Vermaak geleenthede vir donker winteraande

Vermaak geleenthede vir donker winteraande

Hier by ons is dit nou alreeds teen half vyf laatmiddag donker. Met ysige temperature en donkerte buite moet ons dinge vind om onsself in die aande mee besig te hou. Die Switsers het oor tyd baie gebruike en geleenthede geskep om hulle self te vermaak. Ons neem deel en woon by waar ons kan sodat ons by hulle kan leer.

Bahnhofstrasse, Zurich

Raap-lanternfees

Halloween, aan die einde van Oktober, het die winterprogram afgeskop. Vroeg in November is daar ʼn raap-lanternfees. Groot rape word uitgehol en ontwerpe in die wande gekerf om te dien as lanterns vir die laternfees.  Ek en Zander het die skool se fees bygewoon.

Die kleiner kinders het in skooltyd die mooiste lanterns gemaak en die aand vyfuur het kinders en ouers in die woud agter die skool met die lanterns gaan stap. In die middel van die woud het is daar Switserse volksliedjies met kitaarbegeleiding om ʼn groot kampvuur gesing. Ek verstaan die gebruik gaan terug na die 1800’s, toe rape as stapelvoedsel gedien het. Die afsluiting van die oesseisoen is gedurende November gevier met ʼn dankdiens by die kerk en dan het die mense met die raaplanterns al singende kerk toe gestap.

Fondue en Raclette

Oral in die winkels sien ons ʼn groot verskeidenheid kaas en toebehore vir Fondue en Raclette te koop. Ons is gelukkig genooi vir ʼn fondue-ete by ʼn kollega van Charl se huis. Ek het nooit gedink dat mense so gesellig kan kuier met net brood en kaas nie! Die Switserse wyn het natuurlik ook sy kant gebring. Na al die baie kaas, drink jy Kirsch (kersiebrandewyn) wat help met spysvertering.

Raclette is spesifieke Switserse kaas wat in ʼn Raclette-oondjie gesmelt en saam met gekookte aartappels en groente geëet word. Hulle maak van eenvoudige kos iets baie spesiaals. Charl het net daar en dan besluit dat fondue die manier is hoe hy sy verjaarsdag wil vier.  Ons kon dit uittoets met ʼn fonduestel wat hy jare gelede as geskenk, na die aanbied van ʼn opleidingsessie in Zürich, ontvang het.

Yshokkie en ysskaats

Soos ons rugby in Suid Afrika, is yshokkie hier een van die toeskouersporte in die winter. Ons het die geleentheid benut om yshokkie in Lausanne naby aan die Franse grens te gaan kyk. Dit is ʼn baie vinnige sport en interessante ervaring. Hierdie tyd van die jaar word verjaarsdagpartytjies op die ysskaatsbaan gevier.

Die ysskaatsbaan het ʼn mooi verligte Kersboom in die middel en families kom met die ou kleintjies om te skaats. Langsaan die ysskaatsbaan het ʼn groep sesjariges met hulle haasbekkies  ʼn yshokkiewedstryd gespeel. Ysskaats disko’s is algemeen gedurende Desember.

Kersmarkte en inkopiestraat

Laat November is ʼn Swarovski kristalboom by die hooftreinstasie aangeskakel om die amptelike Kersvieringe af te skop. Tussen die hooftreinstasie en Zürich se meer is die inkopiestraat met die mooiste liggies versier wat die lug na ʼn sterrehemel laat lyk. Oral is daar stalletjies waar hulle kersgeskenke, kos en glühwine verkoop. Die warm rooiwyn met sy lekker soet speserysmaak maak lekker warm as dit so koud is.

My grootste Kersgeskenk hierdie jaar is my kinders en Candice wat kom kuier. In my hart sal ek na almal wat ʼn Somerkersfees vier verlang en in my geestesoog alles sien wat op julle Kerstafel is. In my gedagtes sal ek saam met julle sing: “Kersfees kom, Kersfees kom – Gee aan God die eer. Skenk ons ʼn helder Somerkersfees met baie seën in hierdie land O Heer!

Ek hoop julle ervaar wonderlike saamwees en ʼn geseënde tyd hierdie Desember.

Groete

Emsia

Comments are closed.