As die bekende vir ewig verander

As die bekende vir ewig verander

Tydens sekere lewensgebeure verander die bekende vir altyd. ‘n Hele Oekraïne nasie beleef oorlog. Gevolglik moet ontwrigte en bang vlugtelinge na Europese lande vlug. Hulle moet aansoek doen vir verblyfpermitte in vreemde tale en staatmaak op vrygewigheid vir hul basiese behoeftes, soos verblyf, kos en werksgeleenthede.

Vlugtelinge uit Oekraïne wat in Switserland aankom

My hart gaan uit na hierdie vlugtelinge as ek van hul trauma lees. Dit is so vernietigend en onregverdig. Daar is soveel verlies op baie maniere. Elke dag kom treine vol getraumatiseerde mense by Zürich se treinstasie aan.

Dit is hartverblydend om te sien hoeveel mense in Switserland probeer om die vlugtelinge te help en te ondersteun. Mense maak toebroodjies sodat die vlugtelinge iets het om te eet wanneer hulle van die treine afklim. Punte bestaan waar mense kos, klere en items kan inhandig vir persoonlike sorg vir verspreiding.

Plaaslike owerhede soek verblyf en kommunikeer beskikbare plekke op vlugtelingwebwerwe. Switserse inwoners skenk meubels, huishoudelike items en beskikbare tyd om leefruimtes in te rig.

Traumatiese en lewensveranderende gebeure

Baie mense vir wie ek omgee, gaan tans deur traumatiese en lewensveranderende gebeure. Vir elkeen van hulle is dit egter iets anders. Die onverwagsheid, impak en onsekerheid is die gemene delers. Dit dwing hulle om weer na hul toekomsdrome te kyk.

Hierdie oomblikke, wanneer die bekende vir altyd verander, gebeur met ons almal. Dit kom gewoonlik op die minste verwagte tyd, en op ‘n verrassende manier. Soms tref die vrees vir so ‘n oomblik my twee-uur in die nag. Die mees ontstellende situasies speel in my gedagtes af asof dit ‘n gebeurlikheidsplan-oefening is wat my moet help om meer voorbereid te wees. Dit steel egter net my rus, vrede en vreugde.

Ek voel kwesbaar hier in ‘n vreemde land vêr van my seuns, familie en vriende. Dit was veral vir my erg gedurende Covid vlugbeperkings.

Waarhede wat my help in tye van vrees en angs

Ek moes ernstig aan myself werk en het vir my ʼn paar waarhede neergeskryf waaraan ek kan vashou in tye wat vrees en angs my beetpak.

Lewensveranderende gebeure is deel van die lewe.

Ons kan nie vir hierdie gebeure voorberei nie, want die aard en tydsberekening is gewoonlik onverwags. Die lewe is in balans. Soms ervaar ons vreugde, maar ander kere gaan ons deur pynlike groei en ontwrigting.

Ek het ‘n Skepper met ‘n groter plan vir my lewe.

As ek terugkyk op my lewe, kan ek die bewyse hiervan sien. In verwarrende en onsekere tye het ek intens die nabyheid van my Skepper ervaar. My intuïsie was sterk, en mense en geleenthede uit vreemde oorde het my pad gekruis. Ek het baie liefde en omgee ervaar.

Die regte mense kom op die regte tyd oor ons pad.

Hulle kom met die nodige kennis, hulp, raad of deernis wat ons nodig het. Hierdie mense gehoorsaam hulle bevel en tree op wanneer dit tyd is. Almal van ons vorm deel van ‘n groter geheel. Ons moet ons kennis deel en met liefde help. Dit is egter belangrik om ook die hulp van ander met liefde te ontvang.

Ons het meer moed, deursettingsvermoë en probleemoplossings vaardighede as wat ons besef.

Wanneer ek nadink oor my en my hartsmense se krisistye, is ek net verstom. Krisistye laat ons toe om onderontwikkelde aspekte van onsself te ontdek.

Ek kies my fokus.

Vrees en angs oor al die wat-as-vrae beroof my van energie, vrede en vreugde. Ek het beheer oor my denke en moet kies waar ek dit fokus. My gedagtes het ‘n impak op my emosies en my optrede. My verstand is soms soos ‘n wegholperd wat ek sukkel om in toom te hou, en ek moet daaraan werk om my gedagtes te fokus.

Ek moet deernis vir myself hê.

Op die ou end het ek ook geleer om deernis vir myself te hê. Vrees en angs is menslike emosies.

Groete

Emsia

2 thoughts on “As die bekende vir ewig verander

  1. Ek hou daarvan. Ons almal ervaar sulke veranderinge

    1. Dankie Maryna. Dis waar en altyd deel van die groter plan, al is dit soms aanvanklik moeilik om die rede te verstaan

Comments are closed.

Comments are closed.