Toevoegings tot my Londen herinneringe

Toevoegings tot my Londen herinneringe

Ek het gemengde gevoelens gehad oor Charl se voorstel om Londen gedurende die Kersvakansie te besoek. Daar is soveel plekke wat ek graag vir Zander wil wys. Dit sou egter beteken dat ek die Londen-herinnering boksie wat ek die afgelope 25 jaar baie diep weggebêre het, moes oopmaak. Dit was tyd.

Londen was vir my ʼn groei-tydperk (1995 – 1997)

My twee jaar in Londen in my vroeë twintigs was ‘n tydperk van groei. Hierdie Afrikaanssprekende Kalahari-meisie moes leer om behoorlik Engels te praat en aan te pas by ‘n globale stad met grys en koue weer. Soms het ek onder die SA vlag op Trafalgar square gestaan en bid vir krag vir die dag terwyl die trane oor my wange loop. Ek het vertroosting gevind in die Kiosk-eienaar oorkant die kantoor se “Good morning my, Love.”

Dit is duidelik hoe my Londen-ervaring ‘n voorbereiding vir my lewenspad was. In Londen het ek eers regtig myself en my Skepper leer ken. Ek het geleer dat ons baie meer innerlike krag en deursettingsvermoë het as wat ons dink. Die ervaring het die vlam aangesteek vir my reis, belangstelling in ander kulture en skryf passies. Ek het die noodsaaklikheid geleer om betrokke te raak en oop te wees vir nuwe dinge ten einde in ‘n nuwe omgewing te integreer. Die ervaring het my die geleentheid gebied om in ‘n Londense teater op te tree as deel van ‘n liefdadigheid Pantomime produksie.

Terugkeer na Suid-Afrika (1997)

Ons tydperk in Londen het in September 1997 afgesluit, kort ná Lady Diana se tragiese dood. Vol hoop en drome het ons op die vliegtuig terug na Suid-Afrika geklim. Die aanpassing terug in Suid-Afrika was egter baie meer ingewikkeld as wat ons verwag het. Ons, en baie dinge in Suid-Afrika, het in hierdie twee jaar aansienlik verander. Ons het twee pragtige seuntjies gekry, maar ons huwelik het aansienlike krake begin toon en in 2005 geëindig.

God het my geseën met ‘n nuwe lewensmaat en ‘n derde seun Zander. Zander geniet dit ook om nuwe plekke en kulture te verken, en die vooruitsig van ‘n besoek aan Londen tydens Kersfees en Nuwejaar vieringe in Skotland het hom opgewonde gemaak.

Londen 2022 Kersvakansie

In Switserland kyk ons Britse televisie en die taal, kultuur en humor is gevolglik bekend. Ons het die hele Crown en ander Britse Netflix-reekse soos Outlander gekyk. Brittanje het ‘n aansienlike groot impak en invloed op Suid-Afrika gehad en voel gevolglik soos ‘n familielid.

Ek en Londen het baie verander in die afgelope 25 jaar, maar daar was ‘n bekendheid in ons weersiens. Die somber en koue weer en bekende historiese landmerke het goeie herinneringe gebring. Al die Kersliggies in Oxfordstraat en Covent Garden het vir opwinding gesorg. Ons het ‘n Engelse Scrabble in Hamley se speelgoedwinkel gekoop, waarmee Zander vir my en Charl ore aangesit het.

Ons het ‘n tipiese Britse komedie-teater produksie in die West End beleef en tradisionele vis en skyfies met baie sout, asyn en tamatiesous geëet. Die Winter Wonderland in Hyde Park was ‘n skouspel. Ons het Buckingham-paleis besoek om die Changing of the Guards te sien. Amptenare het dit egter ongelukkig gekanselleer weens die reën. Ons het ook ‘n dag saam met vriende van Charl deurgebring wat ons twintig jaar laas in Suid-Afrika gesien het.

Charl het egter die dag ná Kersfees griepsimptome gehad. Na ernstige oorweging het ons besluit om huis toe te kom. Ek en Zander was siek met griep voor ons vakansie, en ons het verstaan hoe sleg en broos ‘n mens voel. Ons was teleurgesteld om die ABBA-konsert en die Edinburgh Hogmanay te mis, maar het deernis met Charl gehad.

Ons het Britse tradisies saam huis toe gebring

Toe ons by die huis kom, het Zander voorgestel ons maak die High Afternoon Tea Engelse tradisie deel van ons vakansie roetine. Ek het besluit dis tyd dat hy kook- en bak vaardighede aanleer, veral omdat hy permanent honger is. Gevolglik het ons die res van die vakansie spandeer om tee en skons te eet terwyl ons Scrabble gespeel het.

Ek is dankbaar vir die geleentheid wat my genoop het om my Londen-herinnering boksie weer oop te maak en nuwe herinneringe saam met Charl en Zander te bou.

Groete

Emsia

Comments are closed.