag klink oral.

Ons het al baie pragtige plekke regoor die wêreld besoek, maar nêrens het ek gasvryheid beleef soos in Suid-Afrika nie. Besoekers word nie net verwelkom nie. Hulle word laat voel dat hulle  hoort.

Die Onverwagte Vreugde van Saam Reis

Terwyl ons op die Hop-On Hop-Off-bus gereis het, het ‘n jong man gevra of hy die dag saam met ons kon deurbring. Aanvanklik was ons verbaas, maar kort voor lank het ons stories uitgeruil, foto’s van mekaar geneem en saam soos ou vriende gelag.

Anthony het van Ghana af gekom om ‘n Hotel- en Gasvryheids-ekspo in Kaapstad by te woon. Toe hy hoor dat my suster se kinders daarvan droom om in toerisme te werk, het sy gesig sommer begin straal terwyl hy sy ervaring en aanmoediging met hulle gedeel het.

Teen die einde van die dag het ek besef ons het veel meer as net ‘n reisgenoot ryker geword. Hy het my herinner dat saam reis nie net veiliger voel nie, maar dikwels die deur oopmaak na die mooiste menslike ontmoetings.

Ons het as vreemdelinge op die bus geklim. Ons het as vriende afgeklim.

Waarom Ek Hoop Meer Internasionale Vriende Ontdek Suid-Afrika

Wanneer ‘n internasionale vriend vir my sê: “Ek wil so graag eendag Suid-Afrika besoek,” glimlag ek. Want ek weet reeds wat op hulle wag.

Sommige plekke beïndruk jou. Kaapstad bly by jou. Sy mense, sy geure en sy lig bly lank ná jou terugvlug in jou gedagtes hang.

Ek hoop dat ek eendag persoonlik by Kaapstad Internasionale Lughawe sal staan om hulle te verwelkom in die stad wat my gevorm het, die stad wat steeds soos huis voel en die stad wat ‘n besonderse manier het om ‘n plek in jou hart te vind.

Groete

Emsia

Afrika-kuns is funksioneel en sosiaal

Afrika-kuns is funksioneel en sosiaal

Elke keer as ek en Zander op Kaapstad se lughawe land, draai hy met ‘n glimlag na my en sê: “Ma, ek is mal oor die vrolike atmosfeer wat ek hoor en voel.” Daar is ‘n energie in die lug. Mense lag, gesels en roep na mekaar van oorkant die vertrek. Dit is ‘n wêreld weg van die stilte van Switserland waar stilte gerespekteer en selfs wetlik gehandhaaf word. Gewoonlik drink ons na aankoms ‘n koffie om die atmosfeer te geniet en by die stad se hartklop in te skakel.

Alhoewel my voorouers waarskynlik eeue gelede in Europa gewoon het, loop Afrika-bloed deur my are. Die afgelope ses maande het ek twee kunsuitstallings met `n fokus op Afrika kuns bygewoon, albei op uitnodiging van Duitse vriendinne. Die kunswerke se lewendige kleure, vreugdevolle energie en egtheid het diep by my aanklank gevind en ‘n verlange na Suid-Afrika aangewakker.

Esther Mahlangu                                     

Die eerste uitstalling wat ek bygewoon het, was van Esther Mahlangu se werk by die Iziko-museum in Kaapstad in Junie 2024 saam met my vriendin Ulrike. Mahlangu, ‘n legendariese Suid-Afrikaanse visuele kunstenaar, is bekend vir haar helderkleurige muurskilderye met tradisionele Ndebele-patrone. Hierdie uitstalling het haar byna sewe-dekade lange bydrae tot kontemporêre kuns gevier. Daar was meer as 100 noukeurig saamgestelde stukke uit gesogte internasionale versamelings.

In die Suidelike Ndebele-kultuur is dit ‘n tradisie dat vroue die buitekant van hul huise met hierdie ingewikkelde patrone verf. Esther het hierdie vaardigheid op die ouderdom van tien by haar ma en ouma geleer. In 2018, op 83-jarige ouderdom, is dr Mahlangu met twee eredoktorsgrade vereer om erkenning aan haar enorme bydrae tot die kunswêreld te gee.

