Browsed by
Category: Woordkrag

Verkies jy gedrukte of elektroniese boeke?

Verkies jy gedrukte of elektroniese boeke?

Met ons verhuising na Switserland moes ons al ons besittings verminder. Die moeilikste vir my was om van my boeke afskeid te neem. Ons studeerkamer se een muur het uit ‘n rak vol boeke bestaan wat verskeie tydperke en ervaringe in my lewe weerspieël het. ‘n Buitestaander sou maklik insig in my lewensverhaal uit die titels van my boeke kon verkry. Ek het die boeke naaste aan my hart in een boks gepak. Die res van my boeke moes nuwe huise kry. Ek het hulle weggegee, met die hoop dat hulle vreugde, insig of wysheid aan hul nuwe eienaars sou bring.

My skuif van gedrukte na elektroniese boeke

Ons verandering in omgewing, het my geïnspireer om my leesgewoontes te verander. Met ‘n skaarsheid aan Engelse titels in plaaslike boekwinkels, hul hoë pryse en beperkte stoorplek in ons woonstel, het ek ‘n pragmatiese werklikheid in die gesig gestaar. Boonop het ons verhuising my aangemoedig om bewustelik vir minder besittings en ‘n meer respekvolle benadering tot verbruik te kies. Verandering is egter nie maklik nie. Ek hou van die gevoel en reuk van ‘n gedrukte boek. Die skrif was egter aan die muur en die oorgang na elektroniese formate was onvermydelik. Charl lees al jare lank sy boeke op sy Kindle e-Boek leser. Dit het as verdere motivering gedien om die verskuiwing te doen.

Ek het begin deur die Kindle-toepassing op my iPad af te laai. Die e-Boeke wat ek op Amazon aangekoop het, het outomaties met my iPad gesinkroniseer, gereed om te lees. Ek lees dikwels tydens treinritte of terwyl ek wag, maar om die iPad oral rond te dra het omslagtig geword. Ek het dus besluit om eerder die Kindle-toepassing op my foon te installeer. Aangesien ek altyd my foon het, waardeer ek die gerief en die opsie om die teks te vergroot namate my sig geleidelik met ouderdom verswak.

Voordele van elektroniese boeke

Behalwe vir die gerief om toegang tot al my boeke op een plek op my foon te hê, het ek sedertdien ander voordele ontdek om my boeke in elektroniese formaat te lees.

Ingeboude woordeboeke

Die Kindle-toepassing bied toegang tot veelvuldige woordeboeke, wat my in staat stel om die betekenis van onbekende woorde na te slaan en my woordeskat te verryk. Toe ons na Switserland verhuis het, het dit noodsaaklik geword om Duits te leer. Ek het Duitse kinderstorieboeke gevind en die elektroniese woordeboek gebruik om nuwe woorde moeiteloos te leer. Hierdie Duitse boekies was gerieflik gratis op Amazon.de beskikbaar.

Studie of navorsing

Ons moes handboeke koop vir ‘n aanlyn kursus wat in Suid-Afrika aangebied word. Dit was logisties uitdagend om die gedrukte boek te bekom, maar Amazon het ‘n e-Boek oplossing teen ‘n kwart van die prys aangebied. Ek het ook die Kindle-toepassing op my rekenaar gelaai om die boek te lees. Die toepassingsfunksie laat my toe om sekere aspekte van die boek in verskillende kleure uit te lig en aantekeninge te maak. Ek het toegang tot die boek en my notas op my rekenaar en foon tydens die aanlynklasse.

Bekostigbaar

Die Kindle-weergawes van talle boeke is baie meer bekostigbaar as hul gedrukte eweknieë, met ouer titels wat dikwels gratis aangebied word. My voorliefde vir die Netflix-reeks, “Anne with an E“, het my byvoorbeeld daartoe gelei om die ooreenstemmende boeke te koop. Tot my vreugde kon ek al Lucy Maud Montgomery se Anne-boeke gratis op my Kindle op my selfoon aflaai.

Baie skrywers maak die eerste boek in ‘n reeks gratis beskikbaar, wat lesers in staat stel om ander boeke aan te skaf as hulle die aanvanklike ervaring geniet het. Ek het op ‘n paar merkwaardige skrywers afgekom deur hierdie komplimentêre aanbiedinge. Sodra jy ‘n skrywer gevind het wie se werk jy geniet, laat Amazon jou toe om jou belangstelling in die skrywers se werk aan te dui en inligting oor nuwe vrystellings van daardie skrywer te ontvang.

Toegang tot ‘n groter verskeidenheid boeke

Amazon en ander eBoek verskaffers bied toegang tot ‘n reuse verskeidenheid van boeke.  As jy in ‘n sekere onderwerp belangstel, kan jy soekenjins gebruik om beskikbare boeke te vind en meer inligting daaroor in te win. Jy het gewoonlik ook die opsie om die eerste paar bladsye van die boek te kan lees om om jou belangstelling te peil voordat jy dit koop.

In ‘n globale wêreld is daar groter toegang tot elektroniese boeke. Ek hou daarvan om boeke in my moedertaal te lees en ondersteun graag Afrikaanse skrywers.  In die buiteland maak elektroniese boeke dit vir my moontlik om in Switserland Afrikaanse boeke te lees.

Familielede kan boeke deel

Om Zander se Afrikaans in stand te hou, het ek hom aangemoedig om ouderdomsgeskikte boeke in Afrikaans te lees. Ek kon sulke boeke op Amazon koop en met hom deel deur middel van die Amazon Household-opsie.

Die Amazon Household maak dit moontlik om digitale inhoud met gesinslede te deel sodra hulle by die rekening gevoeg word. Jy kan twee volwasse Amazon-rekeninge koppel om e-Boeke, oudioboeke, toepassings en speletjies te deel.

Selfpublikasie is makliker

Elektroniese boeke maak dit baie makliker en goedkoper vir aspirant skrywers om hulle boeke te publiseer. Indien ‘n skrywer vir die eerste keer ‘n boek wil publiseer is daar onsekerheid oor hoeveel mense in die boek gaan belangstel en aanvanklik drukkoste is hoog. Platforms soos Amazon bied egter toeganklike en koste-effektiewe selfpublikasie-opsies, wat boeke wêreldwyd geredelik beskikbaar maak.

Ek is besig om selfpublikasie uit te probeer en sal hopelik my eerste kindle boek voor einde Mei 2024 beskikbaar hê. As jy nog nie eBoeke gelees het nie, hoop ek my brief het jou belangstelling geprikkel en jou oortuig om dit ten minste uit te probeer.

Groete

Emsia