Herfs, voorbereiding vir ‘n periode van rus

Herfs, voorbereiding vir ‘n periode van rus

Die kant van die wêreld is dit duidelik dat Moeder Natuur met haar oranje en roes-bruin kamerjas besig is om reg te maak vir ʼn periode van rus. Ons is nog onseker wat hierdie periode presies behels, maar al wat ons kan uitmaak is: “Winter is coming!”

Boerdery

Dit is veral die boerderybedrywighede hier rondom ons wat ons ʼn besliste aanduiding gee dat die mense voorberei vir ʼn nuwe seisoen. Die boere het die lande omgeploeg en langs al die skure kan ons sien hoe die bale hooi en veevoer besig is om vinnig op te hoop. Die stapels netjies gekapte hout word ook hoër. Die veeboere besit hoofsaaklik beeste, skape en lamas wat in die somermaande hoër op teen die berge wei.

Gedurende September en vroeg Oktober kom die diere in hulle massas af dorpe toe en die boere maak hiervan  ʼn kleurvolle gebeurtenis. Die koeie, met die klokke om hulle nek, word versier met blomme en die boere en hulle gesinne in hulle tradisionele klere, begelei hulle al klingelend af dorp toe.

Koeie oppad dorp toe vir die winter

Sampioen- en jagseisoen

Die oggende is nou al sommer ysig met temperature tussen 0 en 10 grade Celsius. Dit is ook mistig soos wat ons herfs in die Kaap gewoond is. In die woude met hulle mat van herfskleurige blare, ontstaan daar oral die mooiste soorte sampioene. In Europa is daar blykbaar sesduisend verskillende soorte sampioene. By die munisipaliteite (Gemeindes) is daar hierdie tyd van die jaar sampioen inspekteurs wat na die mense se geplukte sampioene kyk om raad te gee oor watter eetbaar en watter giftig is.

September en Oktober is ook jagseisoen en die mense jag die wilde bokke in die woude. Jaglisensies word streng gereguleer. Wildsvleis (Kalbfleisch) is baie algemeen op die restaurant spyskaarte en wildsvleis in ʼn sampioensous is ʼn gewilde opsie.

Pampoene en Halloween

Oral is die mooiste soorte en groottes geel en oranje pampoene te koop. Houtstalletjies, met verskillende pampoene op die rakke uitgestal, ontstaan oral in die dorp. Elke pampoen is met ʼn prys gemerk en nadat jy jou pampoen gekies het, gooi jy jou geld in die geldtrommeltjie wat daar eenkant staan. Die feit dat niemand die stalletjie beman en beheer hou nie, gaan my verstand nog te bowe. 

Die pampoene laat mens sommer dadelik aan Halloween dink. Ek verstaan Halloween is ʼn groot storie by die skool wat mens kan verstaan met 90% van die skoliere van Amerikaanse of Britse afkoms.  Daar is ʼn hele mamma-komitee wat die Halloween-partytjie vir einde Oktober, reël.

Oktoberfest

Oktober is bekend vir sy Oktoberfest in die Duitssprekende lande.  Ek het vyf-en-twintig jaar gelede in München in Duitsland een bygewoon en onthou net massas baie gesellige mense met een-liter bierbekers in die een hand en ʼn reuse pretsel in die ander, terwyl die kelnerinne in tradisionele kort rokkies nog aandra. Reuse biertente ontstaan en dis mooi om die jongmense, trots op hul kultuur en herkoms, in hul tradisionele klere te sien.

Charl se kollegas waarsku dat die donkerte, eerder as die koue, gedurende die wintermaande die uitdaging skep. Die stad is vir amper vier tot vyf maande in ʼn digte mislaag gehul sonder enige sonskyn. Die dagligperiode is ook baie kort. Die ICS mammas het my ingelig dat almal hierdie tyd maar sukkel met neerslagtigheid en depressie. Die plaaslike mense besit naweekhuise in die berge bo die wolke sodat hulle ten minste oor naweke bietjie sonlig kan sien.

Die skool het laat weet dat die kinders drie verskillende pare skoene vir skooldoeleindes moet hê. Behalwe vir afsonderlike sportskoene, is daar buiteskoene wat buite moet bly en binneskoene wat binne moet bly. Elke kind moet ʼn sneeubaadjie, handskoene en ʼn mus hê, want pouses speel hulle buite, ongeag reën of sneeu.

As kinders van ʼn sonskynland wat nog nie eintlik sneeu beleef het nie, sien ons uit na ʼn wit Kersfees, sneeumanne en warm sjokolade.  Daar hang egter  ʼn digte mislaag van onsekerheid oor hoe ons onsself voldoende kan voorberei vir die seisoen.

Groete

Emsia

Comments are closed.