Zürich bloeisels en lente blomme

Zürich bloeisels en lente blomme

Ons is amper deur ons vierde winter in Switserland en ek moet bieg dat ek sukkel om deur die laaste paar weke van die winter te kom. Gelukkig begin die eerste tekens van lente hul verskyning maak. Die lente in Zürich het mylpale in die vorm van bloeisels en blomme wat my opgewonde maak en my verseker dat die son, warmte en kleur op pad is.

Ek deel meer oor die soorte bloeisels en lenteblomme in Zürich.

Sneeuklokkies en Krokusse

Die heel eerste blomme wat hul verskyning maak, is sneeuklokkies. Hulle verskyn reeds gedurende Februarie en Maart en in baie gevalle, terwyl daar nog sneeu op die grond is. Hulle is spierwit en lyk delikaat en broos maar is baie geharde blommetjies.

Gedurende Maart kleur die krokusse die grasperke in. Die krokusse behoort aan die iris familie en is inheems aan die Alpe. Hulle kom in tipiese paaseier kleure van pers, geel, room en wit voor.

Affodille

Die goudgeel affodille begin gewoonlik teen middel Maart hul verskyning maak. In die Duitse lande word hulle Osterglocke (Paasklokke) genoem omdat hulle gedurende Paasfees blom. Ek het hier eers besef hoe baie verskillende soorte affodilvariëteite daar is.

Magnolias

Die Magnolia-bloeisels verstom my elke jaar. Hulle lyk soos skoenlappers wat uit hul papies ontvou. Hulle begin ook in die middel van Maart blom. Danksy die soet, romerige en ligte blommegeur word magnolias al eeue lank in parfuum gebruik.

Kersiebloeisels

Die kersiebloeisels tussen middel April en vroeg in Mei is vir my ’n hoogtepunt. Naby Frick en Zug is daar kersiebloeisel-staproetes wat die geleentheid bied om deur die kersieboorde te stap.

Tulpe

Vanaf middel April begin die Tulpe ook in mense se tuine verskyn. Een jaar was ons gelukkig genoeg om die tulpefees by Morges, ‘n dorpie langs die Genevemeer, by te woon. Die beste plek om tulpe te geniet is Mainau blomme eiland, net oor die grens in Konstanz, Duitsland, sowat ‘n uur se ry vanaf Zürich.

In Switserland kan die publiek hul blomme by uitgesoekte blomplase pluk. Ek het die foto in Forch geneem, stapafstand van ons huis af. Charl het my bederf en vir ons huweliksherdenking kon ek my gunsteling tulpe kies.

Canola

Gedurende April begin die Canola-lande die wêreld goudgeel inkleur. Die reuk van Canola hang in die lug. Ons ry graag met ons fietse tussen hierdie Canola-lande. Hulle beoefen wisselbou en aan die begin van die seisoen sien ek nuuskierig om te sien watter areas geel gaan word.

Wisteria en Irisse in Belvoir Park

Vroeg in Mei begin die Wisteria blom. Ek sien dit in mense se tuine, maar die mooiste voorbeeld is in Belvoir Park, waar daar koepels is waarteen hulle oprank. Hulle kom in wit en pers voor.

Middel Mei begin die mooiste iris variëteite en kleurkombinasies in Belvoir Park blom.

Rhododendrons

Gedurende Mei blom die Rhododendrons.  Dit is groot struikagtige plante en familie van die kleiner Azalia plante. So 30 minute buite Zürich is die Seleger Moor Park waar baie van hulle groei.  Ek het verlede jaar die park besoek en dit was verseker die moeite werd want ek kon Peonies in blom ook te siene kry.

Gedurende lente is daar `n vrolikheid in die lug. Ek hoop jy het die vreugde van lente in Zürich deur my lens geniet.

Groete

Emsia

Comments are closed.