Samewerking met groot handelsmerke

Haar baanbrekers werk het gelei tot ikoniese wêreldwye samewerking met handelsmerke en name soos Rolls-Royce, BMW, Fiat, South African Airways, John Legend, Belvedere Vodka, The Smithsonian Museum, Freshpak Rooibos, en vele meer. Sy het gesê:

Through my art, I have seen the world. In turn, the world learned about my Ndebele heritage.  I speak isiNdebele, I walk isiNdebele, and I wear isiNdebele.

Esther Mahlangu het internasionale bekendheid verwerf deur ‘n ikoniese BMW-advertensieveldtog. Ek het die voorreg gehad om die legendariese BMW 525i Art Car te sien, wat vir die eerste keer in meer as 30 jaar na Suid-Afrika teruggekeer het.

Sy was ook die eerste kunstenaar ter wêreld wat opdrag gegee is om ‘n kunswerk te skep vir die eksklusiewe “galery” van ‘n nuwe Rolls-Royce Phantom. Hulle het dit  ‘The Mahlangu’ ter ere van haar genoem.

Afrika kuns in Basel, Switserland

My Duitse vriendin, Darja, het my genooi na ‘n Afrika-kunsuitstalling in Basel. Die tema was “When We See Us.” Dit was betekenisvol om te verneem dat die Zeitz Mocaa Museum van Kontemporêre Kuns Afrika in Kaapstad die uitstalling saamgestel en georganiseer het, aangesien ek reg oorkant daardie indrukwekkende museum gewerk het.

Die kunswerke is volgens temas gegroepeer, elk vergesel van ‘n beskrywing. Temas, soos Alledaagse lewe, Vreugde en Spiritualiteit, het my geraak en my ervarings met Afrika-kulture weerspieël. Die uitstalling het ook die konflik tussen die wêreld se verwagtinge van Afrika en die visie wat Afrika streef om te wees kragtig vasgevang.

Alledaagse lewe

Daar is skoonheid verweef in ons alledaagse lewe. Soms vind ons dit in speletjies, in dieper werk, of in oomblikke van rus. Kunstenaars herinner ons daaraan dat tuiste nie noodwendig ’n plek is nie, maar ’n gevoel gewortel in die warmte van gemeenskap. Dit lê in die saam lag in agterplase, geselsies op die voorstoep, die versorging van tuine, en die saamkoms om etenstafels. Hier deel die ouer mense hulle wysheid en ervaar ons die liefde van familie, of ons nou deur bloed verbind is of nie. Almal is ’n Tannie of ’n Oom.

Al is daar dalk min materiële dinge, is daar ’n oorvloed van saamwees. Ons vind vreugde in die gewone ritmes van water aandra, lees, hardloop, brei, bier drink, of hare vleg. Saam vier ons die rykdom van die lewe en koester ons die eenvoudige plesier om net te wees.

Spiritualiteit

Ons spiritualiteit is deel van ons alledaagse lewe, onafskeidbaar van wie ons is. Dit is ryk en kompleks, ons manier om die heelal te verstaan en ons lewe beter te maak. Ons is trots op ons driedubbele erfenis van inheemse kulture, Christendom en Islam. Dit is ‘n plek vir rituele, seremonies en storievertelling. Deur rituele dans styg ons bo die hede uit en die krag van heilige tekste en gebede uit verskeie tradisies reinig en vernuwe ons. In hierdie mengsel van ou wysheid en moderne geloof vind ons vrede en betekenis.

Vreugde

Die lewe is daar om geniet te word, en niemand vier soos ons nie. Of dit nou by ’n vriend se byeenkoms is of in die hart van ’n straatfees, ons koester die warmte van vreugde. Ons weet hoe om enige oomblik in ’n viering te verander, want elke geleentheid roep vir sang en dans. Ons het die stemme en ons het die bewegings. Terwyl ons floreer in die energie van saam feesvier, waardeer ons ook die stil oomblikke van rus en alleenwees. Ons geniet die lewe in al sy ritmes.

My liefde vir Afrika en sy mense

Ek is dankbaar vir my Duitse vriendinne wat saam met my die Afrika kuns geniet het. Vir my was die uitstallings `n kleurvolle opsomming en herbevestiging van my diepe liefde vir Afrika en sy mense wat die kuns van in-die-oomblik-leef bemeester.

Groete

Emsia