Span SA vier kulturele diversiteit

Span SA vier kulturele diversiteit

By die Inter-Community-School Zürich (ICSZ) vorm ons deel van ʼn gemeenskap bestaande uit families van 55 lande.  Tydens ʼn Internasionale Fees kon ons meer van ander lande se kos, kleredrag en kultuur leer.  Die vrae was “Watter aspekte van ons Suid Afrikaanse kos en kultuur deel ons met die ander? Waar en hoe kry ons die regte produkte?”

ICS Zürich Internasionale Fees

Die fees is afgeskop met ʼn parade. Ek het my verwonder aan die verskillende vlae en tradisionele klere. Na die parade was dit tyd om verskillende geregte van reg oor die wêreld proe. Soos wat jy by die stalletjies verby gestap het, het die lekkerste geure en gesellige moedertaal gesprekke  ‘n opgewekte atmosfeer geskep. Daar was speletjies en aktiwiteite vir die kinders en leerders met musiektalent het vermaak verskaf.

Ontmoet ander Suid Afrikaners

Ons is bewus van vier Suid Afrikaanse families en ʼn paar SA onderwysers by die skool.  Einde 2021 het ons as SA ma’s vir die eerste maal begin met ons gereelde ontmoetings. Die internasionale fees was ʼn wonderlike geleentheid om saam te werk aan iets wat ons almal na aan die hart lê. Ons kon ook die ander lede van die SA gesinne te ontmoet. 

Ons het tydens die fees nog twee ander Suid Afrikaanse families “ontdek” en uitgenooi om by ons groep in te skakel.

Span Suid Afrika

Aangesien niemand van ons voorheen deel was van ʼn SA stalletjie nie, het ons beplan om dit eers eenvoudig te hou met boerewors rolletjies, vanilla kolwyntjies en Suid Afrikaanse lekkers. Gelukkig kon Karin die nodige lekkers, blatjang en versierings tydens hulle SA besoek in April aanskaf. Melanie was bewus van ʼn Switserse slagter wat vir ons regte Suid Afrikaanse boerewors kon maak. Ek het, geïnspireer deur Jacques se Cinnamon Club, kolwyntjies gebak.

Ons stalletjie was tussen Italië en Australië se stalletjie geleë. Dit was mooi versier met vlae, Afrika diere van hout en proteas uit draad. Ons kolwyntjies en lekkers het die kinders gelok en heelwat mense het ons boerewors rolle probeer. Dit was eintlik die Mrs Balls blatjang wat die aandag getrek het. Charl was ons braaier en die kinders was uitstekend met die verkope. 

Ons kon net glimlag vir hulle bemarkings- en onderhandelingstegnieke.

Taaltameletjie

By Zander se skool is Engels eerste taal en almal moet ook Duits leer praat as ʼn tweede taal. Baie kinders praat, net soos Zander, ander tale by die huis.  In grade 6 tot 8, moet hulle ook nog Frans of Spaans as ʼn derde taal neem. Ek het in ʼn vorige brief meer gedeel oor my eie taaltameletjies.

Zander neem Spaans. Hulle moes onlangs ʼn Spaanse kookprogram aanbied en ‘n video daarvan maak vir ‘n assessering.  Hy en sy spanmaat van Indië het besluit om Spaanse suurlemoen kolwyntjies met die naam Magdalenas te bak. Ek was dankbaar dat my rol agter die kamera was!

Hulle het begin deur die bestanddele in Spaans te lys. Dit was half komies toe ek die items se name in Duits, Frans en Italiaans op die verpakking oplet. Sonder vorige bak ervaring het hulle sukkelend in Spaans probeer verduidelik wat gedoen moet word, terwyl hulle ook sukkelend probeer demonstreer hoe dit gedoen word. Ek het van agter die kamera probeer raad gee en partymaal Afrikaans toe oorgeslaan as ek nie vinnig genoeg die Engelse woorde kon vind nie. Die arme Indiese kind! Lag was ons beste gemeenskaplike taal.

My lesse oor diversiteit

As ouer by ‘n internasionale skool het ek geleer dat ‘n gemeenskap uit verskeie kulture kan bestaan. Vir ‘n gesonde en florerende diverse gemeenskap is wedersydse respek en gewilligheid om verskille te aanvaar van kritieke belang. Samewerking is die sleutel. Om mekaar te verstaan is soms ‘n uitdaging. Jy moet egter leer om geduldig te wees en deernis vir jouself en ander te hê!

Groete

Emsia

2 thoughts on “Span SA vier kulturele diversiteit

  1. Ag Emsia, hoe spesiaal is dit! Julle leef ons tradisies uit maar is ook oop vir nuwe ondervindinge. Xx

Comments are closed.

Comments are closed.