Ek is ‘n produk van my besluite

Ek is ‘n produk van my besluite

Ons moet almal ‘n paar belangrike besluite tydens ons lewens neem. Hierdie besluite het ‘n wesenlike impak op ons, maar raak ook die mense na aan ons. Die implikasies van hierdie besluite kan jare of selfs dekades duur. Gevolglik is dit soms stresvol om groot besluite te neem en verg baie moed.

Die jare direk na skool

Jong volwassenes moet besluit hoe om hul kosbare jare direk na skool deur te bring. Hierdie tyd is van kardinale belang om hulself vir die res van hul lewens voor te berei. Hierdie besluit het ‘n impak op die kennis wat hulle verkry, die vaardighede wat hulle ontwikkel en die mense wat hulle ontmoet.

Sommige jong volwassenes het sekerheid oor wat hulle wil doen en werk volgens ‘n plan. Hulle het duidelikheid oor die hoekom, wat en hoe-vrae. Ander is egter onseker hoe hulle hierdie kritieke jare wil deurbring. Hul aanvanklike planne werk soms nie uit nie of dit verskil baie van hul ouers se sienings. Dit kan ‘n baie stresvolle tydperk vir jong volwassenes en hul ouers wees. In my brief getiteld, verlaat die nes, deel ek meer oor my ervaring as ‘n ouer.

Verhoudings

Almal neem besluite oor verhoudings. Ander mense se impak op jou is beduidend, en jy moet dus besluit wie jy in jou binnekring toelaat en waar jou grense lê. Dit raak uitdagend wanneer jy besef dit is tyd om ‘n hegte verhouding te beëindig. Dit gebeur gewoonlik omdat die verhouding nie meer konstruktief is nie en langtermyn doelwitte en waardes nie meer in lyn is nie. Hierdie besluite veroorsaak groot konflik, verlies en hartseer.

Loopbaan

In ‘n vinnig veranderende wêreld is dit die uitsondering as mense se aard van werk of werkplek dieselfde tydens hul loopbane bly. Loopbaanbesluite beïnvloed jou finansiële beplanning en persoonlike groei. Dit beïnvloed ook die vlak van vervulling en gemoedsrus wat jy ervaar. Soms het jy nie beheer oor loopbaanbesluite nie. Besighede sluit, afleggings vind plaas of aanstellingskriteria verander om diversiteit en inklusiwiteit te bevorder. In hierdie situasies het jy slegs beheer oor jou reaksies en optrede.

Verhuising

Loopbaanbesluite, verhoudings of lewensfases lei gewoonlik tot verhuisingsbesluite. Dit veroorsaak gewoonlik baie veranderinge en aanpassings. In my brief getiteld, groot, moeilike besluite, deel ek meer oor die besluit en die impak van ons skuif van Suid Afrika na Switserland.

Lesse geleer uit my eie lewensbesluite

Ons het selde sekerheid oor wat die regte besluit in elke situasie is. Ons gee ‘n stap in geloof en gee ons beste. Baie van my lewens besluite het nie uitgewerk soos ek beplan het nie. Ek het uiteindelik ‘n loopbaan gehad wat baie anders was as wat ek studeer het, en my eerste huwelik het in ‘n egskeiding geëindig. Ek is egter oneindig dankbaar vir die lewenservaring en persoonlike groei wat uit die besluite voortgespruit het. Hulle het bygedra tot ‘n kleurvolle reis.

Ek het ook deur die jare geleer dat die gebrek aan ‘n lewensbesluit wanneer dit nodig is, baie vrede kan steel.  Moed is ook ʼn besluit.

Oorwegings tydens lewensveranderende besluite

Ons neem dikwels groot, moeilike besluite op grond van ʼn “gut feeling”. Dit is egter nodig dat jy vir jouself evalueer hoe die besluit:

  • Jou visie, lewensdoel en langtermyndoelwitte beïnvloed;
  • Verskillende aspekte van jou lewe affekteer om te voorkom dat jy so gefokus is op een aspek en in die proses nalaat om te dink oor die impak op alle ander aspekte; en
  • Jou persoonlike waardes ondersteun. Persoonlike waardes is die dinge wat vir ons belangrik is en ʼn groot impak het op ons lewensgeluk, trots en persoonlike vervulling.

Niemand kan jou lewensveranderende besluite namens jou neem nie.  Jy is egter welkom om my te kontak as jy die hulp van ʼn onafhanklike coach nodig het jou te help om by jou antwoord uit te kom.

Groete

Emsia

Comments are closed.