Italië bewaar sy erfenis vir die toekoms

Italië bewaar sy erfenis vir die toekoms

Ons kan baie van die waardes en prioriteite van beskawings verstaan as ons na hulle argitektuur en kuns kyk.  Na ons besoek aan Milaan, Floraans en Rome, kyk ek met nuwe waardering na die Italianers se pogings om kultuur en erfenis te bewaar.

Milaan, die stad van mode en ontwerp

Milaan staan bekend as die stad van mode en ontwerp.  Die stad het my egter beïndruk met die manier waarop hulle erfenis bewaar maar ook voortdurend vernuwe met toekomsgerigte ontwerpe.

Die Galleria Vittorio Emanuele II, ‘n luukse winkelsentrum, het my asem weggeslaan. Dit is die mooiste en oudste winkelsentrum in Italië, met sy indrukwekkende glaskoepel en handgemaakte detail teen die mure. Dit huisves handelsmerke soos Armani, Prada en Versace, wie se hoofkantore ook in Milaan is.

Ek was mal oor die detail en simmetrie in die argitektuur van die katedraal van Milaan. Net so het die moderne en futuristiese Porta Nuova-gebied my opgewonde gemaak. Daar is onder meer die Bosco Verticale luukse woonstelblokke met bome en plante. Hulle demonstreer dat ‘n gebou ‘n tuiste vir bome, voëls, insekte en mense kan wees.

Hierdie omgewingsvriendelike ontwerpe word hopelik meer in die toekoms gebruik.

Floraans die stad van kuns

Die hoëspoedtrein na Florence teen 300 km/h was nogal ‘n belewenis. Florence word beskou as die geboorteplek van die Renaissance. Die hele stad, met kuns en argitektuur deur kunstenaars soos Leonardo Da Vinci en Michelangelo, het vir my soos ‘n kunswerk gevoel. Ons kuier was gedurende Paasnaweek met massas toeriste, maar almal se opgewondenheid en positiewe energie was welkom.

Die katedraal van Santa Maria del Fiore is indrukwekkend. Dit het kenmerkende Renaissance-argitektoniese kenmerke van simmetrie, koepels, kolomme, pilare en driehoekige fronte wat herhaaldelik gebruik word. Die katedraal se koepel is steeds ‘n ingenieurswonder en het ‘n impak op ander godsdienstige geboue gehad.

Ons het die baie straatkunstenaars in Florence geniet.

Die stad straal kreatiewe energie uit en lok verskillende soorte kunstenaars van regoor die wêreld. Ons besoek aan die sentrale mark in Florence, met sy vele tuisgemaakte, plaaslike en vars produkte, was ‘n hoogtepunt.

Ons het in Floraans ʼn hibriede motor gehuur vir ons besoek aan Tuscany tussen Floraans en Rome. Ek vertel egter meer oor ons Tuscany ervaring in my volgende brief.

Rome, die Ewige stad

In Rome stap jy met eerbied en respek, want antieke Rome het sy ontstaan reeds 753 v.C.  Ons ervaar egter steeds die impak van die Romeinse Ryk in die Westerse kuns, argitektuur, tegnologie, letterkunde, taal en regstelsels.

Sedert my vorige besoek aan Rome in 1995 is vele historiese ontdekkings gemaak. Die area rondom die Colosseum lyk heel anders met baie meer opgrawings. Die Colosseum is die grootste antieke amfiteater wat ooit gebou is en is in 80 n.C. voltooi.  Dit kon 80 000 toeskouers hanteer en dit was gebruik vir gladiatorkompetisies en openbare skouspele.

Die Vatikaan is ʼn onafhanklike staat met sy mooie St. Peter’s Basilica.  Hulle was besig om gereed te maak vir ʼn “Holy Mass” byeenkoms op die Sondag gelei deur Pous Francis.

Die rye was te lank om die Pous se eie kapel, naamlik Sistine Chapel, te besoek. Dit skilderye op die koepel het Michelangelo vyf jaar geneem het om te voltooi.  Vir diegene te ongeduldig is vir lang rye kan ek die Netflix fliek, The Two Popes aanbeveel. Dit is baie insiggewend en bevat mooi beeldmateriaal van die Vatican City en Sistine Chapel.

Bewaring van kultuur en erfenis

Die restourasie en bewaring van die kulturele skatte plaas ʼn groot verantwoordelikheid op die leiers in Rome. 

Die toerisme wat dit meebring skep egter ook werk en inkomste.  Ons toerismebydraes was vir gelato roomys en pizza as aanmoediging vir moeë lywe en seer voete. 

Die Italiaanse besoek was ons manier om ons 15de huweliksherdenking te vier.  Ons is dankbaar ons lewenspaaie het gekruis en vir die voorreg om vele vreemde paaie saam te kan stap.

Cari saluti

Emsia

One thought on “Italië bewaar sy erfenis vir die toekoms

  1. Dankie vir die lekker gesels & beskrywe. Dit bring ‘n vreemde wêreld baie nader.

Comments are closed.

Comments are closed.