Toskaanse villas en Chianti wyn

Toskaanse villas en Chianti wyn

Tuscany met sy golwende heuwels, Middeleeuse dorpies en rooi Chianti wyne was nog altyd op ons “bucket” lys.  Die hartlike Italiaanse gasvryheid, goeie kos en skilderagtige landskappe het bygedra tot blywende herinneringe.

Ons het Tuscany, geleë tussen Floraans en Rome, per huurmotor besoek. Ek deel meer oor ons besoek aan Milaan, Floraans en Rome in Italië in my vorige brief.

Pisa

Ons eerste besoekpunt in Tuscany was Pisa en ons het in ʼn klein dorpie Pugnano in ‘n villa oornag. Ek was mal oor die ou Italiaanse villa wat reeds in die 16de eeu as plaashuis gebou is. Die kamers is ruim en die dekor eg Italiaans.  Daar is twee onthaalsale met houtvloere, reuse muurskilderye en pragtige kristalkandelare. 

Ons het in die villa se tuin ʼn bottel Chianti wyn geniet terwyl die laaste goue sonstrale oor die Toskaanse wingerde verdwyn het. Met ontbyt was Italiaanse terte en koeke op ʼn lang tafel met ʼn spierwit tafeldoek uitgestal. 

Chianti wynstreek

Italië se bekendste wyne kom uit die Chianti wynstreek. Kanolalande het kleur verskaf tussen die netjiese rye wingerde en olyfboorde. In die somer neem sonneblomme en graan die rol oor.

Oral langs die pad is wynkelders om wyn en olyfolie te proe. Ons het in die dorpie Greve de Chianti gestop. Die fokuspunt van die dorp is ʼn plein omring deur boetiekwinkels, werkswinkels en restaurante. 

Die streek is bekend vir sy Agriturismo. Dit bied die geleentheid om op een van die werkende plase oor te bly. Ons het op ʼn plaas naby Panzano oornag en kon die plaaslike produkte tydens ontbyt geniet.

In Panzano het ons ‘n glasie onder die pragtige perskleurige bloureën (wisteria) met die Toskaanse platteland as uitsig, geklink.

San Gimignano

Kenmerkend van die Toskaanse streek is die middeleeuse dorpies op die heuwels. San Gimignano met sy middeleeuse argitektuur en torings is fassinerend.

Die rit na San Gimignano het egter ons huwelik getoets.  Die area is baie heuwelagtig met smal kronkelpaadjies.  Na my vele waninterpretasies van die padkaart, het Charl frustreerd omdraaiplek moes vind.

Die bestemming was absoluut die moeite werd. Ons het saam met die ander toeriste op die trappies van die ou put op die dorpsplein gelato roomys geniet.

Saturnia warm water bronne

Vanaf die Chianti streek het ons suid deur die Val d’Orcia gebied gery.  Die landskappe is prentjie-mooi met golwende heuwels en kenmerkende sipresbome.

Foto’s van Cascate del Mulino, of Saturnia, het my gelok. Die melkerige blou natuurlike warm waterbronne op verskillende vlakke is indrukwekkend.  Die water is 37 grade en mineraalryk met helende eienskappe. 

Ons het ons laaste aand in Manciano oorgebly en rustig geslaap. Dit was ʼn ontspanne manier om ons besoek aan Tuscany af te sluit. 

Cari saluti

Emsia

Comments are closed.