`n Skatkis vol verskillende kulture

`n Skatkis vol verskillende kulture

Die Internasionale Fees is een van die jaarlikse hoogtepunte by Zander se ICS skool. Daar is gesinne van 55 lande en tydens die fees werk landgenote saam om ander meer van hul kos, klere, taal en kultuur te leer. Elke land het ‘n stalletjie waar mense tradisionele kos kan sien, koop en proe.

“Sjoe, ek geniet hierdie gevoel van patriotisme!” het Zander in sy Suid Afrikaanse hemp met ‘n glimlag opgemerk. Hy was beslis nie die enigste een nie. In elke stalletjie het mense in hul moedertaal met mekaar gesels, pragtig geklee in tradisionele klere wat hulle verenig het. Soms het hulle net vrolik gedans op hul tradisionele musiek.

Daar was ‘n paar stalletjies wat om verskillende redes my oog gevang het.

Oekraïne

Verlede jaar het die Oekraïne vir die eerste keer ‘n stalletjie by die fees gehad. Die Internasionale Fees was net ‘n paar maande ná die uitbreek van die oorlog. Ek het met deernis verby die Oekraïnse kos stalletjie gestap, want dit het my herinner aan die trauma wat baie gesinne ervaar.

Hulle het hul stalletjie met sonneblomme versier en die vroue het blomkranse op hul koppe gedra wat hulle soos engele laat lyk het. Sonneblomme is Oekraïne se nasionale blom en verskyn in die meeste van hul versierings. Sonneblomolie is ‘n beduidende uitvoerproduk en die Oekraïners het deur hul geskiedenis sonneblomme as ‘n simbool van vrede gebruik.

Nepal

Ons ICS-skool het ‘n spesiale verbintenis met Nepal. In Nepal is skoolopleiding nie verpligtend nie. Daar is ‘n kosskool (SMD) vir kinders van afgeleë Himalaja-dorpies in Katmandu, Nepal. Ons skool het ‘n vennootskap met hierdie skool.

ICS bied beurse aan leerders van Nepal om graad 11 en 12 in Zürich te voltooi en vorm deel van ICS-gesinne se huishoudings gedurende hierdie twee jaar. Tydens ‘n praatjie het ek meer oor die lewe in Nepal geleer en was verstom oor die eenvoud, maar ook die sterk waardes van die mense. Sommige gesinne moet dae lank reis om by die skool uit te kom en die skool kan slegs ‘n beperkte aantal leerders akkommodeer.

Nepal is in ‘n hoë risikogebied vir aardbewings. In 2015 het die aardbewings die SMD-skoolgeboue beskadig en onbruikbaar gemaak. Die ICS-gemeenskap het finansieel tot die skool bygedra om te help met herstelwerk en herbou.

Elke jaar het Nepal ‘n stalletjie by die fees. Vrywilligers staan die Nepal leerders by met voorbereidings en verkope. Nepal se kos is ‘n mengsel van Indiese, Tibettaanse en Chinese kookkuns.

Spanje

Die Spaanse stalletjie was naby ons SA stalletjie. Die reuk van Paella wat deur die Spaanse families in ‘n groot pan voorberei is, het heeldag in die lug gehang. Kliënte kon dit saam met ‘n heerlike glas Sangria geniet.

Ek het die mooiste Spaanse rokke bewonder en dit geniet toe die mammas op Moedersdag vrolik op die musiek in die stalletjie gedans het.

Voordele om van ander kulture te leer

Die geleentheid om in ‘n ander land te woon en ons verbintenis tot die internasionale skool het my anders na kulturele diversiteit laat kyk. Ons het vriende gemaak met mense van ander kulture. Ek hou daarvan om vrae te vra en probeer om meer te leer en te verstaan.

Ek vra graag vir mense wat hulle van hul land van herkoms mis. Boonop wat hulle hier in Switserland geniet, maar ook wat hulle uitdagend vind. My antwoord sou wees dat ons die Switserse kaas en ander tradisies en gebeurtenisse wat hulle vier geniet. Ons sukkel egter soms met al die baie reëls en was al ‘n paar keer onwetend in die moeilikheid.

Kennis help ons om met groter kulturele sensitiwiteit te leef. Ons het spesifieke oortuigings oor wat ons as normaal of abnormaal beskou. Sodra ons blootstelling aan ander kulture kry, leer ons hoe mense van verskillende agtergronde die wêreld beskou. Dit leer ons om meer krities en selfs kreatief te dink.

Wanneer ons meer van ander kulture leer en verstaan, help dit ons om minder veroordelend te wees. Dit leer ons om ons verskille te respekteer en meer verdraagsaam teenoor mekaar te wees. Suid-Afrika is bekend vir sy etniese en kulturele diversiteit en ons het uit ervaring geleer hoe belangrik dit is om meer van ander kulture te leer en te verstaan.

Ek hou van die aanhaling deur John Hume oor diversiteit,

“Difference is the essence of humanity. Difference is an accident of birth and it should therefore never be the source of hatred or conflict. The answer to difference is to respect it. Therein lies a most fundamental principle of peace: respect for diversity.”

Groete

Emsia

Comments are closed.